Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Omnia Holdings: ’n Wonderlike verhaal
10 September 2021

Toe Seelan Gobalsamy in September 2018 as ’n nie-uitvoerende direkteur by Omnia aangesluit het, was dié maatskappy wat chemikalieë en gespesialiseerde dienste en oplossings vir die landbou-, mynbou- en chemiese bedryf lewer, diep in die moeilikheid met sy skuld, en aandeelhouers het vertroue verloor en hul aandele op groot maat verkoop.

Teen 2019 het Omnia se aandeelprys die vorige vyf jaar met met meer as 85% geval. Hoewel Omnia aan die einde van 2017 ’n skerp styging in sy aandeelprys ervaar het nadat hy hoër as verwagte winste en ’n effense styging van sy verkope aangekondig het, het die teenoorgestelde gebeur toe sy resultate vir die hele jaar ses maande later ’n daling in wins getoon het.

Aan die einde van 2018 het sy aandeelprys verder geval toe hy vir die eerste ses maande van die 2019-boekjaar ’n verlies aangekondig het. “Die direksie het begin besef daar is donker wolke op die horison en iets baie belangriks moes gedoen word,” onthou Gobalsamy oor dié tyd. Vroeg in 2019 het die Omnia-direksie gaan sit en ’n paar bestuursveranderings aangebring.

Die maatskappy het ook ’n regte-uitgifte gedoen om ’n groot deel van sy skuld af te betaal. “Die besigheid het in daardie stadium ongeveer R6,3 miljard se skuld gehad en ’n regte-uitgifte van R2 miljard gedoen, wat destyds redelik groot was,” sê hy. “Dit staar baie ondernemings in die gesig, waar hulle baie skuld en ongeveer drie opsies het. Die eerste kan wees om bates te verkoop; tweedens, gaan voort met jou kop in die sand en hoop alles sal regkom, en derde, gaan na die aandeelhouers en sê ons het meer geld nodig – wat ons gedoen het.”

Omnia het die steun van 98% van sy aandeelhouers gekry om die R2 miljard wat hy volgens die maatskappy nodig gehad het, te verkry. Die regte-uitgifte het Omnia se balansstaat in ’n mate gehelp en hul skuld verminder. Met stabiliteit, moes die maatskappy ’n omkeerplan instel. Gobalsamy is as uitvoerende direkteur aangestel om die veranderinge te bestuur, insluitende die inwerkingstelling van die omkeerplan.

Oorgang van finansies

Gobalsamy se agtergrond was in finansiële dienste voordat hy by Omnia aangesluit het. “Ek was die grootste deel van my lewe in versekering en batebestuur by Old Mutual, Liberty en Stanlib.”

Hy sê om as ’n nie-uitvoerende direkteur in hierdie onderneming te kom, was “nie net ’n kultuurskok nie, maar ook ’n inhoudskok, want jy werk met chemikalieë, baie gevaarlike prosesse en groot vervaardigingsaanlegte, wat baie verskil van waarmee jy in die ontasbare omgewing vir finansiële dienste werk.” Nietemin sê hy dat as jy jou beste doen, jou aandag deeglik toepas en hard werk, sukses ongetwyfeld sal volg. Per slot van sake gaan dit nie oor chemikalieë, aanlegte, papier en skryfgoed nie, maar oor mense, sê hy.

“Dit is belangrik dat jy die regte mense het wat die regte dinge doen, die regte leiding kry en die regte dissipline en buigsaamheid in plek stel sodat innovasie en mense tot hul reg kan kom.” Hy voel leiers moet nie bang wees om in verskillende sektore in te gaan nie. “As jy ’n besigheid kan bestuur, is daar baie basiese beginsels wat in ander bedrywe dieselfde is. Ja, daar is nuanses, maar oor die algemeen tog baie ooreenkomste.”

“As jy die regte span, die regte mense, die regte vlak van motivering, van opwinding, van innovasie en van toewyding het – kan jy wondere verrig.”

