Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Platinumgroepe glinster op JSE
4 April 2019

Dat ses uit die top tien sterkste aandele onder die 100 grootste maatskappye op die JSE – soos gemeet aan markkapitalisasie – tans bestaan uit ondernemings wat platinumgroep-metale ontgin, verteenwoordig ’n brokkie beursgeskiedenis.

Swak vertoning van JSE

Sover vasgestel kan word, het dit nog nooit voorheen gebeur nie en is dit die regstreekse gevolg van veral rekordpryse vir palladium en verwagtinge dat die ander platinumgroep-metale, veral platinum, nog ’n ruim stygfase kan beleef. Dit gebeur te midde van ’n JSE wat maar steeds swak vertoon.

Onder die 100 grootstes lê net 38% tans bokant hul 200-daagse eksponensële bewegende gemiddeldes. Selfs Lonmin, wat vir soveel jare onder die swakste aandele – dikwels as dié swakste – op die lys verskyn het, is besig om te glinster. Hy het sedert ’n laagtepunt in Julie opgeskiet met sowat 132% sodat hy tans die derde sterkste is.

Dit val natuurlik ook saam met sy voorgenome inskakeling by Sibanye-Stillwater wat in vierde plek is. Daar is tans buitengewone belangstelling in Sibanye weens ’n magstryd waarin sy uitvoerende hoof, Neal Froneman, verkeer met Joseph Mathunjwa, leier van die Association of Mining and Construction Union (Amcu).

In mynkringe word gemeen dat die uiteinde van dié magstryd ’n belangrike uitwerking kan hê op die rol wat vakbonde vorentoe vervul. Daar word beweer dat een van President Cyril Ramaphosa se belangrikste take ná die verkiesing juis gaan wees om die groot rol wat die vakbonde in die SA politiek speel aan bande te lê.

Daar is net te veel gevalle waar die stert (vakbonde) die hond (regering) swaai. Dis wat Amcu nou probeer doen. Hy wil ’n staking by sekere goudmyne uitbrei tot ’n nasionale saak. Die magstryd spruit uit ’n staking wat Amcu uitgeroep het by Sibanye se goudmyne en wat al sedert November aan die gang is.

Om druk op Froneman uit te oefen, dreig Mathunjwa om simpatie-stakings by ander myngroepe se goudmyne, asook sekere platinum-myne, te organiseer. Sibanye het hom op die howe beroep om dit te keer en die saak gewen. Dit het ’n positiewe uitwerking op Sibanye se aandeelprys gehad.

Die ondermyning van magsposisie

Sibanye se troefkaart is die sterk kontantvloei van sy Stillwater-filiaal in Amerika, wat soos een ontleder dit gestel het, tans dollars druk weens die rekordpryse wat hy veral vir sy groot produksie van palladium, ontvang. Froneman kan dus onbepaald uithou, terwyl Amcu se lede swaarkry. Misluk Amcu se aanslag kan dit sy magsposisie sterk ondermyn.

Die land kan dit net nie bekostig dat, soos in 2014, die produksie van ’n hele bedryf – platinum – met stakings lamgelê word nie. Hoe dit ook al sy, daar is tans wye belangstelling om in platinum te belê, soos blyk uit verslae waarin die aandele aanbeveel word. ’n Ontleder by Coronation, Nicholas Hops, sê byvoorbeeld in ’n uitstekende ontleding dat die aanvraag vir voertuigkatalisators onderskat word. (Voertuie is verantwoordelik vir sowat 70% van die vraag na die metale).

nder die swakste aandele kry Shoprite, Massmart en Mr Price waarskynlik die meeste aandag. Wat in verslae deurkom, is dat aandele soos hierdie ’n goeie potensiaal het vir herstel mits die ekonomie kan begin groei.

Hy wys daarop dat wetgewing in China, die wêreld se grootste mark vir motorvoertuie, gaan lei tot die strengste vereistes ter wêreld teen giftige uitlaatgasse. Sy slotsom is dat daar ’n stygende vraag na die metale op langer termyn gaan wees. Amplats en Northam beskou hy as die beste gehalte-aandele in die sektor.

Onder die swakste aandele kry Shoprite, Massmart en Mr Price waarskynlik die meeste aandag. Wat in verslae deurkom, is dat aandele soos hierdie ’n goeie potensiaal het vir herstel mits die ekonomie kan begin groei.

Oor Tongaat Hulett, die swakste aandeel, heers daar net algemene mismoedigheid. Onder die aandele wat deurgebreek het, is dit opvallend dat AB InBev, Barloworld, British American Tobacco (BAT) en MTN almal in koopgebied lê op hulle 200-daagse EBG’s. Sasol lyk ook interessant en word ondersteun deur ’n stygende prysvolume-tendens wat op akkumulasie dui.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za Lucas de Lange is ’n voormalige redakteur van finweek en die skrywer van twee boeke oor beleggings.
/
Meer oor:  Finweek  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.