Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Rig trusts vir kinders op
30 Julie 2020

'n Trust word opgerig wanneer iemand die eienaarskap van hul eiendom oordra, of “dit in ’n trust sit” – wat dan ’n instrument met ’n afsonderlike regspersoonlikheid word.

Die eiendom wat oorgedra is, word tot voordeel van gespesifiseerde kinders geadministreer en bestuur, ingevolge die Wet op Trusteiendomsbeheer, 57 van 1988 – die wet wat trusts in Suid-Afrika beheer. Dié wet bepaal dat trustees aangestel moet word wie se hoofverantwoordelikheid dit is om die trust se bates tot voordeel van die bevoordeeldes te administreer en bestuur – wat in dié geval die stigter se kinders sal wees.

Elmarie Neilson, enkelpraktisyn van Neilsons Attorneys

Die trust ontstaan nadat dit by die meester van die hooggeregshof geregistreer is – wat ’n magtigingsbrief aan die aangestelde trustees moet uitreik wat hulle die mag gee om om namens die bevoordeeldes op te tree. In gevalle waar ’n minderjarige geld erf sonder dat ’n trust bestaan, sal dit gehou word deur die Voogdyfonds, wat deur die meester geadministreer word, en by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) belê word totdat die kind 18 is, sê Elmarie Neilson van Neilsons Attorneys.

“Die kind moet dan weet dat hulle die Voogdyfonds moet nader om op te eis wat aan hulle verskuldig is,” sê sy. ’n Trust vermy die regering se eisproses, wat geneig is om lank te neem en deur burokratiese rompslomp belemmer word, deur dit byvoorbeeld vir ouers moontlik te maak om trustees te kies en aan te stel wat geld namens die minderjarige sal hou totdat hulle ’n sekere ouderdom bereik.

“Trustees se rol is nie om na minderjariges om te sien nie, maar om finansiële besluite ingevolge die trustakte te neem,” sê Neilson. Daar is baie redes om trusts vir minderjariges op te stel, sê Claire Thomson, direkteur van Witz Inc. Sy noem sommige situasies uit die regte lewe wat daartoe lei dat mense dit opstel.

Dit wissel van grootouers wat nie wil hê dat die geld in die ouers se hande beland nie, maar eerder aan kleinkinders bestee moet word; of ’n geskeide ouer wat nie wil hê dat die ander ouer geld moet opeis wat vir die kinders bedoel is nie; tot ouers wat bates vir hul kinders wil afkamp en byvoorbeeld die bates teen krediteure wil beskerm.

Voordele

Claire Thomson, direkteur van Witz Inc

Die oorheersende tema en voordeel van die opstelling van ’n trust is klaarblyk beskerming. “Trustbates word teen die ouers se krediteure beskerm. Trustbates kan aanhou groei sonder om onderwerp te word aan die onbestendigheid van die lewe wat inkomsteverdieners raak,” sê Thomson.

Onthou dat ’n trust ’n afsonderlike regsidentiteit het. Dit beteken dat daar nie geraak kan word aan die bates waarvan die ouer eienaarskap na die trust oorgedra het in die geval van likwidasie, sekwestrasie (persoonlik of sakeverwant) of selfs egskeiding nie. Krediteure kan nie die trustbates teiken nie, want hulle vorm nie deel van die persoonlike boedel nie. Alles is egter nie net goed nie.

Omdat die trust ’n afsonderlike regspersoon is, is dit soos enige ander natuurlike en regspersoon aanspreeklik vir belasting. Nog ’n voordeel is die gemak waarmee geld wanneer nodig vir die onderhoud en welstand van die kinders geredelik beskikbaar gestel word aan die minderjariges, anders as die burokratiese proses om in die geval van die Voogdyfonds deur die meester van die hooggeregshof te werk.

“Die Voogdyfonds laat onttrekkings tot voordeel van minderjariges vir onderhoud toe, byvoorbeeld vir skoolgeld, klere, mediese uitgawes, akkommodasiekoste en ander behoeftes as dit deur die kind se voog gemotiveer word. Die meester kan in dié verband uit rente betaal, asook tot R250 000 uit die kapitaal wat belê is,” sê Thomson.

