Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Pandemies, politiek, sameswering-teorieë – wat nou?
10 September 2021
Foto: Shutterstock

Terwyl die Covid-19-pandemie aggressief en vinnig oor die hele wêreld versprei het, het die samelewing ook die verspreiding van ander “virale” verskynsels sien ontvou. Dit is die verspreiding van vals nuus, inligting, samesweringsteorieë en algemene massa-vermoedens oor wat werklik aan die gang is. Ons almal is daarvan bewus dat die wêreld nie meer dieselfde is as ‘n paar jaar gelede nie.

Dinge het verander en dit gaan moontlik so bly. Die verspreiding van sulke valse en of misleidende inligting is nie nuut nie. Dit gebeur al eeue lank. Die informasie-ekosisteem van vandag het egter die manier waarop vals nuus en misleidende inligting versprei en geïnterpreteer word, drasties verander. Sosiale-media-platforms en digitale tegnologieë het die deel van nuus en inligting tussen mekaar aansienlik vergemaklik.

Binne hierdie aanlyn omgewings is valse nuus en inligting geneig om groter belangstelling te wek as nuus oor die waarheid. Maar hier is die jakkals in die hoenderhok. Baie keer moet ’n mens verstaan hoekom jy nie die waarheid vertel word nie. As dinge in die wêreld moeilik gaan, kan jy seker wees dat daar ’n daadwerklike poging sal wees om net te probeer vertel wat almal wil hoor.

Dit onderlê tans die debat rondom of mense ingeënt wil word of nie. Dit bly elke mens se keuse, vanweë jou reg op menswaardigheid. Een van die entstowwe wat in die middel van die bohaai staan, is Pfizer en BioNTech se mRNA-gebaseerde entstof. Hierdie entstof is ’n tipe entstof wat ’n kopie gebruik van ’n siekte om sogenaamde boodskappe te skep, naamlik “messenger” RNA (mRNA), om ’n immuniteitsreaksie te ontlok.

Hierdie entstof stimuleer dus ’n aanpasbare immuniteitsreaksie wat die liggaam “leer” om soortgelyke skadelike selle te identifiseer en dan te vernietig. Die doel van hierdie tipe entstof is dus om die aanpasbare immuunstelsel te stimuleer om teenliggaampies te skep wat presies op ’n spesifieke virus gerig is. Die eerste suksesvolle oordrag van mRNA wat binne ’n liposomale nanodeeltjie in ’n sel verpak is, is al in 1989 gepubliseer.

Die gebruik van RNA in entstowwe het aansienlike verkeerde inligting in sosiale media veroorsaak, wat verkeerdelik beweer dat die bekendstelling van RNA ’n persoon se DNS verander. Ek is nie ’n kenner op die gebied nie. Maar met verloop van tyd sal ons wel die newe-effekte van die entstowwe kan bespeur – indien enige. Dit is waar die kanker-immunoterapie-ETF my oog gevang het. Die kode is CNCR en is op die Chicago Board Options Exchange (CBOE) genoteer.

Wat maak dié ETF aantreklik as ’n beleggingsopsie?

Hierdie ETF bestaan uit ’n mandjie maatskappye wat terapie ontwikkel het om kanker te behandel deur die liggaam se eie immuunstelsel te benut. Dis dus soortgelyk aan die mRNA-tegnologie. Immunoterapie is ’n transformasieveld in die biotegnologiese veld wat ’n fundamentele uitwerking op kankersorg kan hê.

Deur immunoterapieë te ontwikkel wat meer doeltreffend is en ’n beter lewensgehalte kan lewer as medisyne wat tans beskikbaar is, kan innoverende immunoterapie-maatskappye ’n verskil maak vir moedige pasiënte wat teen kanker veg. Dié ETF wil hierdie belangrike werk en die positiewe impak daarvan op die samelewing ondersteun.

Maar wanneer moet jy koop?

Indien die toekomstige resultate van die mRNA-tegnologie positief is, sal hierdie tipe tegnologie net positiewe gevolge hê vir heel moontlik die behandeling van siektes soos kanker. Die grafiek is die medium-termyn- (weeklikse) grafiek van CNCR se aandeelprys. Neem kennis dat die skaal ’n logaritmiese skaal is. Die ETF bly onder sy 200 dag- bewegende gemiddelde.

Peet Serfontein is ’n onafhanklike markontleder en strateeg vir Unum Capital.

As jy dus koop, hou net in gedagte dat die langtermyntendens van dié ETF reeds in ’n beerfase is. ’n Mens sal dus teen die algemene tendens gaan. Hou jou blootstelling laag en pas ’n baie gedissiplineerde stopverlies toe. ’n Dalende wigpatroon is besig om uit te speel (sien die swart tendenslyne wat na mekaar toe neig). So ’n patroon speel gewoonlik uit as ’n bulprysaksie.

Die mikpunt van die patroon word aangedui deur die blou pyllyne wat in die omgewing van $36 is. As die ETF naby hierdie vlak kom, sal ek voorstel om jou blootstelling te verminder. Ek sal gemakliker raak as die prysaksie eers uit die patroon breek. Hierdie vlak is in die omgewing van $30. As die prys onder $25 inbreek, kan ’n mens verwag dat die ETF verder kan daal.

Ag hierdie vlak as ’n stopverlies om kapitaal te beskerm. Hierdie tipe beleggings mag moontlik baie lang termyn van aard wees en hou maar die nuus dop vir enige verwikkelinge rondom die mRNA-entstowwe.

* terugvoer@finweek.co.za

* Peet Serfontein is ’n onafhanklike markontleder en strateeg vir Unum Capital.


Meer oor:  Finweek  |  Pandemie  |  Mrna-Tegnologie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.