Moeilike besluite

Om Omnia uit sy finansiële probleme te kry, moes ’n paar moeilike besluite geneem word. Een van die grootste bestuurslesse vir Gobalsamy is dat dit gewoonlik erg is om moeilike besluite te neem. “Direksies, bestuur en leiers sukkel gewoonlik om moeilike besluite te maak. Dit is maklik om die maklike besluite te maak.”

Een van die moeilike besluite vir Gobalsamy was toe die direksie die verskillende moontlikhede bespreek het om óf meer geld te leen, óf om voort te gaan om sy hoë skuld af te werk, bates te verkoop of ’n regte-uitgifte te doen. “Die direksie het ’n baie moeilike besluit geneem om te sê: laat ons ’n regte-uitgifte doen om die probleem op te los en die maatskappy op veilige grond te plaas om voort te gaan. Ek dink dit was ’n enorme les vir my.

“Ons pak dikwels nie die probleem self aan nie, ons los dit nie op nie, ons neem nie regtig die moeilike besluite nie. Ons plaas dit amper opsy en sê dit sal verdwyn, of dit sal verander, of miskien draai dinge in ons guns.”

Gobalsamy beklemtoon hoe belangrik dit is om moeilike besluite vandag te maak en nie ’n dag later nie. “As ons nie die besluite geneem het wat ons voor die pandemie geneem het nie, wie weet waar ons vandag sou gewees het toe likiditeit verminder en die markte stram geraak het.”

Die beloning

Wat gebeur het ná die moeilike besluite gemaak is, is dat die maatskappy kontant gegenereer het. Volgens Gobalsamy het die maatskappy vasgebyt en ’n groot internasionale bate verkoop. Die prys het meer vir hulle beteken as die waarde wat hulle sou kon gegenereer het.

Die groep het sy Oro Agri-besigheid, wat in Mei 2018 verkry is, op 7 Januarie vanjaar vir $146,9 miljoen verkoop, wat meer as R2 miljard se opbrengs is. Verdere ontwikkeling van Oro Agri sou aansienlike tyd van die leierspan vereis het en aansienlike kapitaal om groei te ondersteun. Omnia was ook ’n betreklik passiewe belegger sedert hy Oro Agri in 2018 verkry het, en om sy volle potensiaal moontlik te maak, sou die groep aansienlike ekstra kapitaal in Oro Agri moes belê het om dit volledig in sy bedrywighede te integreer. “Ons het daardie kontant gebruik om skuld te betaal.

Soos op Maart vanjaar het die maatskappy geen skuld nie.” Hy voeg by dat die maatskappy ook ’n dividend ter waarde van R1 miljard kon verklaar – ’n gewone dividend van R2 per aandeel en ’n spesiale dividend van R4. “Dit is goed vir aandeelhouers om oor te gaan van ’n maatskappy met groot skuld na iets veiligs wat goeie vordering kan maak. Die aandeelprys het van R15 tot R50 gestyg, wat goed is. Ons markkapitalisasie het toegeneem tot tussen R8 miljard en R9 miljard, van die R2 miljard waar ons was.”

Omnia kon ook vir die eerste keer ’n breë personeelaandeelskema instel. “Ons kon al ons personeel aandele in die maatskappy gee. Die maatskappy het dit self gefinansier. Ons het nie skuld gemaak nie. Elke personeellid by Omnia is dus nou ’n aandeelhouer. “Ons het ’n wonderlike verhaal om te vertel van ’n ou SA maatskappy wat in 1953 begin het, wat by die landbou en mynbou betrokke is, duisende en duisende mense in diens het; ’n maatskappy wat deur ’n groot krisis gekom het. Ek dink dit is die regte positiewe verhaal om te vertel. Baie lof moet gaan aan al die mense wat by hierdie verandering betrokke was.” Gobalsamy sweer by sy mense: “As jy die regte span, die regte mense, die regte vlak van motivering, van opwinding, van innovasie en van toewyding het – kan jy wondere verrig.”

* terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Shutterstock | Verskaf

Meer oor:  Omnia Holdings  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.