Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Naspers: Beleggers lyk taamlik onseker
23 Julie 2021
Naspers gaan steeds die beherende aandeelhouer van Prosus bly. Foto: Getty Images

Naspers* is ’n multinasionale internet-en-mediagroep met ’n gewig van 14% op die JSE saam met sy filiaal Prosus.

Naspers is Afrika se grootste maatskappy volgens markwaarde en die suksesvolste tegnologiebeleggingmaatskappy. Hy lewer dienste in meer as 130 lande, met sy hoofbedrywighede in internetkommunikasie, vermaak, speletjies en e-handel.

Aandeelprysgeskiedenis

Naspers was vroeër die FTSE-JSE-indeks van alle aandele se toppresteerder en het vanaf 2014 ’n lang stygtendens volgehou. Teen 2015 het Naspers 82% oor 12 maande opgelewer en die sielkundige vlak van R2 000 per aandeel bereik.

In 2018 het die aandeelprys met meer as 440% gestyg en was die prys-verdienste-verhouding ’n tamaaie 95. Namate die stygmomentum toegeneem het, het kommer toegeneem dat Naspers oorprys was en beleggers het ongemaklik daarmee gevoel dat Tencent sy hoofaandrywer was.

Dié sentiment het ’n regstelling veroorsaak en in Augustus 2018 het Tencent beleggers verras met sy eerste winsdaling in minstens tien jaar toe ’n Chinese regulatoriese opskorting van speletjiegoedkeurings sy vermoë geknou het om kliënte te faktureer. Dit het tot ’n verlies in markwaarde van meer as $150 miljoen gelei.

Huidige vooruitsigte

Aangesien Naspers-aandele teen ’n groot afslag op die waarde van sy belang in Tencent verhandel het, het die groep Prosus, sy wêreldwye sake-eenheid vir internetbeleggings (waaronder sy belang in Tencent), op Euronext Amsterdam genoteer.

Daarmee het Naspers ook aandeelhouerwaarde ontsluit ná sy ontknoping van MultiChoice Group in Maart 2019 wat na raming $3,5 miljard vir Naspers-aandeelhouers in die sak gebring het. Naspers besit tans 72,5% in Prosus en besit Media24 (Afrika se grootste uitgewersmaatskappy) en Takealot.com (Suid-Afrika se grootste aanlyn kleinhandelaar) ten volle.

Naspers se aandeelpryswaarde het met 30% gedaal nadat hy sy buitelandse internetbates in Amsterdam genoteer het. Prosus het die grootste houer van die belang van 31% in die Chinese tegnologiereus Tencent geword. Tencent se markkapitalisasie is tans gelykstaande met $780 miljard en Naspers s’n sowat $107 miljard (R1 530 miljard) – wat beteken dat Naspers se markgroei nie by Tencent s’n bybly nie en voortdurend teen ’n reuseafslag verhandel ondank sy aandeelterugkope van $5 miljard tussen November verlede jaar en April vanjaar.

Op die grafieke

Naspers se aandeelprys het na die steuntendenslyn van sy langtermyn-stygtendens gedaal toe hy Prosus in 2019 genoteer het. Hy het verlede jaar sy verliese verhaal nadat hy by dié tendenslyn omgeswaai en ’n algehele hoogtepunt by 388 800c per aandeel gevorm het. Sedert dié hoogtepunt vorm Naspers se aandeelprys egter dalende hoogtepunte en verloor vinnig veld.

Die goedgekeurde aandeelruilskema tussen Naspers en Prosus om aan sy afslagprobleem aandag te gee en dit te verklein, kan die rede vir die huidige terugsakking wees. Prosus bied aan om 45,5% van Naspers N-aandele deur ’n aandeelruiling in ’n verhouding van 2,27 Prosus-aandele vir elke Naspers N-aandeel te verkry.

Dit verhoog Prosus se algehele belang in Naspers, sy moedermaatskappy, tot 49,5% en verhoog ook Prosus se vrye swewing (’n maatskappy se uitgereikte aandele wat nie beperk is nie en vry verhandelbaar is) in verhouding. Dit sal verdere waarde vir sowel Naspers- as Prosus-aandeelhouers ontsluit en die afslag verminder.

Dit lyk of die kwessie hier is dat Naspers sukkel om sy afslagwaarde teen Tencent te verminder en sy notering van Prosus in 2019 het in dié proses twee maatskappye met afslag eerder as een geskep.

Wat om te verwag:

Naspers se aandeelprys het onlangs deur sleutelsteun gebreek en as dié daling voortduur, kan hy weer sy laagtepunt van Maart 2020 toets.

Hoe om hom te verhandel:

Kort posisie: Naspers se aandeelprys bly sedert Mei verlede jaar stewig bo 278 825c. Hy het nou deur dié vlak gebreek en sy drieweekse indeks van relatiewe sterkte (3W IRS) bly negatief – ’n verkoopsteken is gegee.

Aangesien Naspers se aandeelprys egter verlede week gedaal het, kan dit probeer om dié gaping te sluit deur op kort termyn tot 321 800c te herstel. As weerstand daar ondervind word, kan dit egter weer tot ’n terugsakking deur die verkoopvlak van 278 825c lei.

In dié geval kan steun by 256 795c weer getoets word en as hy daardeur breek, kan verdere dalings na óf die belangrikste steuntendenslyn óf 200 015c volg.

Lang posisie: ’n Ommeswaai bo 321 800c kan kopers lok en ’n styging tot 349 945c sal dalk volg.

Naspers sal effektief ’n nuwe stygfase na nuwe hoogtepunte begin sodra hy deur sy algehele hoogtepunt van 388 800c gebreek het. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Moxima Gama is ’n onafhanklike aandelemarkontleder by The Money Hub.

* finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Finweek  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.