Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Oorbrugging van (finansierings-) gaping
20 Februarie 2020

Die Suid-Afrikaanse ekonomie maak dit moeilik vir ondernemings, veral klein en mediumondernemings (KMO’s), en likwidasies neem toe.

Die jongste syfers van Statistiek SA toon ’n toename van 10,7% in die getal likwidasies verlede jaar in vergelyking met 2018. Maatskappylikwidasies het in dieselfde tydperk met 11% gestyg, en dié vir beslote korporasies met 10,3%. ’n Groot struikelblok vir KMO’s bly die versuim om te betaal vir dienste en goedere, veral deur die regering.

Kumaran Padayachee, uitvierende hoof van Spartan

Kumaran Padayachee, uitvoerende hoof van Spartan, sê die situasie word erger. Dit raak natuurlik die kontantvloei, en wanneer ’n KMO ’n groot kontrak of projek aangaan of die onderneming moet uitbrei, word toegang tot kapitaal van kritieke belang. Oorbruggingsfinansiering bied ’n oplossing, maar dit kan duur wees.

Padayachee sê die koste van oorbruggingsfinansiering hou gewoonlik verband met die risiko wat die finansier aangaan, en die risiko is groot omdat daar gewoonlik nie vir dié soort finansiering sekuriteit is nie.

Noulettendheidsondersoek

Die finansier se noulettendheidsondersoek verg meer as net ’n finansiële ontleding. Finansiers ondersoek die regsdokumente van die kontrak of projek – hulle moet weet of die ander party hul kliënt kan betaal – en hulle moet ondersoek instel na die vermoë en bekwaamheid van die KMO wat die finansiering wil hê.

“Dit kan ’n duur uitstappie wees, veral as dit slegs vir eenmalige oorbruggingsfinansiering is,” sê Padayachee. Dit is belangrik vir sake-eienaars of entrepreneurs om die onderneming, die marges en die sakesiklus te verstaan. “Dit sal ’n uitwerking hê op die besluit oor watter finansiers en hul produkte gepas is en ooreenstem met hul omstandighede,” sê hy.

FundingHub, ’n plaaslike markplek vir finansiering, bied ’n reeks oorbruggingsfinansieringsprodukte deur middel van hul finansiers, wat Spartan, Business Partners, Nedbank, Sureswipe, Lulalend en Fundrr insluit.

Dit is belangrik vir sake-eienaars of entrepreneurs om die onderneming, die marges en die sakesiklus te verstaan.

Michael Bowren, direkteur van FundingHub, sê een van die grootste uitdagings waarvoor KMO’s te staan kom, is om ’n lang genoeg sakegeskiedenis te hê met ’n minimum omset van R500 000 per jaar.

In baie gevalle sal KMO’s ten minste vir ’n jaar handel gedryf het voordat hulle in aanmerking vir finansiering kan kom. Elke bank en finansier het sy eie risiko-evaluerings, sê Bowren. “Hulle neem hul finansieringsbesluite op grond hiervan. Daar is baie geld beskikbaar vir KMO’s, as hulle oor ’n toepaslike sakegeskiedenis beskik en as hul sakemodel goed genoeg is, ” sê hy.

Bowren sê FundingHub vergelyk 35 verskillende banke en finansiers oor die hele SA heen. Met dié platform het hulle gevind dat die gemiddelde leningsgrootte R300 000 is en dat die twee gewildste produkte faktuurdiskontering en ongesekureerde finansiering is. Aan die einde van Junie verlede jaar het FNB se leningsboek vir KMO’s op R37,8 miljard gestaan.

Een van die grootste uitdagings waarvoor KMO’s te staan kom, is om ’n lang genoeg sakegeskiedenis te hê met ’n minimum omset van R500 000 per jaar.

Daniel Kaan, uitvoerende hoof van sakekernbankwese by FNB Business, sê die groei van hul leningsboek was ondanks ekonomiese omstandighede, met ’n moeiliker mark vir KMO’s in ’n gedempte bedryfsomgewing.

