Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Plan om vaklui te ontwikkel, kan SA ekonomie weer vonk gee
20 Februarie 2020

Gedurende die Desembervakansie het ek ’n reis van 70 km op ’n grondpad van Butterworth na Mazzepa-baai aangepak; ’n reis wat my verby ’n dorpie geneem het waar die ontwikkeling van vaardighede in die voormalige Transkei gedy het.

ekonomie
Foto: Getty Images

Dié dorpie, wat as Teko bekend staan en wat in Centani geleë is, was die tuiste van die Teko-beroepskool. In die 1980’s was die skool die trots van die destydse Transkeise leier, Kaiser Daliwonga Matanzima, wat besef het dat talle geskoolde vakmanne broodnodig was om beleggers in nywerhede na die landelike tuisland te lok.

Toe ek deur die dorpie ry, het dit my opgeval dat die voorstel wat verlede jaar in September deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gedoen is – dat sommige leerlinge ’n uitgangseksamen in graad 9 skryf – niks nuuts is nie.

Die Sleutel tot meer geleenthede 

Motshekga wil hê dat leerlinge ’n algemene onderwyssertifikaat moet ontvang as hulle in die graad 9-eksamen slaag. Hierdie sertifikaat sal dan gebruik word as ’n sleutel om tot tegniese en beroepsopleiding toe te tree.

Dié leerlinge hoef dan nie in die hoërskool aan te bly totdat hulle in graad 12 slaag om vaardighede op te doen wat hulle vir die werkmark voorberei nie. Soos verwag, het skeptiese Suid-Afrikaners ’n koue skouer na die idee gedraai uit vrees dat hul kinders aan laegehalteonderwys onderwerp sal word.

Ek glo egter vas dat Motshekga se idee – as dit behoorlik uitgevoer word – kan werk om die gety teen ons verstommende hoë vlak van jeugwerkloosheid te draai en om die hindernisse wat ons ekonomie afrem, wat tans teen bykans 0% groei, te verwyder.

'n Verskeidenheid vaardighede word geleer 

Die Transkei, wat ná die einde van apartheid in 1994 by die Oos-Kaap ingelyf is, het ’n soortgelyke eksamen gehad as dié wat Motshekga voorstel, waarvolgens Matanzima ’n ontwikkelingskoers geskep het vir leerlinge wat nie standerd 7 (nou graad 9) kon slaag nie.

Angie Motshekga Minister van basiese onderwys

Diegene wat nie die standerd 7-bult kon baasraak nie is na tegniese skole soos Teko gestuur waar hulle in vakrigtings soos motorwerktuigkunde, boukunde, pleister- en messelwerk, skrynwerk en as loodgieters, sweisers en elektriese ingenieurs opgelei kon word. Dan was daar steeds die Transkeise Universiteit en die Transkeise Technikon waar die toelatingsvereistes vir akademies begaafde leerlinge ’n standerd 10-sertifikaat (graad 12) was.

Een van my broers het boukunde by Teko (nou bekend as King Hintsa TVET College) studeer en wanneer hy vir skoolvakansies huis toe gekom het, het hy ons vertel van seuns so jonk as 16 wat ’n motor se enjin uitmekaar kon haal en dit gou weer aanmekaar kon sit omdat hulle vaardighede om motors in stand te hou aangeleer het.

Dié skool, wat knus binne ’n plantasie geleë is, was nie die enigste tegniese kollege wat vakmanskap aan jong mans en vroue in Transkei onderrig het nie.

Dié skool, wat knus binne ’n plantasie geleë is, was nie die enigste tegniese kollege wat vakmanskap aan jong mans en vroue in Transkei onderrig het nie. Daar was ander soos Cicira-kollege in Mthatha (nou King Dalindyebo TVET College), wat ook die vaardighede onwikkel het wat die Transkeise ekonomie kon aandryf.

Die tuisland het so baie motortegnici en outo-elektrisiëns opgelewer dat dorpe soos Butterworth en Mthatha maklik ’n motorvervaardiger sou kon huisves indien een bereid was om motors in die gebied te vervaardig. Die meeste van die gegradueerdes het in Oos-Londen – waar Mercedes-Benz gevestig is – en in die Port-Elizabeth-Uitenhage-gebied – waar General Motors en Volkswagen onderskeidelik aanlegte opgerig het – gaan werk.

Middelklasstatus 

Die punt wat ek probeer maak, is dat hierdie gegradueerdes vaardighede kon opdoen wat hulle tot middelklasstatus verhef het sodat hulle hul beeld van stadige leerlinge volkome kon afskud.

Ongelukkig het die koms van die demokrasie in 1994 en die inlui van ’n onervare ANC-regering wat, hoewel dit verwelkom was, ’n negatiewe uitwerking op die toekoms van beroeps- en tegniese opleiding gehad het, terwyl die gehalte van basiese onderwys verswak het.

Eerstens is die graad 9-uitgangs- of eksterne eksamen geskrap en is beroeps- en vakmansopleiding op die agtergrond gestoot tot voordeel van universiteits- en technikon-opleiding.

Die punt wat ek probeer maak, is dat hierdie gegradueerdes vaardighede kon opdoen wat hulle tot middelklasstatus verhef het sodat hulle hul beeld van stadige leerlinge volkome kon afskud.

Die verskuiwing in die denke aangaande die onderwys en beplanning het saamgeval met die instelling van die ekonomiese strategie vir Groei, Werkskepping en Herverdeling (Gear) tussen 1996 en 2006 wat ’n rits besnoeiings ingestel het om inflasie in te perk en staatskuld te bekamp.

Hoewel Gear in ’n groot mate verantwoordelik was vir die stabilisering van die ekonomie na die einde van apartheid, het dit die onderwysstelsel bykans verwoes aangesien verskeie beroepskole, onderwyskolleges, en verpleegsterskolleges gevolglik gesluit is.

Gear-geïnspireerde besparings

Die eindresultaat van die Gear-geïnspireerde besparings het SA later getref toe die land met ’n nypende tekort aan vaklui gesit het op ’n tydstip wat die land ’n enorme infrastruktuurontwikkelingsprogram in bedryf moes stel wat in die laat middel-1990’s afgeskop het. Volgens die nasionale tesourie het die regering tussen 1998 en 2018 ongeveer R3 duisend miljard aan infrastruktuur bestee.

Vandag het SA ’n tekort van 40 000 vakmanne, hoewel die regering se nasionale ontwikkelingsplan dit ten doel het om 30 000 vakmanne per jaar teen 2030 op te lewer. Op die oomblik word maatskappye verplig om vakmanne in te voer, van sweisers tot skrynwerkers, om die tekort aan te vul.

Op die oomblik word maatskappye verplig om vakmanne in te voer, van sweisers tot skrynwerkers, om die tekort aan te vul.

Die tekort aan vakmanne bevestig ook ’n studie wat ’n paar jaar gelede deur Statistiek SA gedoen is wat bevind het dat die hedendaagse jeug nie so vaardig as hul ouers is wat gedurende die apartheidsjare gebore is nie. 

Tensy ons aandag skenk aan die vaardigheidskrisis waaronder ons jeug gebuk gaan, het ons geen kans om die ekonomie uit te brei en om werkloosheid onder die jeug te verminder nie, waar mense tussen die onderdom van 15 en 35 ongeveer 63,4% van alle werkloses in ons land verteenwoordig.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkryging- en tenderpublikasiediens.

Meer oor:  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Vaklui  |  Finaweek  |  Geleenthede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.