Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Nissan se gespierde bakkie
15 Augustus 2019

Nissan se bonkige Navara Stealth – wat binnekort plaaslik vervaardig gaan word – is luuks en rateltaai.

Dubbelkajuitbakkies was voorheen so skaars soos hoendertande, vergeleke met enkelkajuitweergawes. Maar die enkel- en dubbelkajuitbakkies was almal sonder tierlantyntjies, ware werkesels, en hul eienaars was meesal boere en eienaars van klein sake-ondernemings.

Nissan se dubbelkajuitontspanningsbakkie, die Navara Stealth, word tans ingevoer. Dit sal laat in 2020 van die plaaslike produksielyn afrol, saam met die res van die Navara-reeks. Foto’s: Verskaf

Vandag spog bakkies egter met baie meer tierlantyntjies, en hul eienaars dra nou pakke en dasse eerder as velskoene. Die dubbelkajuitbakkie het van gedaante verander en is vandag selfs ’n gesins- en ontspanningsvoertuig. Sy voortgesette gewildheid verseker dat bakkies onder die land se topverkopers tel.

Toe Nissan sy Navara Stealth bekend gestel het, was ek gretig om agter die stuur in te skuif. Dié dubbelkajuit- ontspanningsbakkie – wat tans na Suid-Afrika ingevoer word – sal laat in 2020 van die plaaslike produksielyn afrol, saam met die res van die Navara-reeks (sien sykassie).

Dié premium dubbelkajuit is beskikbaar in 4x2- en 4x4-konfigurasie met óf handrat- óf outomatiese transmissie.

Dié premium dubbelkajuit is beskikbaar in 4x2- en 4x4-konfigurasie met óf handrat- óf outomatiese transmissie. Alle modelle het ’n kragtige 2,3-liter-dubbelturbo-dieselenjin. finweek het gevind daar’s baie om van te hou in die Navara Stealth se tweewiel-aangedrewe, 7-gang- outomatiese bakkie.

Buite aansig

Die Stealth is geskoei op die Nissan Navara se luukse weergawe en spog met talle nuwe ontwerpe – al was hulle meesal kosmeties van aard – wat dié dubbelkajuit selfs taaier en meer eiesoortig laat lyk.

Daar’s baie min chroom-afwerking in die macho-bakkie. Swart beslag is aan die orde van die dag en kom voor op die sierrooster, rolstaaf, dakrelings, antennas, allooiwiele en modderklappe. Hy spog met misligte, LED-kopligte en dagryligte voor.

Bonkige wielnisse, ’n drukvin agter en hope oranje insetsels aan die voorste stamper, syspieëls en sytrap dra alles tot ’n besonder aantreklike bakkie by.

Dubbelkajuitgerief

Oranje insetsels kom ook in die kajuit voor, en die Stealth het besonder gerieflike en postuursitplekke met swart leersysteune met oranje stikwerk en oranje-en-swart materiaalinlegsels. Die taai vierdeurpad- en veldryer is ruim en kan vyf volwassenes gerieflik met hope been- en kopruimte inpas.

Die kajuit is netjies en goed saamgestel met eenvoudige intrumente en skakeltuig, duursame plastiekafwerking en chroomkenmerke. Daar is ook leer aan die stuurwiel, die rathefboom en handrem. Geen luukse voertuig is volmaak sonder ’n groot hoeveelheid inligtingsvermaak-aanbiedings nie, en die Stealth stel nie teleur nie.

Standaardtoestelle sluit in ’n kleurvertoon-raakskerm, navigasie, CD-speler en radio met ses luidsprekers, USB-konnektiwiteit en Bluetooth-handvrye foonstelsel, spoedbeheer, bestuurshulpvertoon en ’n truspieël met elektriese skitterwering en ’n kompas.

Ook standaard is afstandsbeheerde sleutellose toegang, elektriese vensters, verhitte sitplekke (werk wonderlik), verstelbare kantelstuurwiel en ’n skuifvenster agter wat met die druk van ’n knoppie oop en toe maak; net die ding vir ’n vars briesie.

Bergplekke sluit in ’n houer vir jou sonbril in die oorhoofse konsole. ’n Mens kan omtrent alles in dié bakkie laai. En met ’n remsleepvermoë van 3,5 ton kan jy ook omtrent alles sleep.

