Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Peugeot se dubbeldoor: Een vir die pad, een vir die stad
16 Januarie 2020

Peugeot is besig om plaaslik ’n gedaanteverwisseling te ondergaan. Onder die leiding van omkeerspesialis Xavier Gobille, Peugeot Citroën SA se nuwe uitvoerende hoof, is die fokus verskuif na handelsmerkwaarde, produkverryking en kliëntetevredenheid.

Laasgenoemde het die sluiting van 30% van Peugeot se voormalige handelaars ingesluit, asook die aanstelling van nuwes in die strewe na meer doeltreffende naverkoopdiens.

Peugeot beoog om weer in die kryt te klim met gedugte taktiek en verbeterde produkwaarde. Sy markaandeel ten tyde van sy hervrystelling in September 2019 was 0,6%. Dis beter as die 0,2% in 2018.

Peugeot speel met die sintuie, iets wat duidelik is in die klein intreevlak-108 sowel as die groot 5008 met sy 7 sitplekke.

Volgens Gobille mik die maatskappy na ’n markaandeel van 2,5% teen 2021. Emosie vorm altyd die kern van die motorervaring vir Peugeot. Peugeot speel met die sintuie, iets wat duidelik is in die klein intreevlak-108 sowel as die groot 5008 met sy 7 sitplekke.

Seepgladde stadsjapie

Peugeot se 108 pak ander klein stadsmotors in hierdie segment by die horings, en hierdie intreevlakmodel is ’n ware ekstrovert.

Franse flair en Japanse ingenieurswerk (vanweë ’n alliansie met Toyota) kom byeen om ’n interessante en kostedoeltreffende stadsjapie te skep. Peugeot se intreevlak-stadsmotor is ’n ratse rakker. Die 108 is ’n karretjie met ’n paar koddige aansigte, soos die stomp enjinkap, asook misligte en dagry-LED’s, wiele na aan die vier hoeke, asook agterruite wat oopknip.

Die agterkant stal Peugeot se bekende drieklou-agterligte keurig uit. Die binneruim, hoewel heel gerieflik vir die meeste mense, kan vir die groter persoon knap wees. Binnekant is daar elektriese vensters voor, gerieflike materiaalsitplekke, ’n hoogteverstelbare stuurwiel, ’n groot informaaklikheidraakskerm en konnektiwiteit vir jou slimfoon deur middel van MirrorLink-tegnologie. Die kattebak, wat ook ’n spaarwiel bevat, is skaflik.

Veiligheidskenmerke in Peugeot se klein vyfdeurluikrug is topklas in hierdie segment. Dié model het as standaard ses lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, ABS-remme, remhulp en Isofix-monteerpunte vir kinderstoeltjies.

Die duursame enjin van 998 cc is nie turbo-aangejaag nie, met die gevolg dat die 108 nie so vinnig wegspring soos van sy kompetisie wat wel turbo’s het nie.

Op die oomblik is daar net een model, met ’n eenliterenjin en ’n vyfspoed-handratkas. Die duursame enjin van 998 cc is nie turbo-aangejaag nie, met die gevolg dat die 108 nie so vinnig wegspring soos van sy kompetisie wat wel turbo’s het nie.

Dis nogtans ’n geestige ervaring met goeie ratverhoudings en ’n lekker direkte stuur. Waarom die stuurwiel groter is as die kleiner, sportiewe stuurwiel in die 108 se groter familielede, is onduidelik. Buiten ’n keel wat toetrek teen die bulte (’n probleem wat darem meestal opgelos kan word deur tydige ratwisseling) het die goed geboude 108 veel om te bied.

Die slimfoon-vermoë informaak-raakskerm is in die kollig in die 108, Peugeot se lewendige intreevlak-stadskar.

Dis ’n stadsmotor met ’n draaisirkel van net 9,8 m, en is pret om te bestuur met ’n ritgehalte wat gerieflike dog sekuur is. Hy is ook nie buitensporige duur nie. Vir die pakket en die prys bied die Peugeot 108 goeie waarde, met die Japanse basis wat ook betroubaarheid verseker. Net ’n paar ekstra kilowatts kort om hierdie karretjie volpunte te laat kry.

Baie kar, baie waarde

Die ruim en veelsydige Peugeot 5008 met sewe sitplekke bied luuksheid, gerief, tegnologie en bruikbaarheid.

Die Peugeot 5008 se lang dinamiese profiel word afgerond deur ’n imposante agterkant en LED-agterligte met die vervaardiger se bekende “klou”-effek. ’n Kykie in hierdie 7-sitplek-sportnutsvoertuig (SNV) se ruim en goed toegeruste kajuit lei die oog na oppervlaktes bedek met leer en chroom, ’n kompakte leerstuurwiel, ’n informaaklikheidskerm van 8 duim, ’n digitale opkykvertoonskerm en chroomskakelaars.

Die luukse Peugeot 5008 2.0 HDI GT se kajuit het verskillende premiumkenmerke soos 3D-navigasie, konnektiwiteit via MirrorLink, Android Auto en Apple CarPlay, en ’n laaipaneel vir jou slimfoon.

