Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Onseker markte en jou pensioengeld
22 Oktober 2020

Wêreldwyd en plaaslik bevind beleggers hulle in ’n ‘droogte’ wat beleggingsopbrengste betref. Dit het in 2008 met die finansiële krisis in ontwikkelde markte begin en na die res van die wêreld oorgespoel. Toe kom Covid-19 en saai verwoesting op die markte. Afgetredenes en dié wat na aan aftrede is, raak met reg benoud. Die finansiëlebeplanningsbedryf se advies bly egter konstant: Moenie korttermynbesluite vir langtermynplanne neem nie.

Deane Moore, uitvoerende hoof van Just

In Suid-Afrika het ’n eiesoortige kombinasie van die markineenstorting weens Covid-19 en die land se kredietafgradering deur graderingsagentskappe vir hoër langtermynrentekoerse op effekte gesorg, sê Deane Moore, uitvoerende hoof van Just, ’n spesialis op die gebied van aftreeinkomste. “Hoër langtermynrentekoerse is goeie nuus vir pensioenarisse, want koerse van lewensannuïteite het beduidend verbeter.

Dit beteken mense wat reeds afgetree het of naby daaraan is, het ’n kans om ’n gewaarborgde lewenslange inkomste te koop teen die goedkoopste vlak in dekades.” Alexander Babich, besturende direkteur by Alexander Babich & Associates en adjunkvoorsitter van die SA Vereniging van Onafhanklike Finansiële Adviseurs (SAIFAA), sê SA het ’n ongelooflike vermoë om van die rand van ’n afgrond af terug te bons.

Alexander Babich, besturende direkteur by Alexander Babich & Associates en adjunkvoorsitter van SAIFAA

Wêreldwyd staan rentekoerse op 0% of na daaraan. In SA kan beleggers ’n vaste koers van 6% op ’n kleinhandelstaatseffek met ’n looptyd van drie jaar kry, of 8% op een van vyf jaar. “Ons meen nie SA raak nou al bankrot nie. Hoewel daar kredietrisiko’s is, meen ons dit bly ’n berekende risiko. Ons reken vaste- inkomstefondse met staatseffekte wat ’n kort looptyd het, is steeds ’n veilige plek.”

Babich het kliënte ook in internasionale franchise-ondernemings en passiewe buitelandse fondse met ’n strategiese toewysing van tussen 30% en 40% belê. “Ons was nie so aggressief oor buitelandse beleggings as wat ander markwaarnemers was nie.”

Aktiewe of passiewe fondse?

Die debat oor aktief - en passief bestuurde fondse het met die skerp toename in nuwe passiewe effektetrusts en beursverhandelde fondse (ETF’s) oor die afgelope dekade feller geword. ’n ETF is ’n beleggingsfonds wat op die aandelebeurs bedrywig is en bates soos aandele, effekte of kommoditeite besit, terwyl ’n indeksfonds ’n onderlinge fonds of ’n ETF is wat saamgestel is om ’n spesifieke bedryf of indeks na te volg.

Daarteenoor het ’n aktief bestuurde fonds ’n beleggingspan wat onder leiding van ’n fondsbestuurder besluit in watter maatskappye om te belê, op grond van verskillende navorsingsmodelle. Volgens Zama Dikana, sakeontwikkelingsbestuurder van kleinhandel en spaar by Old Mutual, het indeksfondse oor ’n lang tyd reeds beter as aktief bestuurde fondse gepresteer, plaaslik sowel as oorsee. Indeksgekoppelde fondse is oor die algemeen goedkoper as aktief bestuurde fondse. Hulle verg minder navorsing, minder verhandelingskoste en het kleiner beleggingspanne.

Zama Dikana, sakeontwikkelingsbestuurder van kleinhandel en spaar by Old Mutual
John Browett, finansiële beplanner by Blue Key en lid van SAIFAA

“Wanneer dit by langtermynbeleggings kom, is dit egter belangrik om indeks- gekoppelde sowel as aktief bestuurde fondse te oorweeg, want dit bied aan die belegger meer diversifikasie,” sê Dikana. John Browett, finansiële beplanner by Blue Key en lid van SAIFAA, sê die drie grootste aktief bestuurde fondse en indeksgebaseerde fondse se opbrengs oor 10 jaar wissel tussen 9,5% per jaar en 10,2% per jaar.

“Die belangrikste is dat tyd die ding is wat saak maak, nie in watter aktiewe fonds of indeksfonds jy belê is nie. Die langtermyntydraam van beleggings en die belastingdoeltreffendheid van aftreespaargeld is die dinge wat beklemtoon moet word, nie ’n spesifieke fonds nie.”

