Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Op soek na ESG-uitkomste in Suid-Afrika
18 Maart 2021
Foto: Shutterstock

Die mark vir bates met ’n fokus op positiewe omgewings-, maatskaplike en bestuursuitkomste (ESG-uitkomste) vir kleinhandelbeleggers in Suid-Afrika is klein. Te midde van die wêreldwye institusioneel-geleide toename in hierdie sogenaamde ESG-beleggingsinstrumente, is daar steeds probleme, soos die behoefte aan ’n enkele standaardmetingskode, sowel as die plaaslike bekendstelling van toepaslike kleinhandelsprodukte. SA pensioenfondse neem al hoe meer ESG-uitkomste in hul beleggingsmandate op.

Dié uitkomste sluit omgewingskwessies in, sowel as maatskaplike probleme, soos onder meer armoede en etiese sakepraktyke. Vir iemand wat egter sy portefeulje deur middel van ’n makelaar wil aanpas om ESG-resultate te hanteer, is dit ’n uiters moeilike taak. Die reeks produkte en bates in SA wat vir dié doel beskikbaar is, is baie beperk.

“Daar is eintlik nogal ’n baie klein keuse van geskikte produkte vir klein beleggers,” sê Tine Fisker Henriksen en Stephen McCallum, albei verbonde aan die Bertha-sentrum aan die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool.

“SA is effens agter die internasionale mark in dié opsig, en as ons die wêreldwye groei van ESG-belegging tot ongeveer ’n derde van die bates onder bestuur in ag neem, glo ons dat daar medium- tot sterk groeivooruitsigte oor die volgende paar jaar sal wees. Die Covid-19-pandemie het dié druk verhoog, met ESG-strategieë wat as gevolg daarvan nou betreklik goeie resultate begin lewer.”

Die plaaslike beleggingsektor het in 2011 die Kode vir Verantwoordelike Belegging in SA bekendgestel. Dit beteken dat die SA fondsbestuursbedryf, as ’n geheel, agter geraak het teenoor die internasionale oplewing in ESG-beleggings. Maar talle groot effektetrusts het wel nou ESG-belegging in hul mandate ingesluit. Daar is egter steeds ’n tekort as dit kom by fondse of genoteerde beheermaatskappye wat ten volle toegewy is aan ESG-belegging.

Die gety in ESG-beleggings lyk al hoe meer soos ’n tsoenami. MSCI, die samesteller van indekse, het vroeg in Februarie die resultate bekend gemaak van ’n opname onder 200 batebestuurders wat ongeveer $18 000 miljard (of ongeveer 51 keer SA se jaarlikse BBP) bestuur. Van dié respondente, het 77% gesê dat hulle hul ESG-beleggings aansienlik verhoog het in reaksie op die Covid-19-pandemie. As die batebestuurders met meer as $200 miljard onder bestuur uitgelaat word, styg dié syfer tot 90%. En SA beleggers neem kennis daarvan.

“Die vooruitsigte vir groei in ESG-georiënteerde fondse is beslis baie positief in SA, en ’n mens hoef net te kyk na die absolute oplewing van verwante produkte wêreldwyd om te sien dat dit hoofstroom word,” sê Ringetani Ndlovu, hoof van impakbelegging by Ashburton Investments. Met behulp van die Verenigde Nasies (VN) se doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (SDG’s) is verskeie meetraamwerke ontwikkel (sien kassie).

Deur gebruik te maak van een hiervan, die impakbestuursprojek, het die Bertha-sentrum ’n aanbodkaart van SA fondse en ander instrumente wat beskikbaar is vir beleggers saamgestel. Die fokus was op landbou (die VN se tweede SDG), onderwys (vierde SDG), gesondheidsorg (derde SDG) en infrastruktuur (negende SDG).

“Die vooruitsigte vir groei in ESG-georiënteerde fondse is beslis baie positief in SA.”

Interessant genoeg het die kaart ook aangedui waar die impak van hierdie vier SDG’s die meeste gevoel word: onder die kwesbare, lae-inkomste-, middelinkomste- of hoë-inkomste-bevolking. Verskeie genoteerde aandele in die voedselproduksie-, private-onderwys-, privategesondheidsorg-, farmaseutiese- en infrastruktuursektor word geweeg ten opsigte van hul impak.

Wat egter op die SA aandelebeurs ontbreek, is ’n toegewyde middel vir spesiale doeleindes of ’n beheermaatskappy met ’n streng mandaat om in maatskappye met goeie ESG-resultate te belê. Met so ’n beheermaatskappy wat deur impakbeleggingspesialiste bestuur word, kan klein beleggers en kleiner pensioenfondse hul portefeuljes diversifiseer.

Waar so ’n beheermaatskappy teen bedryfsverwante koste, of selfs laer, bestuur word, sal dit beleggers se kostedoeltreffendheid verbeter. Die vraag is nou of daar in die plaaslike mark genoeg beleggingsgeleenthede is wat aan ESG-beleggingstandaarde voldoen. In SA is die regering se beplande uitgawes aan infrastruktuur, veral om die ontwikkeling van hernubare energie deur die private kapitaalmark te dryf, so ’n geleentheid.

Met die regering se planne om dit vir pensioenfondse makliker te maak om in infrastruktuurprojekte te belê, tesame met hernieude politieke gesprekke oor openbare-private-vennootskappe, behoort infrastruktuurbates, wat deur die plaaslike aandelebeurse belê kan word, geweldig te groei. Wat die onderwerp van hernubare energie betref, moet die gebrek aan beleggingsgeleenthede in die genoteerde mark getakel word.

