Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Natuurlik moet jy in die buiteland belê, maar...
18 April 2019

Om jou geld buite jou land se grense te belê bied portefeuljediversifisering en – as dit reg gedoen word – moontlik groter opbrengs as ’n portefeulje met min buitelandse blootstelling.

Die vooruitsigte vir internasionale ekonomiese groei vir vanjaar is nie juis rooskleurig nie. Die moontlikheid dat groei tot onder 3% sal verlangsaam, is ’n werklikheid, wat beteken dat ons na ’n internasionale resessie op pad is.

Volgens die Wêreldbank sal die groei na verwagting van die hersiene 3% vir verlede jaar tot 2,9% vanjaar afneem. Die internasionale handel- en vervaardigingsaktiwiteit het verswak; handelspanning bly hoog; en sommige groot ontluikende markte ondervind beduidende druk op finansiële markte.

Neil Shearing, hoofgroepekonoom van Capital Economics, sê terwyl groei van minder as 3% dalk nie erg klink nie, moet ’n mens die Internasionale Monetêre Fonds se vorige verklaring in gedagte hou dat ’n syfer onder 3% ’n internasionale resessie verteenwoordig.

Groei-afname

Daar is min rede om optimisties te wees, want baie van die redes vir die groei-afname duur nog sterk voort: Brittanje het nog nie aan die Europese Unie onttrek nie, die handelspanning tussen Amerika en China duur voort, en landspesifieke kwessies begin na vore tree. ’n Ekonomiese groeikoers van minder as 3% sal ’n “slegter uitkoms” wees as wat die meeste ontleders verwag.

Dit sal waarskynlik ’n kombinasie van swakker aandelemarkte, laer effekteopbrengskoerse en hernude koersverlagings deur die wêreld se groot sentrale banke veroorsaak, sê Shearing. Beleggers het die afgelope dekade daaraan gewoond geraak om hoër as gemiddelde opbrengs met minder wisselvalligheid te behaal.

Radhesen Naidoo, sakeontleder by Allan Gray, sê terwyl verlede jaar in die algemeen ’n teleurstellende jaar vir internasionale markte was, met MSCI se wêreldindeks wat met sowat 9%, die S&P 500 wat met 4% en MSCI se ontluikendemark-indeks wat met 15% gedaal het, kan dit ook geleenthede bied.

Intussen bly die vooruitsigte vir Suid-Afrika se ekonomiese groei swak, met kommer oor die vlakke van lopende skuld, die uitwerking van onbestendige elektrisiteitsvoorsiening en die algemene verkiesing op 8 Mei.

Goeie tyd, slegte tyd, enige tyd

James Newell, beleggingshoof van Maitland Family Office

“As ’n mens al hierdie elemente in ag neem, is dit waarskynlik ’n belangrike tyd om dit te oorweeg om buitelandse blootstelling te kry as jy dit nog nie het nie,” sê James Newell, beleggingshoof van Maitland Family Office.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie dra sowat 1% tot die internasionale bruto binnelandse produk (BBP) by en die maatskappye wat op die JSE genoteer is, is maar ’n breukdeel van wat wêreldwyd beskikbaar is, veral as mens maatskappye soos Naspers* en Richemont buite rekening laat.

’n Primêre rede om in die buiteland te belê is natuurlik om portefeuljediversifisering te behaal. En daarvoor is daar nie werklik ’n “slegte tyd” vir internasionale blootstelling nie, al kan daar in spesifieke tye beter geleenthede wees, sê Newell.

Paul Hutchinson, verkoopsbestuurder van Investec Asset Management, sê Suid-Afrika bly ’n ontluikende mark, al is daar “plek-plek eerstewêreldse bedrywe”, soos die bankwese en mynbou, asook ons pad- en hawe-infrastruktuur. “Volgens wêreldstandaarde is ons egter ’n klein ekonomie met ’n taamlik illikiede en wisselvallige aandelemark.

Paul Hutchinson, verkoopsbestuurder van Investec Asset Management

Belegging op internasionale markte bied toegang tot lande, geldeenhede, bateklasse en bedrywe wat nie plaaslik beskikbaar is nie.”

Die regte benadering

Beleggers kan deur plaaslike aandelemakelaars en privaatkliënt-portefeuljebestuurders toegang tot internasionale aandele, beursverhandelde fondse (ETF’s) en ander kollektiewe beleggings kry.

“Daar is ook ’n aantal aandeelverhandelingsplatforms beskikbaar wat dit vir beleggers moontlik maak om aandele en ETF’s op enige van die groot beurse te koop,” sê Chris Potgieter, hoof van Old Mutual Wealth Private Client Securities. Terwyl daar baie effektetrusts in Suid-Afrika is wat buitelandse blootstelling bied, kies al hoe meer bedrewe beleggers om regstreeks te belê in internasionale maatskappye wat in die buiteland genoteer is, sê hy.

