Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Plaaslike tweemanskap verander noodreaksie drasties
30 Julie 2020
Brett Meyerowitz en Steven Raucher was albei vrywillige ambulansassistente toe hulle RapidDeploy begin het.

Brett Meyerowitz het ná tien jaar as die tegnologiehoof van ’n dobbelonderneming in Londen na Suid-Afrika teruggekom en vir ’n bank begin werk. Met meer tyd beskikbaar het hy as ’n vrywilliger-ambulansassistent begin werk – wat hom blootgestel het aan die ernstige ondoeltreffendheid van die noodreaksiestelsels in die land.

“Die stelsels was verouderd, met hoë onderhoudskoste, gebruikersonvriendelik en uiters ondoeltreffend, wat onder meer veroorsaak het dat noodreaksiespanne in onbekende omgewings op kaartboeke staatgemaak het – in situasies waar tyd dikwels die verskil tussen lewe en dood beteken,” sê Meyerowitz.

In reaksie daarop het hy ’n mobiele platform begin ontwikkel om hom en ander vrywilligers te help om die probleem te oorkom. Die eienskappe is uitgebrei namate al hoe meer maatskappye van die stelsel bewus geword en bykomende eienskappe versoek het, soos globale posisionering en intydse navigasie.

Meyerowitz het die maatskappy in 2014 geregistreer nadat TomTom sy sakebankbesonderhede gevra het om kommissie oor te betaal vir die verwysing van kliënte wat navigasietegnologie gesoek het om aan sy stelsel te koppel. “Ek het die stelsel toe nog Dispatcher genoem, maar op RapidDeploy besluit omdat dit beter beskryf wat ek wou bereik,” sê hy.

Gelukkige toeval

Die oplossing het in 2016 meer sakegedrewe geword nadat Meyerowitz vir Steven Raucher by ’n gemeenskaplike vriend se braai ontmoet het. Raucher het pas teruggekeer nadat hy 20 jaar lank IT-programmering vir banke in Londen en New York gedoen het. Die twee het, ondanks hul IT-agtergrond, hoofsaaklik vanweë hul passie vir vrywilligerwerk bande gesmee.

“Steven het as ’n NSRI-vrywilliger begin werk nadat sy broer verdrink het, terwyl ek betrokke geraak het omdat my pa geval het terwyl ek in Londen was,” sê Meyerowitz. Raucher was beïndruk toe hy ’n demonstrasie van die oplossing sien, en gemeen dit verdien sy voltydse aandag. Sedertdien het harde werk en verskeie meevallers die onderneming ’n bedryfsleier gemaak. Raucher het in 2017 ’n konferensie oor die gebruik van tegnologie in die noodreaksiebedryf in Europa bygewoon waar Kirk Arthur, hoof vir openbare veiligheid van Microsoft, ’n aanbieding oor toekomstendense in die bedryf gedoen het. Toe Arthur oor wolkgegronde oplossings gepraat het, kon Raucher wys dat RapidDeploy reeds die tegnologie ontwikkel het.

“Mense was destyds nie mal oor die idee van wolkgegronde reaksiestelsels nie – óf omdat hulle nie geweet het wat die wolk is nie, óf as hulle het, gemeen het dit moes weens moontlike sekuriteitskendings nie vir openbare toepassings gebruik word nie,” sê Meyerowitz.

Dit maak dit onder meer vir tele-kommunikeerders moontlik om op enige plek te werk, pleks van om in noodversendingsentrums te wees om versending-, ontleding- en liggingstelsels te gebruik.

’n Wolkgegronde stelsel het egter verskeie voordele bo perseelgegronde tegnologie – wat met vinniger aanvaarding van die tegnologie tydens die Covid-19-uitbreking gehelp het. Dit maak dit onder meer vir tele-kommunikeerders moontlik om op enige plek te werk, pleks van om in noodversendingsentrums te wees om versending-, ontleding- en liggingstelsels te gebruik.

Daarby onderhou RapidDeploy die stelsel en bly dit verbeter tot voordeel van alle gebruikers. Omdat dit ’n veralgemeende oplossing is, betaal maatskappye per voertuig en die aantal noodwerkers – wat dit ook vir klein spelers meer bekostigbaar as tradisionele oplossings maak. Die konferensie het dit vir Raucher en Meyerowitz moontlik gemaak om die stelsel met ander ontwikkelings te vergelyk.

“Ons het eers besef hoe revolusionêr die stelsel was toe ons gesien het dat amper al die ander stelsels nog in die 1990’s vasgesit het deur op DOS of Windows gebou te wees.” ’n Bewys van RapidDeploy se tegnologievoorsprong is dat hy verlede jaar die Texas-toekenning vir die innoveerder van die jaar gewen het en as Microsoft Amerika se vennoot van die jaar vir die regeringsbedryf aangewys is.

Nuwe geleenthede

Raucher is ná die Europese konferensie na ’n Microsoft-konferensie in Texas genooi wat nuwe netwerke van vroeë aanvaarders en innoveerders oopgestel en die weg gebaan het na ’n A-ronde-belegging verlede jaar van $12 miljoen deur die Amerikaanse waagkapitaalfonds Great Point Ventures en die innovasiefonds Samsung Next.

Danksy dié finansiering kon RapidDeploy die onderneming aansienlik vergroot en na Amerika (met die hoofkantoor in Austin), asook Namibië en Botswana uitbrei. “My aanvanklike idee was om ’n oplossing vir vrywilligers te ontwikkel wat sou help om lewens te red. Ek het nooit gedink dat ons die Rolls-Royce van nooddiensstelsels met meer as 100 werknemers en meer as 100 kliënte in Amerika sou ontwikkel nie.”

Die reis

Vir Meyerowitz was een van die grootste uitdagings op hul pad na sukses om van ’n tegnologie-ingesteldheid oor te skakel en te leer om die maatskappy te lei. “My eerste reaksie op enige probleem was altyd om my moue op te rol en aan oplossings te werk, maar ek moes leer om te luister, opsy te staan, en ander mense te motiveer om jou droom aan te gryp en die werk te doen. Dit was eintlik nie so moeilik om ander mense te vertrou nie, want ons het van die begin af geïnvesteer in die beste kundiges wat ons kon bekostig – mense wat in die algemeen selfs vaardiger as ons is,” sê hy.

Vir Meyerowitz was een van die grootste uitdagings op hul pad na sukses om van ’n tegnologie-ingesteldheid oor te skakel en te leer om die maatskappy te lei.

Nog ’n uitdaging was om die samestelling van die personeel reg te kry. “Ons het aanvanklik programmeerders en rekenaaringenieurs aangestel, maar later besef dat ons vir meer gebalanseerde uitkomste steundienspersoneellede nodig gehad het.” Meyerowitz se raad vir aspirantentrepreneurs is om nie gebreinspoel te word deur die idee dat om jou eie onderneming te begin, beteken dat jy “jou eie baas” is nie, want daar is soveel mense wat van ’n onderneming se sukses afhanklik word.

By RapidDeploy is dit nog meer die geval, want die maatskappy het meer as ’n miljoen mense wat vir doeltreffende noodreaksie op die stelsel staatmaak. Hy sê as jy sukses wil behaal, moet jy aanhou om netwerke te bou en mense met soortgelyke belangstellings te kry om jou te help vorder, soos hy in Raucher gekry het.

Meer oor:  Rapiddeploy  |  Noodreaksiestelsels  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.