Angelique Kalam, bestuurder vir volhoubare beleggingspraktyke by Futuregrowth Asset Management

Banke, groot institusionele beleggers (soos pensioenfondse) en finansiële ontwikkelingsinstellings (soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie) was die afgelope dekade aktief betrokke, ten opsigte van ekwiteit én skuldfinansiering, by die ontwikkeling van groot projekte vir hernubare energie. Een rede waarom klein beleggers grootliks oor die hoof gesien is met die insameling van kapitaal vir hierdie projekte, het te make met die tyd wat dit neem om ’n aanleg te beplan, te bou en uiteindelik in werking te stel.

Daar is natuurlik risiko’s verbonde aan sulke projekte van dikwels talle miljarde rande. Gevolglik word dividende ook later betaal, en die opbrengste volg heelwat later. Die beleggingshorison is dus baie langer vir dié beleggings in amper ’n soort nutsmaatskappy, hoewel sekere beleggers ’n aptyt vir dié soort bates het. Ndlovu vat dit toepaslik saam: “Gewoonlik het pensioenfondse gesoek na mededingende opbrengste wat bloot op finansiële resultate gegrond was. Nou verstaan beleggers dat volhoubare beleggings met positiewe maatskaplike gevolge meer waarskynlik stabiele opbrengste op lang termyn sal lewer.” 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Die VN se 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling

1. Geen armoede nie. Ekonomiese groei moet inklusief wees en volhoubare werk bied en gelykheid bevorder.

2. Geen hongersnood nie. Die voedsel- en landbousektor bied belangrike oplossings vir ontwikkeling en is belangrik vir die uitwissing van hongersnood en armoede.

3. Goeie gesondheid en welstand. Om ’n gesonde lewe te verseker en die welstand van almal op alle ouderdomme te bevorder, is noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling.

4. Gehalte-onderwys. Goeie opleiding is die grondslag vir die verbetering van mense se lewens en volhoubare ontwikkeling.

5. Geslagsgelykheid. Dit is nie net ’n basiese mensereg nie, maar die noodsaaklike grondslag vir ’n vreedsame, welvarende en volhoubare wêreld.

6. Skoon water en sanitasie. Skoon, toeganklike water vir almal is ’n noodsaaklike deel van die wêreld waarin ons wil leef.

7. Bekostigbare en skoon energie. Energie is noodsaaklik vir byna enige groot uitdaging en geleentheid.

8. Behoorlike werk en ekonomiese groei. Volhoubare ekonomiese groei vereis dat samelewings die omstandighede moet skep wat mense toelaat om werk van gehalte te hê.

9. Nywerheid, innovasie en infrastruktuur. Beleggings in infrastruktuur is van kardinale belang om volhoubare ontwikkeling te bewerkstellig.

10. Minder ongelykheid. Om ongelykheid te verminder, moet beleid in beginsel universeel wees en aandag gee aan die behoeftes van minderbevoorregte en gemarginaliseerde bevolkings.

11. Volhoubare stede en gemeenskappe. Daar moet ’n toekoms wees waarin stede geleenthede vir almal bied met toegang tot basiese dienste, energie, behuising, vervoer en meer.

12. Verantwoordelike verbruik en produksie. Wêreldwye verbruik en produksie — die dryfveer vir die wêreldekonomie — berus op die gebruik van die natuurlike omgewing en hulpbronne op ’n manier wat nie die planeet vernietig nie.

13. Klimaatbeskerming. Klimaatbeskerming is ’n wêreldwye uitdaging wat almal, oral raak.

14. Lewe onder die water. Noukeurige bestuur van hierdie noodsaaklike wêreldwye hulpbron is ’n belangrike aspek van ’n volhoubare toekoms.

15. Lewe op die land. Volhoubare bosbestuur, bestryding van woestynvorming en die omkering van agteruitgang en die verlies van biodiversiteit.

16. Vrede, geregtigheid en sterk instellings. Toegang tot geregtigheid vir almal, en die bou van effektiewe, verantwoordbare instellings op alle vlakke.

17. Vennootskappe vir dié doelwitte. Bevorder wêreldwye vennootskappe vir volhoubare ontwikkeling.


Hoe word impakbeleggings gemeet?

Die gebrek aan ’n enkele stel maatstawwe om impakbelegging, insluitende ESG-uitkomste, te meet, was vir die beleggingsbedryf van die begin af ’n probleem.

Deesdae begin batebestuurders meer saamstem as hulle die impak van hul beleggings moet meet. “Plaaslike fondsbestuurders het gestandaardiseerde maatstawwe begin gebruik om die impak van hul beleggings te meet, te bestuur en daaroor verslag te doen,” sê Angelique Kalam, bestuurder vir volhoubare beleggingspraktyke, en Rirhandzu Sithole, ’n impakbeleggingsontleder by Futuregrowth Asset Management.

“Om deursigtigheid en vergelykbaarheid te verseker, het fondsbestuurders internasionale standaarde aanvaar, waarvan die gewildste die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling en die Global Impact Investing Network (GIIN) is.”

Hulle sê die aanvaarding van internasionale standaarde het plaaslike fondsbestuurders aangespoor om te bepaal “hoe sukses lyk” en hoe dit gemeet kan word deur ’n stel doelwitte te hê en te verstaan wat die vlak en soort impak is wat hulle met elke belegging soek. 

Meer oor:  Esg  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.