Chris Potgieter, hoof van Old Mutual Wealth Private Client Securities

George Herman, beleggingshoof van Citadel, sê ’n basiese metode om internasionale blootstelling te kry, is om aandele te koop in maatskappye wat op die JSE genoteer is en wat ’n groot deel van hul inkomste uit buitelandse bronne kry, of maatskappye wat dubbelgenoteer is – algemeen bekend as randskansaandele.

’n Regstreekse belegging is moontlik deur die diskresionêre toegelate buitelandse belegging (’n maksimum van R1 miljoen per individu per jaar, insluitend toegelate reisgeld van R200 000) te gebruik, of deur belastingklaring by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te kry vir ’n maksimum van R10 miljoen per individu per jaar.

“Sodra die kontant oorsee is, kan jy dan in ooreenstemming met jou oogmerk in fondse of portefeuljes belê,” sê Herman. Dié geld mag in die buiteland bly. Die gedeelte van jou kapitaal wat in die buiteland belê word, moet deur ’n persoonlike finansiële ontleding bepaal word; nie volgens ’n emosionele besluit wat deur die stemming in die land bepaal word nie.

Hoe bepaal jy jou buitelandse beleggings?

Elke persoon se aanspreeklikheidstruktuur en risikovoorkeure sal bepaal watter deel van hul beleggings in die buiteland moet wees, sê Herman. Newell sê met bateruilings (waar jy kan belê in ’n randgedenomineerde fonds wat sy bateruilkapasiteit gebruik, of as die belegger ’n bateruilrekening by ’n plaaslike verskaffer oopmaak) moet die belegger daarvan bewus wees dat wanneer dié rekening gesluit word, die geld na Suid-Afrika teruggebring moet word.

Naidoo se raad is om ’n “gereelde benadering” tot buitelandse belegging te volg, eerder as om ’n eenmalige beleggingsbesluit te neem of byvoorbeeld te probeer voorspel wat die rand gaan doen.

Beleggers moet bepaal hoeveel van die beleggingsportefeulje hulle in die buiteland wil plaas en wat hulle wil bereik, en moet dan ’n plan opstel om so gereeld moontlik te belê in bates wat versigtig uitgesoek is.

Die blootstelling

Op grond van sy navorsing oor die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding se bestedingsgewoontes aan ingevoerde goedere en dienste, meen Allan Gray dat beleggers 30% tot 50% van hul beleggingsportefeulje in die buiteland moet hou.

Op grond van sy navorsing oor die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding se bestedingsgewoontes aan ingevoerde goedere en dienste, meen Allan Gray dat beleggers 30% tot 50% van hul beleggingsportefeulje in die buiteland moet hou.

Beleggers is gewoonlik in tye van wisselvalligheid en negatiewe markopbrengs geneig om aandele en bates te koop wat hulle gemaklik laat voel, sê Naidoo. Daardeur ignoreer hulle dikwels die verhouding tussen prys en wesenlike waarde. (Lees die artikel oor beleggingsrisiko’s op bladsy 34.) Hy waarsku teen “gewilde beleggingsgeleenthede”.

As ’n belegging gewild is, sal die gewildheid reeds weerspieël word in die prys wat beleggers moet betaal. “Dis ’n goeie idee om met ’n buitelandse bestuurder saam te werk wie se beleggingsbenadering jy kan verstaan en wat namens jou goeie beleggingsgeleenthede sal identifiseer,” sê Naidoo.

Beskikbare geleenthede

Potgieter van Old Mutual meen dat ontluikende markte, onder leiding van China en Indië, nog dekades lank die aandrywers van internasionale groei gaan wees.

“Die belangrikste aandrywer van opbrengs op aandeelbelegging is maatskappyverdienste, en die langtermyn-aandrywer van maatskappyverdienste is ekonomiese groei. Ontluikende markte sal dus ’n beduidende rol daarin speel om internasionale opbrengs op aandeelbelegging aan te dryf.”

Hy sê as langtermyn-kapitaalgroei die oogmerk is – en as aanvaar word dat waardasies gunstig is – kan mens wye sektore, soos inligtingtegnologie, gesondheid- sorg en verbruik, oorweeg.

Binne dié wye sektore is daar subsektore wat aantrekliker of minder aantreklik as die wyer sektor kan wees. Byvoorbeeld, binne verbruik is daar stapel- en diskresionêre produkte. Binne diskresionêre verbruik sal daar weer subsektore, soos luukse goedere, wees. “Verbruikers in ontluikende markte verteenwoordig ’n aantreklike mark op lang termyn.

“Die belangrikste aandrywer van opbrengs op aandeelbelegging is maatskappyverdienste, en die langtermyn-aandrywer van maatskappyverdienste is ekonomiese groei. Ontluikende markte sal dus ’n beduidende rol daarin speel om internasionale opbrengs op aandeelbelegging aan te dryf.”

