Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Noord-Kaap hou sleutel om SA se minerale rykdom te ontsluit
22 Oktober 2020

Die gebrek aan eksplorasie vir minerale in die Suid-Afrikaanse mynbousektor strek terug tot by die korporatisering van die sektor meer as 60 jaar gelede, toe Anglo American en sy eweknie, General Mining, tot stand gebring is.

Destyds het mynmaatskappye hul eksplorasiewerk intern hanteer en die onderliggende ondernemings, party daarvan genoteerde maatskappye, moes bestuursgeld aan die moedermaatskappy betaal. Behalwe dat dit ondoeltreffend was, het dit ’n beleggingstradisie geskep wat magtige maatskappye aangemoedig en kleinskaalse entrepreneurs ontmoedig het; ironies, as jy dink hoe Johannesburg self as myndorp ontstaan het.

Errol Smart
Errol Smart, besturende direkteur en uitvoerende hoof van Orion Minerals en voorsitter van die Mineraleraad se leiersforum vir junior and ontluikende mynmaatskappye

Errol Smart, ’n Suid-Afrikaner wat in die mineraalontwikkelingsektor in Australië gewerk het waar die sektor vir mineraaleksplorasie deur ’n uiteenlopende verskeidenheid dinge en mense gekenmerk word, meen die tyd is ryp om die geskiedenis te verander.

Dit sal geleë wees: president Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan smeek behoorlik om die soort energie wat Smart en ander myners sê hulle kan bring, veral na die Noord-Kaap. “Geologies gesproke kan ek vir jou sê, as iemand wat oral ter wêreld terreine bekyk het, die Noord-Kaap is ’n absoluut sappige stuk vleis,” het Smart gesê tydens die Joburg Indaba, ’n mynboukonferensie wat vanjaar virtueel geskied het.

Glen Mc Gavigan
Glen Mc Gavigan, uitvoerende tegniese en projekhoof by Kumba Iron Ore

“Net op ons 3 000 km2 van myn- en eksplorasieregte, het ons 23 hulpbronne wat belangstelling wek. Dit het als van uraan, nikkel en kobalt tot platinumgroepmetale en goud, en al die onedelmetale waaraan jy kan dink. Daar is min plekke ter wêreld waar jy ’n terrein soos dié sal kry.”

Wat nodig is, is politieke sekerheid, ’n vryer regulatoriese omgewing en ’n aanlyn stelsel om mineraalregte te registreer – ’n stelsel wat behoorlik werk en nie die prooi sal word van korrupsie nie, wat volgens bronne in die mynbousektor voorheen hoogty gevier het in die departement van minerale hulpbronne en energie.

As ’n register van mynbougrond gevestig en belastingaansporings spesifiek vir mineraaleksplorasie ingestel word – soos deurvloeiaandele, iets wat Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, tans bekyk – kan dit transformerend wees vir landelike streke, wat investering en indiensneming die nodigste het, sê Smart. Glen Mc Gavigan, uitvoerende tegniese en projekhoof by Kumba Iron Ore, ’n maatskappy wat deur Anglo American beheer word, sê wat prospekteerwerk in die Noord-Kaap betref, is die moontlikhede nog nie naastenby ontgin nie.

“Geologies gesproke kan ek vir jou sê, as iemand wat oral ter wêreld terreine bekyk het, die NoordKaap is ’n absoluut sappige stuk vleis.”

Die gebrek aan eksplorasiewerk in SA die afgelope 20 jaar skep ’n geleentheid om nuwe tegnologie op ou prospekteerplekke toe te pas. Die maatskappy het in Julie die Kapstevel-projek van R7 miljard goedgekeur vir die uitbreiding van Kolomela, ’n mineraalafsetting wat Kumba aanvanklik in die 1950’s ontdek het, sê Mc Gavigan. “Die Noord-Kaap is onder-geëksploreer, selfs die gebied waarin ons werksaam is,” sê hy.

Kumba het ook ander eksplorasieplekke ontdek. “Omdat ons hierdie uitstekende vlak 1-bates gehad het, was dit nooit nodig om verder te soek nie. Maar nou moet ons almal weer soek. Ons het vooropgestelde idees oor die geologie gehad.”

Nuwe tegnologie het meegebring dat Vedanta Resources die Gamsberg-sinkprojek van $400 miljoen naby Aggeneys in die Noord-Kaap ontwikkel, selfs al het opeenvolgende eienaars, eers Gold Fields SA en toe Anglo, jare lank die projek krities ondersoek en oor die hoof gesien. Laxman Shekhawat, sakehoof van Vedanta Zinc International, sê ’n verdere uitbreiding van Gamsberg en ’n nuwe sinksmeltoond – wat sal help om die regering se langdurige droom van ertsveredeling te verwesenlik – word beplan, maar die groen lig vir die uitbreidingsprojek moet wag totdat Transnet sy vervoervermoë opknap. Dit is die ander groot bottelnek wat die land se eksplorasiesektor knel.

Ook Eskom, met sy saamgestelde tariefverhogings van meer as 50% oor drie jaar, gooi ’n skaduwee oor die sektor. “Teen die huidige ontginningskoers sal Gamsberg se ontginning langer as 100 jaar duur. Dit moet versnel word, want tyd is uiters belangrik hierin,” sê Laxman. “Op die langer duur wil ons daarna kyk om ’n spilpunt vir staalvervaardiging in die Noord-Kaap te bou.”

“Ek wil met Laxman gesels oor wat ons saam kan doen met onedelmetale in die streek,” sê Smart. “Ek wil ook met African Rainbow Minerals oor sy smelt- oondtegnologie gesels en met Kumba oor hoe ons kan saamwerk met maatskaplike en arbeidsplanne, en opleiding. “Eksplorasie gaan ’n leidende rol speel. Dit is nie ’n klein verskilletjie nie, maar ’n aardskuddende verskil.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: angloamericankumba.com | orionminerals.com.au

Meer oor:  Mynbou  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.