Babich glo dat ’n passiewe fonds deel moet vorm van ’n kernaandeelhouding. Daar is verskeie passiewe indeksfondse, maar merkbare verskille op grond van die kategorie waarin hulle volgens die Vereniging vir Spaar en Belegging in SA (ASISA) se indeling val. “Dit is interessant dat koste dikwels as ’n verkoopspunt genoem word, terwyl beleggers eerder op ’n fonds se strategiese batetoewysing, mandaat en uiteindelik sy prestasie behoort te let,” sê Babich.

Beleggers moet die verskillende prysstrukture van die verskillende fondse in ag neem. In baie gevalle word die duurder fonds wat nie so goed doen nie voorgestoot en het dit die meeste bates, terwyl die kleiner fonds wat goed presteer die minste bates het en die goedkoopste is. “’n Mens moet op en wakker bly en nie bloot die fondse volg wat die grootste lawaai maak nie.

Doen jou huiswerk,” is Babich se raad. Die besluit oor watter persentasie aan passiewe fondse in ’n portefeulje toegewys word, hang af van die individu, hoeveel risiko hulle kan verduur en hul behoeftes. “Dit gesê, ons is gemaklik met minstens 30% en hoogstens 70%,” sê Babich.

Verstaan die risiko

Vivienne McDonald, direkteur by Wealth Planners, sê by die samestelling van ’n passiewe beleggingsportefeulje is die keuses wat beskikbaar is bes moontlik net so oorweldigend as om ’n aktief bestuurde portefeulje saam te stel.

Vivienne McDonald, direkteur by Wealth Planners

Om koste te vergelyk, behoort nooit die enigste oorweging te wees by ’n besluit oor watter fonds om in te belê nie. Dit is uiters belangrik om te begryp wat die inherente risiko in elke fonds is en hoe dit korreleer met ander fondse in jou portefeulje.

Aangesien ’n handjievol aandele die SA aandelemark oorheers, stel ’n passiewe fonds wat dit repliseer die belegger aan beduidende risiko bloot, sou een van dié maatskappye ondergaan. Sy sê beleggers wat hul eie fondse wil uitsoek, sal moontlik die beste daaraan toe wees as hulle ’n passiewe laekosteoplossing kies wat by hul risikoprofiel inpas en dan daarby bly.

“Veral as jy weet jy sal die versoeking nie kan weerstaan om mettertyd na die plaaslike of buitelandse passiewe of aktiewe fonds wat die beste presteer oor te skakel nie, wat na ons mening byna altyd op ’n vernietiging van welvaart uitloop.”

’n Vastebasis-inkomste

Markskommelings maak dat baie beleggers dit oorweeg om in huureiendom te belê ten einde ’n ‘vastebasis-inkomste’ te verseker. Earl van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Allan Gray, sê wanneer beleggers dit oorweeg om eiendom te koop met die doel om dit te verhuur, moet hulle hul wooneiendom by hul portefeulje insluit.

Earl van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Allan Gray

“Reken jy die totale waarde van jou eiendom in, verseker dit jy neem jou volledige risikoblootstelling aan die eiendomsmark in ag, eerder as om net jou huureiendom in te reken.” Die belegger moet die risiko’s en potensiële voordele van huureiendom teen alternatiewe beleggingsbates opweeg, sê hy. Daar is talle effektetrusts wat aan beleggers hoë-inkomsteopbrengste wil lewer en dit word gedoen deur in ’n verskeidenheid van inkomsteskeppende bates te belê, onder meer genoteerde en vaste eiendom.

Browett sê verhuurbare residensiële eiendom is oor die algemeen ’n hoërisiko-, gekonsentreerde bate wat uiters aktiewe bestuur verg. Inkomstesekerheid kan toegankliker wees deur inflasiegekoppelde effekte of lewensannuïteite. Covid-19 het gewys hoe kwesbaar die eiendomsmark is, sê Babich. Hy waarsku teen moontlike stygings in munisipale eiendomsbelasting en diensgelde in die residensiële mark.

“Munisipaliteite is desperaat op soek na inkomste en die laag hangende vrugte sal wees om eiendomsbelasting en diensgelde te verhoog.” Eiendom is nie nou sy voorkeur bateklas. Dikana sê nog ’n manier om in eiendom te belê, is in ’n eiendomseffektetrust. Die belegger hoef hom nie oor instandhouding, die vind van ’n betroubare huurder en hoër munisipale koste te kwel nie.