Klim maklik in

Die Stealth se sytrap maak dit maklik om in dié hoogloper in te klim en om dan rustig agteroor in die gerieflike sitplekke weg te sak. Ondanks die bakkie se vermoë om soos ’n esel te werk, bied hy ’n gerieflike rit op die pad en in die veld, aangesien sy vering fyn ingestel is om ’n meer gesofistikeerde rit te bied.

Ondanks die feit dat dit gevoel het of hy ’n tikseltjie te min krag het, is die krag van die 2,3-liter-dubbelturbo heel moedig en die ratverwisseling van die 7-gang- outomatiese ratkas moeiteloos. Die Stealth kry volpunte vir sy presiese kragstuur wat ook goeie terugvoering van die pad bied.

Op die pad is die bakkie stewig geanker. Sy agterkant swaai egter effens sywaarts om skerp draaie en op ’n sinkplaatpad . . . maar dis sonder ’n vrag. Ek is egter deur vriende in die bedryf verseker dat hy stewiger klou wanneer hy gelaai is. Die tweewielaandrywing van die Stealth vaar besonder goed oor gebroke terrein.

Dis ’n rateltaai bakkie, tog is hy gerieflik en ’n genot om te bestuur.

Die 18”-bande en onafhanklike dubbelmikvering voor, ’n stabiliseerstaaf voor en vyfskakelkronkelvering agter, absorbeer al die uitdagings wat sinkplaatpaaie, grondpaaie en dongas hom kan bied. Die outomatiese opdraandhulp en afdraandbeheer was ook handig en het die klouvermoë verbeter wanneer steiltes en afdraandes aangedurf is.

En om met dié bonkige hoogloper agteruit te ry, is kinderspeletjies danksy die standaardtrukamera en trusensors. Die Nissan Navara Stealth is ’n lus vir die oë, en hy is funksioneel, veelsydig en loop hoog.

Dis ’n rateltaai bakkie, tog is hy gerieflik en ’n genot om te bestuur. Die talle fieterjasies maak hom boonop heel aantreklik. Suid-Afrikaners hou van hul bakkies, veral luukse dubbelkajuitbakkies soos die Stealth. Die Stealth het formidabele mededingers wat hier gebou word, soos die Toyota Hilux, Ford Ranger en Isuzu D-Max, wat almal in die toenemend groeiende ontspanningsmark meeding. 

GETOETS: Nissan Navara Stealth 4x2 OT

Enjin: 2,3-liter-dubbelturbo-diesel

Krag/Wringkrag: 140 kW/450 Nm

Transmissie: 7-gang- outomatiese transmissie

Loonvrag: 961 kg Sleepvermoë (gerem): 3500 kg

Grondvryhoogte: 229 mm

Brandstoftenk: 80 liter

Brandstofverbruik (na bewering gekombineerd): 7-liter/100 km

CO2-uitlating: 186g/km

Veiligheid: Drywer en voorste passasier – voor- en syslaglugsakke; knielugsak vir bestuurder, gordynlugsakke voor en agter.

Diensplan/Waarborg: 3-jaar/90 000 km-diensplan; 6-jaar/150 000 km-waarborg

Prys: 599 900 (BTW ingesluit)

Nissan belê R3 miljard plaaslik om die Navara te vervaardig

Nissan het in April ’n belegging van R3 miljard in sy Rosslyn- aanleg by Pretoria aangekondig om die Navara plaaslik te vervaardig.

Dié besluit sal na verwagting ongeveer 1 200 werkgeleenthede by Nissan se fabriek in Rosslyn en in die plaaslike voorsieningsketting skep.

Die vervaardiging van die volgende generasie Navara sal na verwagting in 2020 afskop en die aanleg se bestaande produksie met meer as 50% verhoog.

Die Navara se koms sal 30 000 eenhede by Rosslyn se jaarlikse produksie van 35 000 voeg en die noodsaaklikheid vir ’n nuwe, tweede skof by die aanleg skep. Net dit sal lei tot die skep van ’n bykomende 400 werkgeleenthede.

Nissan vervaardig op die oomblik die NP200 en die NP300 plaaslik. Die jongste belegging sal die aanleg se rol as ’n vervaardigingsentrum vir ligte kommersiële voertuie (LKV) vir Nissan uitbrei en Rosslyn se rol as ’n LKV-uitvoersentrum aanvul.

Die Navara is Nissan se topverkoperbakkie wêreldwyd en het talle internasionale toekennings verower, insluitend die Internasionale Bakkie van die Jaar in 2016. 

Meer oor:  Nissan Navara  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.