Deur ’n trust op te stel, kan kapitaal wat belê is en rente egter tot voordeel van die onderhoud van die minderjarige gebruik word, sê sy. “Trustees kan ook tot voordeel van die minderjarige beleggingsbesluite neem oor die geld wat in trust gehou word.”

Belasting en foute

Die oordrag van bates na die trust het wel belastinggevolge, want óf die trust ontvang die bates as ’n skenking (skenkingsbelasting), óf koop die bates (byvoorbeeld, hereregte en oordragkoste in die geval van vaste bates), sê Neilson. Sy sê trusts was baie dekades lank perfekte belastingbesparende instrumente. “Die afgelope dekade of wat het die regering egter die belastingkoers vir trusts verhoog tot waar trusts teen dieselfde koers as individue belas word.”

Al het dit daartoe gelei dat baie finansiële adviseurs hul kliënte afraai om trusts op te rig, sê Neilson, prokureurs en finansiële kenners raai hul kliënte steeds aan om trusts op te stel omdat die voordele veel groter as die belastingimplikasies is. Een van die algemene foute wat trustees maak, is volgens haar om te vergeet dat belastingopgawes dalk ingedien sal moet word.

Julie is trusts se indieningstydperk in SA – die maand waarin die SA Inkomstediens verteenwoordigende belastingbetalers van trusts (trustees) versoek om ITR12T-vorms (inkomstebelastingopgawes vir trusts) in te vul en in te dien.

Julie is trusts se indieningstydperk in SA – die maand waarin die SA Inkomstediens verteenwoordigende belastingbetalers van trusts (trustees) versoek om ITR12T-vorms (inkomstebelastingopgawes vir trusts) in te vul en in te dien.

Die inkomstebelastingwet beskou ’n trust as ’n regspersoon, en daarom is dit aanspreeklik om belasting te betaal op inkomste wat in ’n boekjaar gegenereer is. Nog ’n algemene fout wat sy noem, is dat oprigters van trusts dikwels nie besef dat ’n trust bestuur moet word nie. “Resolusies moet goedgekeur word wat die trustees magtig om sekere dinge te doen. As ’n trust byvoorbeeld vaste eiendom koop, moet die trustees eers ’n resolusie goedkeur om die koop van die eiendom te magtig. As dit nie gedoen word nie, kan die koopkontrak ongeldig wees, en skadevergoeding kan van die trust geëis word.”

Aanstel van trustees

Neilson raai kliënte aan om ter wille van aanspreeklikheid nooit net een trustee te hê nie. Sy raai hulle ook nie aan om twee trustees te hê nie om ’n dooie punt te vermy as hulle oor ’n besluit verskil, maar om eerder drie trustees te hê.

“Een trustee moet finansieel kundig wees; ’n ander trustee moet op die belange van die kinders ingestel wees; en die derde trustee moet moreel en eties bo verdenking wees. Die derde trustee kan die morele rigtingwyser wees.” Thomson sê: “Trustees moet betroubaar wees.” Sy sê hulle moet mense wees wat die kind se belange in gedagte hou en goeie besluite oor die gebruik van geld tot voordeel van die kind kan neem. Die trustees “moet ook goeie finansiële kennis hê, of die vertroue hê om ’n finansiële adviseur se dienste te gebruik om hulle te lei om toepaslike en finansieel gesonde beleggingsbesluite tot voordeel van die kind te neem,” sê sy.

Word trustees jou kinders se wetlike voogde?

Die voogdyskap van kinders word deur artikel 18 van die kinderwet beheer, terwyl die rol van trustees deur die gemenereg en die wet op trusteiendomsbeheer gereël word, sê Elmarie Neilson van Neilsons Prokureurs.

Die trustakte sit trustees se magte uiteen met verwysing na die wet op trusteiendomsbeheer. “Dit behels gewoonlik die koop, verkoop of beswaring van vaste eiendom, kontantbelegging, om skoolgeld te betaal en die kinders te onderhou,” sê sy.

Terwyl ’n voog óf in ’n testament óf op versoek deur die hooggeregshof aangestel kan word, sê Claire Thomson van Witz Inc. dat ’n trustee ’n wetlike voog kan wees, maar die twee (trustee en wetlike voog) is nie dieselfde ding nie.

Meer oor:  Finweek  |  Kinders  |  Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.