Persoonlike verbruiksbesteding sal waarskynlik in die volgende twee dekades in dié markte aansienlik toeneem – of dit nou vir basiese dinge, soos voedsel, onderwys en gesondheidsorg, of vir die verbruik van mode- en luukse goedere en vermaak- of reiservarings is.” As groei die oogmerk is, beveel hy aan dat sektore soos nutsdienste en bedrywe wat agteruitgaan, soos drukreklame, vermy word.

Newell van Maitland sien tans meer geleenthede in die Amerikaanse mark – nie in grootkapitalisasie- aandele nie, maar eerder in die middelkapitalisasie- sektor, wat uit kleinder ondernemings bestaan.

Hulle verwag wel beleggingsgeleenthede in Europa namate van die probleme in die streek verdwyn. Ontluikende markte bied ondanks die groot risiko ook geleenthede. “Ons beveel aan dat geld oor die algemeen op ’n bateklasgrondslag toegewys word. Ons soek fondsbestuurders waarmee ons gemaklik voel.

Ons sal ’n reeks fondse gebruik wat internasionale blootstelling het en die fondsbestuurder oor die onderliggende bates laat besluit,” sê Newell. Volgens Herman is ontluikende markte aansienlik wisselvalliger as ontwikkelde markte, en Suid-Afrikaanse beleggers moet versigtig oorweeg waar hulle wil belê, want hulle ondervind reeds ontluikendemark-risiko deur hul Suid-Afrikaanse bates.

“Effekte is egter oorwaardeer in ontwikkelde markte weens die talmende gevolge van kwantitatiewe verruiming, asook ’n gebrek aan inflasie. Effekte in Suid-Afrika is billik gewaardeer volgens fundamentele ekonomiese faktore, en bied afgesien van kredietgraderingsrisiko’s baie oortuigende waarde.”

Die regte mengsel

Portefeuljediversifisering is ’n grondliggende konsep in belegging en gaan uiteindelik oor risikobestuur, sê Potgieter. “Terwyl dit baie intuïtief en maklik is om te verstaan – moenie al jou eiers in een mandjie sit nie – is die toepassing daarvan nogal ’n balanseertoertjie. Baie beleggers het te veel konsentrasie (in ’n spesifieke mark, bateklas of sektor), terwyl ander weens oordiversifisering gemiddelde prestasie aanvaar.”

Doeltreffende portefeuljediversifisering sal die wisselvalligheid van ’n portefeulje verminder, want nie alle bateklasse, bedrywe en sektore of geografiese gebiede presteer in ooreenstemming met mekaar nie.

Risiko wat met spesifieke bedrywe, maatskappye en geografiese gebiede verband hou, word daarom deur beleggings in verskillende bedrywe, maatskappye en selfs geografiese gebiede verminder, sê hy.

Die uitwerk- ing van valutaprestasie in buitelandse belegging

Valutarisiko is ’n groot risiko wanneer daar in die buiteland belê word. Paul Hutchinson, verkoopsbestuurder van Investec Asset Management, sê die prestasie van die rand is ’n sleutelaspek wat tot die algehele randopbrengs van ’n buitelandse belegging bydra.

Randverswakking dra by tot die buitelandse belegging se opbrengs in rand, en randappresiasie verminder die algehele opbrengs.

“As alle ander dinge dieselfde is, kan mens volgens die ekonomiese teorie verwag dat ’n geldeenheid sal depresieer in ooreenstemming met die verskil tussen die land se inflasiekoers en dié van sy belangrike handelsvennote,” sê Hutchinson.

“Ons kan daarom verwag dat die rand met verloop van tyd teen dié geldeenhede sal verswak.” (Sien bladsy 22 vir ’n verduideliking van die uitwerking wat inflasie op valutaveranderinge het.) Sedert 1994 het die rand – in aanskuiwende tydperke van vyf jaar – 81% van die tyd teenoor die Amerikaanse dollar verswak en net 19% van die tyd verstewig.

Suid-Afrika se inflasiekoers, wat na aan die boonste grens van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken van tussen 3% en 6% bly, is heelwat hoër as die inflasiekoerse van sy belangrike handelsvennote.

Met hoër brandstof- en elektrisiteitspryse sal dit na verwagting bly styg. Statistieke van Trading Economics toon dat al Suid-Afrika se ander belangrike handelsvennote teen begin vanjaar ’n inflasiekoers onder 2% gehad het.

Volgens WTEx (World’s Top Exports) is China Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, met uitvoerverkope van $8,7 miljard, gevolg deur Duitsland ($7,1 miljard), Amerika ($6,4 miljard), Brittanje ($4,8 miljard) en Japan en Indië (albei op $4,5 miljard). 

Meer oor:  Finweek  |  Buitelandse Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.