Die fondsbestuurder doen al die navorsing en belê slegs in genoteerde eiendom. “Dit is belangrik om daarop te let dat genoteerde eiendom die afgelope tyd nie goed gevaar het nie, en beleggers moet ’n langtermyn-beleggingshorison hê as hulle ’n inkomste uit hul eiendomseffektetrust wil onttrek,” sê Dikana.

“Reken jy die totale waarde van jou eiendom in, neem jy jou volledige risikoblootstelling aan die eiendomsmark in ag, eerder as om net jou huureiendom in te reken.”

Die ‘regte’ benadering

Van Zyl sê die plaaslike aandelemark se opbrengste was inderdaad die afgelope vier of vyf jaar teleurstellend. Die verstandige benadering is om vir beskeie reële opbrengste te beplan. Plaas beleggings ook só dat dit reële opbrengste behaal – deur ’n toewysing aan ’n goeie multibatefonds met aandeleblootstelling wat ook in die buiteland kan belê om weg van SA markte af te diversifiseer, sê hy.

Waar beleggers dit kan bekostig, moet hulle hul aftreespaargeld met diskresionêre spaargeld aanvul. “Dit sal makliker toegang tot hul spaargeld toelaat voor aftrede en kan hul diversifikasie verder verbeter as wat in aftreeprodukte alleen behaal kan word,” sê Van Zyl.

Aftrede moet altyd op dieselfde manier benader word, ongeag marktoestande, sê Moore. Die benadering moet fokus op die volhoubaarheid van aftreeinkomste deur die beste moontlike oplossings te gebruik wat in die mark beskikbaar is ten einde lewenslank in finansiële behoeftes te voorsien. Babich se waardevolle raad aan beleggers is om waaksaam te bly wanneer hulle produkte vergelyk van diensagente of adviseurs, wat daarop aanspraak maak dat hulle onafhanklik is. ¦

Covid-19 en aftreegeld

R5,217 triljoen

– Die waarde van bates onder bestuur in SA se spaarbedryf op 30 Junie 2019 (multibestuurde fondse uitgesluit).*

91%

– Die persentasie konsultante van Sanlam wat sê party van hul kliënte het aansoek gedoen om ’n tydelike opskorting van hul pensioenfondsbydraes weens die Covid-19- inperking.**

4 maande

– Die mediaan-tydperk wat Sanlam-kliënte, wat besluit het om hul pensioenfondsbydraes op te skort, verwag die opskorting sal duur, volgens die maatskappy se konsultante.**

R119,3 miljard

– Die bruto invloeie vanuit institusionele pensioen- en voorsorgfondse na die kollektiewe beleggingskemas van ASISA-lede in die drie maande geëindig 30 Junie 2020.***

BRONNE:

* Jaarlikse Alexander Forbes Manager Watch-peiling Desember 2019

** Sanlam se Benchmark 2020-peiling onder konsultante

*** ASISA se tweedekwartaal-fondsvloeidata vir die tydperk geëindig 30 Junie 2020

Lewende annuïteit of lewensannuïteit – jy kan albei hê

’n Gemengde benadering tot aftreespaargeld is nou miskien die beste opsie.

Die annuïteitemark het die afgelope paar jaar só ontwikkel dat dit by aftrede nie meer nodig is om te kies tussen ’n lewende of ’n lewensannuïteit is nie. Deane Moore, uitvoerende hoof van Just, spesialis in aftreeinkomste, sê dis nou moontlik om ’n ‘gemengde’ annuïteit te hê wat ’n kombinasie van ’n lewende en lewensannuïteit bied.

Moore meen ’n lewensannuïteit behoort die ‘sentrale boublok van ’n aftreeplan’ te wees vir voldoende inkomste om noodsaaklike uitgawes te dek. Die res kan aan ’n lewende annuïteit toegewys word wat buigsaamheid bied. “

’n Gemengde annuïteit, wat ’n lewensannuïteit en ’n lewende annuïteit in ’n enkele produk saamvoeg, stel mense in staat om gedeeltes van lewenslange inkomstebeskerming te koop namate hul behoeftes verander.”

Kernbelangrike finansiële doelwitte

Die twee belangrikste finansiële doelwitte in jou aftrede is om jou inkomste teen inflasie te beskerm en te sorg dat jou aftreeinkomste vir die duur van jou en jou gade se leeftyd sal hou. Lewensannuïteite is versekeringsprodukte wat spesifiek ontwerp is om jou teen die risiko van ’n lang lewe te beskerm. Hulle bied ’n mate van gemak en veiligheid deur jou vir die res van jou lewe van ’n gewaarborgde inkomste te voorsien.

