Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Onsekerheid eis tol op plaaslike bankaandele
28 Mei 2021
Foto: Shutterstock

Al het bankaandele sedert Mei 2020 vanaf hul laagste punt in agt jaar met sowat 60% gestyg – sommige ontleders voorspel aandeelpryse kan selfs verder verstewig – lyk die mark nie juis positief oor dié aandele nie.

Hiervoor is daar talle redes, waarvan voortslepende onsekerheid, trae ekonomiese groei en politieke onbestendigheid nie die minste is nie. Plaaslike banke is swaar getref deur die inperkingsmaatreëls wat weens Covid-19 ingestel is, want dit het betalingsvakansies vir skuld en verhoogde voorsiening vir slegte skuld vereis, wat ’n negatiewe invloed op wesensverdienstes gehad het en aandeelpryse wat gevolglik slae gekry het.

Standard Bank, wat totale bates betref die grootste bank in die land is, het verlede jaar byna ’n kwart van sy waarde ingeboet. FirstRand en Absa het met byna 20% teruggesak en Capitec, die derde grootste bank, het gedurende die jaar onder ’n groot afverkoping deurgeloop, maar kon genoegsaam herstel om die jaar te eindig waar hy begin het.

Investec het 38% verloor. Teenoor die ander sektore was die finansiële sektor – onder meer banke, finansiëledienstemaatskappye en versekeringsmaatskappye – die naloper as dit by herstel kom deur met “slegs” 25% te styg vergeleke met hulpbronaandele se styging van 55% en die nywerheidsektor wat 35% bygevoeg het tussen Mei 2020 en April 2021.

In persentasieterme skilder die prys-tot-boek-verhouding en die opbrengs op ekwiteit ’n gemengde waardasieprentjie. Teen Maart 2021 het alle prys-tot- boek-verhoudings met tussen 30% en 60% verbeter teenoor die laagtepunte van Maart en April 2020. Dit bly egter onderkant einde 2019 se vlakke. Opbrengs op ekwiteit het egter byna deur die bank met ruweg 50% afgeneem, met Investec die uitsondering. In die lig van die huidige bedryfsomgewing is dit miskien nie verbasend nie.

Teen Maart 2021 het alle prys-tot-boek-verhoudings met tussen 30% en 60% verbeter teenoor die laagtepunte van Maart en April 2020.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie was al voor die pandemie in ’n resessie. Landwye inperkings het die BBP in 2020 met 7% laat inkrimp, gepaardgaande met rekordhoë werkloosheidsvlakke en lae vlakke van verbruikers- en sakevertroue. Beurtkrag, politieke onbestendigheid, ’n inentingsprogram wat stadiger verloop as wat verwag is en die bedreiging wat ’n derde vlaag Covid-19-infeksies inhou, bly ’n gevaar vir die ekonomie.

Bankspesifieke risiko’s is onder meer die toename in voorsiening vir kredietverswakking – met ander woorde, voorsiening vir slegte skuld wanneer kliënte sukkel om lenings terug te betaal. Tussen 2019 en 2020 het die meeste banke hul voorsiening hiervoor verhoog. Capitec het in ’n koers vyf keer dié van sy eweknieë vir kredietverswakking voorsiening gemaak.

Hoewel Capitec verlede jaar onder sy portuur die hoogste persentasie wanpresterende lenings gehad het (kliënte wat agterstallig was met terugbetalings) bly hy een van die beter gekapitaliseerde banke, met ’n lae koste-tot-inkomste-verhouding. Ofskoon die meeste banke probeer het om voldoende voorsiening te maak, bly dit onseker of hul voorsiening te veel of te min is.

’n Mens sal ook nog moet sien of beleggers dié wat voldoende voorsiening gemaak het, sal beloon deur hul aandeelprys op te stoot wanneer hul voorsieningsyfers uitgereik word. Ander risiko’s wat banke in die gesig staar, is onder meer wesenlike laer begiftigingsuitwerkings en laer vlakke van transaksionele aktiwiteit en kredietskepping.

Mosa Manqindi is ’n portefeuljebestuurdernavorsingsontleder by NFB Asset Management.

Hoewel banke grootliks vir hoër vlakke van kredietverswakking voorsiening gemaak het, was hulle minder gretig om wanpresterende lenings af te skryf. Luidens data van die Reserwebank het die verhouding van skuld tot besteebare inkomste van sowat 72% tot 74% gestyg voordat Covid-19 uitgebreek het, en tydens die pandemie tot 85% opgeskiet. Daarna het dit tot sowat 76% teruggesak. Die koste om dié skuld te delg, het darem danksy verskeie rentekoersverlagings in 2020 van 10% van besteebare inkomste tot 8% afgeneem.

Die laer rentekoerse beteken al het SA verbruikers nou meer skuld, kos dié skuld hul minder as voorheen. Terwyl laer rentekoerse bankkliënte aanspoor om meer te leen, beteken dit ook banke ervaar ’n afname in hul netto rentekoersmarges. Dit wil egter lyk of ons die onderste draaipunt van die rentekoerssiklus bereik het. Sodra rentekoerse verhoog word, sal verbandkoerse herprys word.

Verlede April het die Reserwebank se voorsorgowerheid gesê daar word van banke verwag om nie dividende uit te keer of bonusse aan hul bestuurshoofde te betaal nie, aangesien hulle kapitaalbewaring moet prioritiseer. In Februarie vanjaar het die voorsorgowerheid aan banke die groen lig gegee om weer met omsigtigheid te begin om dividende op gewone aandele te betaal en kontantbonusse aan hul bestuurshoofde te betaal.

Die riglyne sluit ’n lys faktore in waaraan banke oorweging moet skenk voordat hulle afstand van kontant doen, soos die toereikendheid van hul huidige en verwagte kapitaal- en winsgewendheidsvlakke; interne kapitaalteikens en risikoaptyt; en huidige en potensiële risiko’s van die pandemie. Waar Absa en Nedbank gekies het om nie ’n dividend uit te keer nie, het FirstRand wel een verklaar.

In die lig van die talryke risiko’s waarmee banke in ’n makro- ekonomiese omgewing vol uitdagings te kampe het, is die mark se houding teenoor bankaandele seker nie verbasend nie.

Paul Marais is die besturende direkteur van NFB Asset Management.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Paul Marais is die besturende direkteur van NFB Asset Management. Mosa Manqindi is ’n portefeuljebestuurdernavorsingsontleder by NFB Asset Management.


Meer oor:  Finweek  |  Bankaandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.