Die bank het ’n nuwe produk vir sy besigheidsbankrekeninghouers ontwikkel wat besighede met slegs ses maande se omset in staat stel om aansoek te doen om die Business Booster-lening. Die onderneming kan enigiets van R10 000 tot R100 000 leen, maar moet dit binne ses maande terugbetaal.

Koste van oorbruggingsfinansiering

Daar is ook sekere praktyke in die mark waar finansiers beskou word as winsjagters, met boetes vir laat betalings of kostes vir vroeë terugbetaling. Padayachee glo dat daar nie ’n koste vir vroeë terugbetaling behoort te wees nie, maar daar is finansiers wat die stelsel misbruik.

Finansiers wat boetes hef vir laat betaling moet hierdie praktyk vooraf verklaar. In sommige gevalle is daar ’n ekstra rentekoste – bo en behalwe die ooreengekome maandelikse rente – as ’n lener ’n terugbetaling oorslaan. Dit is hoofsaaklik om maatskappye te weerhou van wanbetaling.

“Ons sou natuurlik verkies dat ons kliënte betyds betaal, maar die idee om deur boetes wins na te jaag, word verkeerd verstaan,” sê hy.

“Ons sou natuurlik verkies dat ons kliënte betyds betaal, maar die idee om deur boetes wins na te jaag, word verkeerd verstaan,” sê hy.

“Dit is ’n sielkundige afskrikmiddel.” Net soos met die alledaagse lewe kan dinge verkeerd loop. Die onderneming leen geld met die beste bedoelings, maar die teenparty vertraag die betaling of die projek beland in die moeilikheid.

Die belangrikste is om deursigtig te wees en die finansier onmiddellik in kennis te stel as dinge begin skeefloop. Dis net menslik om verleë te voel, en die neiging is om die situasie te vermy, sê Padayachee. Probeer om iets uit te werk, want sodra die finansier dink dat sy kliënt onverantwoordelik word, kan hy drasties optree.


9 Soorte finansiering in die mark:

1• Toerustingsfinansiering bied die opsie om die reg om die toerusting te gebruik of te koop en gebruik die toerusting gewoonlik as sekuriteit.

2• Ongesekureerde lenings word toegestaan waar die lening ondersteun word deur die kredietwaardigheid van die lener eerder as deur enige sekuriteit. Rentekoerse is gewoonlik hoër weens die hoër risiko.

3• Gesekureerde lenings word toegestaan op grond van die een of ander soort sekuriteit teen die lening. Rentekoerse is laer as vir ’n ongesekureerde lening.

4• ’n Oortrokke rekening word algemeen deur banke aangebied. Die lener word ’n oortrokke perk toegestaan en rente word gehef op enige geld wat binne hierdie perk onttrek word.

5• Wentelkrediet is soos ’n oortrokke rekening of kredietkaart, want daar word ’n perk gestel. Volgens FundingHub is die belangrikste verskil dat dit nie aan ’n bankrekening gekoppel is nie en kan dus deur ’n hele verskeidenheid finansiers aangebied word, nie net banke nie.

6• Handelaarskontantvoorskot is ’n nuwe soort lening in SA. Die bedrag wat voorgeskiet word, word bereken op grond van die gemiddelde maandelikse omset van die onderneming. Terugbetalings word aangepas op grond van maandelikse verdienste. 7• Faktuurdiskontering is die gebruik om ’n maatskappy se onbetaalde rekeninge te aanvaar as sekuriteit vir ’n lening.

8• Kooporderlenings oorbrug die gaping tussen bestelling en betaling en het die voordeel dat dit vinniger en makliker is om te kry as byvoorbeeld ’n tradisionele banklening.

9• Handelsfinansiering dra gewoonlik ’n ander soort risiko, veral as goedere ingevoer word. Standard Bank bied handelsfinansiering en voer die goedere namens die lener in, en die “hooffinansieringsplan” begin eers wanneer die lener die goedere ontvang het en die bank die finale betaling aan die verskaffer gedoen het. 

Meer oor:  Finweek  |  Finansiering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.