Sommige lewensannuïteite bied bykomende beskerming teen beleggingsrisiko en inflasierisiko. Inkomste uit ’n lewende annuïteit kan styg of daal na gelang van markopbrengste en word nie lewenslank gewaarborg nie. Hoewel onttrekkingskoerse ooreenkomstig inkomstebehoeftes aangepas kan word, kan dit slegs een keer per jaar gebeur.

“Die vermoë om onttrekkings aan te pas, veral na ’n tydperk van swak markopbrengste, kan afgetredenes ’n vals gerustheid gee dat die inkomste uit hul lewende annuïteit lewenslank volhoubaar sal wees,” sê Moore.

Inflasie en onttrekkingskoerse

Ansie de Beer, welvaartbestuurder by PSG, sê die tyd wanneer ’n mens ’n lewensannuïteit aanskaf, is sensitief vir die rentekoersomgewing. “Tans is rentekoerse taamlik laag, so ’n mens koop laag in. Die gevaar is dat inflasie skielik kan styg en jy vasgesluit is in ’n gewaarborgde annuïteit waar die opbrengs wat jy verdien dieselfde of selfs laer is as inflasie.”

De Beer sê as afgetredenes ‘nugterdenkend’ uit hul lewende annuïteit onttrek (tussen 2,5% en 4%), kan hulle elke jaar hul kapitaal sien groei. “Die gevaar met ’n lewende annuïteit is egter om meer te onttrek as die potensiële groei op jou kapitaal. Dit sal werklik riskant wees om in die huidige ekonomiese omgewing meer as 4% te onttrek.”

Sy sê voorts die lewende annuïteit se prestasie hang af van die onderliggende bates waarin dit belê. In die huidige omgewing, met die rand wat moontlik in waarde kan afneem, sal dit wys wees om groter buitelandse blootstelling te hê. Sy waarsku egter daarteen om ‘te swaar’ in buitelandse bates belê te wees, aangesien die gevaar altyd bestaan dat die markte in duie kan stort.

Daar is steeds plek vir ‘buffers’ soos ’n klein persentasie kontant, effektetrusts en versigtig gebalanseerde fondse in ’n lewende annuïteit. Blootstelling aan dié ‘konserwatiewer’ beleggings moet egter beperk word. Hoewel lewensannuïteite ’n gewaarborgde inkomste bied vir so lank as wat die polishouer leef, laat dit geen kapitaal aan erfgename na nie. ’n Lewende annuïteit bied nie ’n gewaarborgde kapitaalwaarde om ’n inkomste uit te onttrek nie, maar die kapitaal kan aan erfgename nagelaat word.

Diskresionêre beleggings

John Browett, finansiële beplanner by Blue Key en lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Onafhanklike Finansiële Adviseurs (SAIFAA), sê kliënte wat die helfte van hul aftreekapitaal in verpligte aftreefondse en die helfte in diskresionêre fondse het, is in ’n goeie posisie om hul aftreeinkomste te optimaliseer.

Hy sê hulle raai mense wie se marginale belastingkoers onder 30% is aan om eerder in belastingvrye beleggings en effektetrusts as uitkeerstrukture te belê. “Uitkeerstrukture word effektief teen 30% belas wanneer die polishouer ’n individu is.

Individue met ’n marginale belastingkoers onder 30% kan dus meer belastingdoeltreffend gebruik maak van plaaslike rentekoersvrystellings en ’n jaarlikse kapitaalwinsuitsluiting, tans op R40 000, wanneer hulle regstreeks in effektetrusts belê is.”

Geen belasting is in ’n belastingvrye beleggingstruktuur betaalbaar nie. Dit is meer belastingdoeltreffend om vir afgetredenes inkomste uit óf belastingvrye beleggings of effektetrusts as uit ’n uitkeerproduk te struktureer, sê Browett. Dit is belangrik om mense se ouderdom, gesondheid, finansies, of hulle ’n gade het, en hul wense met erflating in ag te neem wanneer ’n finansiële plan vir aftrede ontwerp word, sê Vivienne McDonald, direkteur by Wealth Planners.

“Ons vind dat baie kliënte se chronologiese ouderdom baie van hul biologiese ouderdom verskil. Jy kan ’n 89-jarige kry met die gesondheid, lewenslus en energie van iemand veel jonger.” Dit sou dan sin maak om ’n gemengde oplossing te gebruik waar jy ’n lewensannuïteit koop om vaste uitgawes te dek terwyl nie-noodsaaklike uitgawes deur ’n lewende annuïteit gedek word.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto: Verskaf, Shutterstock

Meer oor:  Pensioen  |  Finweek  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.