Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Platinumgroepe troon uit
7 November 2019

Die mate waarin hulpbron- aandele die JSE oorheers, word bevestig deurdat die toptien sterkste aandele, met die uitsondering van Clicks, tans – soos gemeet aan die persentasie-verskil tussen die markprys en die aandeel se 200-daagse eksponensiële bewegende gemiddelde (EBG) – uit dié riskante afdeling afkomstig is.

Wat ietwat verbaas, is dat Sibanye-Stillwater bo die res van die mark uittroon. Sy aandeelprys het sedert ’n laagtepunt van net minder as 700 sent in Julie verlede jaar met meer as 280% tot in die omgewing van 2 600 sent gestyg. Die rede hiervoor is nie ver te soek nie.

Sibanye se prys was lank onder druk, onder meer weens die berg skuld wat hy moes aangaan om die Stillwater-groep in Amerika oor te neem. Maar met die hoë pryse wat die platinum-groep van metale tans geniet – ook Stillwater ervaar sterk kontantvloei – kan daar ’n belangrike duik aan die hoë skuldvlak gemaak word. Mits die gunstige pryse natuurlik gehandhaaf word. Stillwater is ’n belangrike produsent van palladium.

Ook Impala Platinum (Implats) se posisie verbeter te midde van sy beoogde oorname van North American Palladium (NAP) wat sowat 200 000 onse tot sy uitset sal byvoeg. Die prys is R1,4 miljard vir NAP, wat sou beteken dat Implats swaar op skuld sal moet staat maak. Maar die hoë pryse vir die platinum- groep metale is ook besig om die prentjie vir Implats te verander weens sy kontantvloei wat besig is om op te skiet.

Palladium het byvoorbeeld onlangs ’n rekordprys van net meer as $1 800 per ons in New York bereik wat ’n vet wins van sowat $1 000 per ons vir NAP laat. Sy produksiekoste is sowat $800 per ons. Ongeveer 85% van palladium word gebruik vir die suiwering van petrolgedrewe motors se uitlaatselsels.

Streng wetgewing om besoedeling te bestry in die groot markte, veral in die geval van Europa en China, verseker dat die vraag nie maklik sal afneem nie. Trouens, daar is aanduidings dat China – die wêreld se grootste mark vir motorvoertuie – besig is om palladium op te pot – waarskynlik omdat ’n tekort vir ’n geruime tyd verwag word.

Volgens die internasionale Johnson Matthey-groep, wat die suiweringseenhede vervaardig, is stellings ongegrond dat goedkoper platinum vir palladium kan vervang. Heelwat navorsing sal nog gedoen moet word indien met platinum ’n soortgelyke doeltreffendheidsvlak bereik wil word, sê die groep. Onthou egter dat kommoditeite siklies van aard is.

’n Tendens kan gou en selfs onverwags verander. Dit is in teenstelling met Clicks, die enigste aandeel buite hulpbronne wat homself in hul geselskap bevind. Clicks het weereens puik resultate gelewer, wat hom ver bo die ander kleinhandelaandele laat uitstaan. Hy het in die afgelope vyf jaar sy aandeelhouers met prysgroei van 360% beloon, plus bestendige dividende.

Hy’s duur, sy prysverdienste-veelvoud (p/v) is in die omgewing van 35 en die dividendopbrengs ’n skrale 1,6%, wat bewys hoe hoog die mark bereid is om maatskappye wat in moeilike markomstandighede presteer, aan te slaan. Die ander nie-hulpbronaandele wat volg op Clicks, is Capital & Counties en Pioneer Foods wat stewig staan weens oorname-aanbiedinge.

Daar was sedert my rubriek in die 10 Oktober-uitgawe van ’n matige verbetering op die JSE: sowat 44% van die top100 aandele lê nou bokant hul 200-daagse EBG’s teenoor 37% enkele weke gelede. Dit word dan ook weerspieël in die aandele wat deurgebreek het en interessant lyk. Pick n Pay het sterk opgeskiet sedert sy goeie resultate wat onlangs aangekondig is.

Sy prysvolume-tendens (PVT)* het ook ’n mooi koopteken gegee wat op koopdruk dui. Nog aandele onder die hofie Breek Deur wat interessant lyk, is Barloworld, Hammerson en PSG.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Lucas de Lange is ’n voormalige redakteur van finweek en die skrywer van twee boeke oor belegging.

* PVT word bereken deur die volume met die persentasie prysverandering te vermenigvuldig en dit grafies aan te dui.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.