Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Plaaslike maatskappy die Uber vir aflewerings
13 September 2018
Khathutshelo Mufamadi, stigter van Droppa

'n Groeiende bewustheid van die reuse vraag na afleweringsvoertuie in Gauteng het Khathutshelo Mufamadi aangespoor om Droppa te begin, ’n maatskappy waardeur mense hulle bakkies of vragmotors op ’n ad-hoc-grondslag kan uithuur.

“Terwyl ek voltyds as ’n rekenaarprogrammeerder by ’n bank gewerk het, het ek ’n Kia k2700-vragmotor en later ’n Nissan-bakkie gekoop om aflewerings te doen vir my suster se besigheid wat toerusting vir funksies uithuur,” sê Mufamadi. “Dié vryskutonderneming het so gegroei dat ek naderhand nie meer by die vraag kon byhou nie, wat my die idee gegee het om ’n bakkie- en vragmotorverhuringsaak soortgelyk aan Uber te begin.”

Mufamadi het die maatskappy in Februarie 2016 begin met geld wat hy self gespaar het en saaikapitaal van Mlab Suid-Afrika en IM IN Accelerator. Sedertdien het die maatskappy meer as 120 bakkies en vragmotors ingekry om te help. Die meerderheid is gewerf deur advertensies op aanlyn reklamewebwerwe.

“Om deel te neem, word positiewe identifikasie, ’n geldige rybewys en voertuie wat nie meer as 180 000 kilometer op die klok het nie, vereis,” sê Mufamadi. Party van die eienaars bestuur die bakkies self, terwyl ander bestuurders in diens neem om dit vir hulle te doen.

Die meerderheid van die voertuie word slegs vir aflewerings gebruik, terwyl Droppa eienaars help om hul bestaande dienste uit te brei.

Daar word tans elke maand sowat 50 aflewerings gedoen, hoofsaaklik in die voorstede. “Die sakemodel vind aanklank by bakkie- en vragmotoreienaars, omdat dit hulle in staat stel om bykomende geld te maak uit ’n bate wat hulle reeds het. Dit is ook vir hulle gerieflik, omdat hulle nie die bokoste het wat met ’n mens se eie onderneming gepaard gaan nie. Ons sorg vir alles, van die bemarking, administrasie, verwerking van betalings tot besprekings en navrae,” sê Mufamadi.

“Om deel te neem, word positiewe identifikasie, ‘n geldige rybewys en voertuie wat nie meer as 180 000 km op die klok het nie, vereis.”

Uitgebreide diens

Terwyl baie geld en tyd bestee is aan die ontwikkeling van die Droppa-app vir selfone, blyk dit dat baie van Droppa se kliënte dit verkies om besprekings regstreeks aanlyn te doen. Die maatskappy se dienste moes om dié rede uitgebrei word om voorsiening te maak vir dié kliënte.

“Die meeste van ons kliëntebasis het uit my en ander eienaars se bestaande kliëntenetwerke gegroei. Om konvensionele kliënte op te voed en te motiveer om die app te gebruik was baie moeiliker as wat ek gedink het dit sal wees. Om die waarheid te sê, as ek geweet het wat ek nou weet, sou ek meer geld bestee het aan marknavorsing en die bemarking van die produk as wat ek aan tegnologiese ontwikkeling bestee het,” erken Mufamadi.

Op die oomblik is daar nie baie mededinging in die mark nie, sê Mufamadi. “Droppa se groot voordeel is dat ons bedryfskoste laag is, wat ons in staat stel om 15% tot 20% minder as ons mededingers te vra. Ons is ook in staat om die druk te verminder deur kwotasies en ’n goedgekeurde bestuurder in ’n baie kort tyd te kry.”

Gebruikers van die app kry onmiddellik ’n aanlyn beraamde koste vir die aflewering. Kliënte word ’n vaste prys gevra vir kortafstandaflewerings om dit die moeite te werd maak vir die voertuigeienaars. Daar is ook ’n vaste prys per kilometer wat afhang van die voertuig se grootte en die afstand wat afgelê is.

Vyftien present van die betaling gaan na Droppa, terwyl die res aan die voertuigeienaars op ’n weeklikse grondslag betaal word.

Toekomsplanne

Die moeilikste deel om die onderneming tot dusver aan die gang te kry, was om begin- en bedryfskapitaal te kry. “Om ’n groot idee soos dié aan die gang te kry, is duur. Ek probeer ’n bykomende R5m in die hande kry om die besigheid na die res van die land uit te brei.”

Hy toets tans die Kaapstad-mark, wat hy voor die einde van die jaar wil betree: “Kaapstad is die grootste aanpasser by tegnologie in die land, so ek dink die stad en sy voorstede sal meer oop wees vir ons diens. Ek wil volgende jaar ander stede met groot inwonertalle, soos Durban en Port Elizabeth, betree,” sê hy.

Die maatskappy gaan vandeesmaand ook met nog ’n aanlyn platform, Droppa for Retailers, begin om meubelwinkeleienaars, pakhuise, ysterwarewinkels en kleinhandelaars in staat te stel om Droppa-bakkies en -vragmotors vir aflewerings te gebruik.

* Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za

Foto’s: Verskaf twitter.com/DroppaZA

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.