Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Pryspatrone verduidelik
18 April 2019
Petri Redelinghuys is ’n handelaar en die stigter van Herenya Capital Advisors.

In hierdie uitgawe, wil ek graag na ’n paar patrone kyk en uitvind wat hulle aan ons sê met betrekking tot pryshandeling en ook hoe om hulle te verhandel, hoe om risiko te bestuur en wat om te verwag van moontlike transaksies gegrond op hierdie patrone.

Soos ek in my vorige artikel (uitgawe van 4 April) genoem het, waarborg hierdie patrone nie dat die prys van die instrument gaan beweeg soos ons verwag nie.

Die patrone verteenwoordig eerder toekomstige bewegings met ’n waarskynlikheid van meer as 50/50 dat hulle sal beweeg soos hulle in die verlede met soortgelyke pryspatrone beweeg het. Niks in die mark kan gewaarborg word nie en as handelaars is dit ons taak om geleenthede te vind waar die kans op sukses groter as mislukking is.

Daar is drie verskillende soorte pryspatrone, elk heel eenvoudig: voortsettingspatrone, omkeerpatrone en bilaterale patrone. Voortsettingspatrone toon dat die heersende tendens waarskynlik gaan voortduur nadat die patroon breek. Omkeerpatrone toon dat die tendens wat in die patroon inlei, na die uitbreking kan verander.

Bilaterale patrone verteenwoordig ’n kans van meer as 50/50 dat die prys óf in dieselfde rigting as die tendens beweeg óf omkeer en in die teenoorgestelde rigting as die heersende tendens sal uitbreek.

Tendensvoortsettingspatrone

Reghoekige formasies

Hierdie patrone toon twee teenoorgestelde kragte van vraag en aanbod (groot kopers en verkopers wat op spesifieke vlakke verskans is, met ’n soort van ’n toutrekkery tussen hulle. Hier, as die prys daal tot by waar die koper bereid is om te koop, staar die verkopers ’n muur van aanbiedinge in die gesig wat, hoe hard hulle ook al probeer, hulle net nie alles kan verkoop nie.

Ander kopers word nou verplig om hoër te bie as die groot koper en hulle jaag die prys op tot waar die verkoper bereid is om te verkoop. Dié keer maak dit nie saak hoeveel hulle koop nie, die verkoper is stewig in die saal en uiteindelik raak ander verkopers desperaat en bied aandele teen ’n laer prys as die groot verkoper aan en dan begin die prys daal.

Hierdie tendens vind ’n paar keer plaas en vorm dus die patroon. In hierdie geval is die groot koper sowel as die verkoper bewus van mekaar en uiteindelik rond een van hulle sy bestelling af. Die ander besef dit dan en word verplig om die prys te verander om die res van sy bestelling te voltooi en derhalwe die uitbreking.

In die algemeen dui reghoeke aan dat die heersende tendens gaan voortduur. ’n Uitbreking (wat aangedui word deur ’n sluitingsprys buite dié van die formasie) word verhandel met ’n keerverlies in die middel van die strek.

Vir konserwatiewer handelaars, word die teikenprys bereken deur die prysstrek van die reghoek te meet en dit in die rigting van die uitbreking te projekteer. Aggressiewer handelaars kan toelaat dat die transaksie saam met ’n sloerende keerverlies plaasvind.

Wigformasies

Hierdie tendensvoortsettingspatroon kom gewoonlik voor as sekondêre of tersiêre tendense (teentendensterugsakkings). In dié patroon is die algehele marktendens betreklik sterk en groot spelers neem óf teentendens-posisies óf neem wins van die tafel af.

Dit druk die prys ’n tyd lank in die teenoorgestelde rigting as die primêre tendens, hoewel (in die geval van ’n dalende wig) die vraag sterk genoeg is om die prys te laat terugspring sodra die haastige handelaar sy bestelling afgehandel het. ’n Uitbreking word verhandel met ’n keerverlies benede sy absolute laagtepunt (of absolute hoogtepunt) in die formasie (wat die jongste sal wees).

Konserwatief gesproke word die teikenprys bereken deur die prysstrek van die eerste volle beweging tussen die hellende steun en weerstandslyne te meet (die eerste beweging wat albei kante van die konsolidasie – aan die vet kant van die wig raak) en dit in die rigting van die uitbreking te projekteer. Aggressiewe handelaars kan toelaat dat die transaksie saam met ’n sloerende keerverlies plaasvind.

Vlagformasie (simmetriese driehoek)

Hierdie formasie verteenwoordig vraag en aanbod wat mekaar verdruk. Dit kan nie eenvoudiger wees nie.

Groot koopvolumes word bevredig deur groot verkoopsvolumes en albei kante is betreklik haastig om hul bestellings af te handel. Dis egter ’n netelige formasie omdat (afhangende van wie jy vra) dit as tendensvoortsettingspatroon én tendens- omkeerpatroon beskou kan word, dus bilateraal. Wel, ja. Maar ook nee.

Dit kan ’n sterk tendensvoortsettingspatroon asook ’n bilaterale patroon wees, afhangende van waar dit gevind word. Dikwels sal dié vlaggies (of simmetriese driehoeke) ’n valse sein gee deur eers in ’n spesifieke rigting uit te breek en dan na die formasie terug te kom en weer in die ander rigting uit te breek.

Dis belangrik om die volume dop te hou (soos dit die geval met alle formasies is). As daar ’n groter volume as gewoonlik verhandel word wanneer die uitbreking plaasvind, is dit gewoonlik in dié rigting waarin dit sal aanhou beweeg.

'n Uitbreking word verhandel met ’n keerverlies by die mees onlangse hoogtepunt (of laagtepunt) in die formasie. Konserwatief gesproke bereken mens die teikenprys deur die prysstrek van die eerste volle beweging binne vlag se vet kant te meet en in die rigting van die uitbreking te projekteer.

Aggressiewe handelaars kan toelaat dat die transaksie saam met ’n sloerende keerverlies plaasvind. Ons sal in die volgende uitgawe voortgaan met omkeer- en bilaterale patrone. Lekker verhandel!

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Petri Redelinghuys is ’n handelaar en die stigter van Herenya Capital Advisors.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.