Die luukse Peugeot 5008 2.0 HDI GT se kajuit het verskillende premiumkenmerke soos 3D-navigasie, konnektiwiteit via MirrorLink, Android Auto en Apple CarPlay, en ’n laaipaneel vir jou slimfoon.

Die multipunt-masseerstelsel op die bestuursitplek ondersteun die lae rug ook heerlik. Progressiewe bestuurdershulpmiddels soos baanbeheer, aanpasbare snelheidsbeheer met voorste botsingwaarskuwing, parkeerhulp, blindekolwaarneming en ses lugsakke bied ’n veiligheidsarsenaal. Die sitplekke is onverwags veelsydig. Daar is drie rye, met die tweede ry se ewe groot sitplekke wat kan vou en kantel en ook kan skuif vir verstelbare lengte, terwyl die derde ry sitplekke verwyder kan word – iets wat maklik is by wyse van die elektriese agterklap met handvrye werking.

Die 5008 is 165 mm langer as die 3008, en bied werkverrigting en ritgehalte soortgelyk aan sy kleinboet. Heelwat wringkrag en gelykmatige kraglewering van die doeltreffende tweeliter-dieselenjin, tesame met die outomatiese ratkas wat seepglad tussen die ses ratte wissel, asook ’n uitstekende suspensie, gee ’n kwaliteit ryervaring op die 19-duim-allooiwiele. Die 5008 is lekker rats en hanteer uitstekend, terwyl dit ’n uitsonderlik gerieflike rit op klipperige sinkplaatpaaie bied, en selfversekerde gedrag op grondpaaie.

Getoets: Peugeot 108 1.0L Active
  • Enjin: 1.0 VTi petrol
  • Krag/Wringkrag: 53 kW/93 Nm
  • Ratkas: 5-spoed, handrat
  • Topsnelheid: 160 km/h
  • Brandstofverbruik (gekombineerd, aangedui): 5,2 liter/100 km
  • CO2-vrystelling: 99 g/km (geen koolstofbelasting nie)
  • Brandstoftenk: 35 liter
  • Kattebak: 196 / 780 liter
  • Veiligheid: 6 lugsakke Waarborg 
  • Diensplan: 5 jaar/100 000 km
  • Prys: R179 900
Peugeot se grootste sportnutsvoertuig, die 5008, is ’n begaafde en stylvolle sewesitplek-voertuig.

Getoets: Peugeot 5008 2.0 HDI GT
  • Enjin: 2.0 turbodiesel
  • Krag/Wringkrag: 110 kW/370 Nm
  • Ratkas: 6-spoed, outomaties 0-100
  • km/h: 10,9 s
  • Topsnelheid: 207 km/h
  • Brandstof (aangedui): 4,4 tot 5,5 liter/100 km
  • CO2-vrystelling: 136 g/km Brandstoftenk: 62 liter
  • Grondvrye hoogte: 236 mm
  • Kattebak: 780 / 1940 liter
  • Veiligheid: 6 lugsakke

Waarborg & Diensplan: 5 jaar/100 000 km Prys: R599 900

Wie ry waar

2019 se laaste kwartaal was bedrywig...
President Cyril Ramaphosa het die R6 miljard se transformasiefonds vir die motorbedryf aangekondig, wat ten doel het om swart deelname in die bedryf se voorsieningsketting se steun. Dit sluit beleggings deur BMW, Ford, Isuzu, Nissan, Toyota, Mercedes-Benz en Volkswagen in.

Ford SA het sy vennootskap met die regering aangekondig in die beoogde Spesiale Ekonomiese Sone vir die Motorbedryf by Pretoria. Met voltooiing sal die sone 162 ha beslaan en 70 000 mense werk gee.

Isuzu het gesê dat R1,2 miljard in Suid-Afrika belê gaan word om bakkieproduksie na 29 000 eenhede per jaar uit te brei.

Internasionale motorwedrenne het na 37 jaar teruggekeer na Kyalami.

Citroën is ook terug in SA na drie jaar se afwesigheid.

Elektriese voertuie was in die nuus in 2019. Die Kyalami Motorfees het bekendstellings van verskeie vervaardigers se nuwe modelle ingesluit. Van hierdie motors is Audi se e-Tron en VW se vol-elektriese ID.R.

VW het ’n loodsprojek oor elektriese mobiliteit in Rwanda bekendgestel met die e-Golf en gesê die elektriese ID.3 sal eersdaags sy weg na SA vind.

Ford het die Mustang Mach-E, ’n vol-elektriese Mustang, by die Los Angeles-motorskou uitgestal en Volvo het tot die stryd toegetree met die Volvo XC40 Recharge, ’n klein elektriese SNV, en die aankondiging dat kopers van enige hibridiese inpropmotors ’n jaar se gratis elektrisiteit sal ontvang.

Plaaslik geld hierdie aanbod vir die Volvo XC90 T8. BMW het laaistasies vir elektriese motors bekendgestel by O.R. Tambo-, die Kaapse- en King Shaka Internasionale lughawens. 

Meer oor:  Finweek  |  Peugot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.