Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA benodig ferm leierskap
13 September 2018
President Cyril Ramaphosa

Oor leierskap sê die Oostenryks-gebore konsultant en skrywer Peter Drucker: “Doeltreffende leierskap gaan nie oor toesprake of gewildheid nie; leierskap word bepaal deur resultate, nie eienskappe nie.”

Die regering van voormalige president Jacob Zuma het Suid-Afrika in diep waters gedompel. Die land het nou ferm leierskap nodig om uit die moeras te ontsnap – op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak – maar ook in die sakewêreld, by skole en universiteite en van tradisionele leiers.

President Cyril Ramaphosa het die hoop vir ’n beter Suid-Afrika laat opvlam, maar die uitdagings is enorm. Suid-Afrikaners se grootste nagmerries sluit in die skrikwekkend hoë werkloosheidsyfer, grootskaalse korrupsie, minderwaardige onderwys (dikwels in gebiede waar goeie onderwys juis die kringloop van armoede sou kon beëindig) en wetteloosheid. Ons wil graag optimisties bly dat die land en sy mense ’n beter toekoms kan tegemoetgaan, maar dit sal vereis dat almal van ons die regte dinge doen. Sterk leierskap vorm die kern hiervan.

Die grondkwessie Die vraag is nie óf daar ’n billike herverdeling van grond moet wees of nie, maar eerder hóé ons as Suid-Afrikaners dit moet doen. Alle Suid-Afrikaners moet toegang tot grond hê, gegrond op die land se demografie. Dit is die regte ding om te doen. Dit sal sterk leierskap verg.

Dit moenie ten koste van voedselproduksie, die ekonomie en die land se broodnodige inkomste uit uitvoer en buitelandse beleggings wees nie. Die grond is meesal onder verband by banke en ons durf nie ons bankstelsel in gevaar stel nie. Mens moet ook onthou dat alle vorme van produksie meehelp om belasbare inkomste te skep, waarop ons maatskaplike toelaestelsel swaar steun. Die herverdeling van grond mag nie ontaard in ’n politieke magspel nie.

Dit moet daaroor gaan om die regte ding op die regte manier te doen, en dit moet in die beste belang van die land gedoen word. Ek twyfel nie dat president Ramaphosa weet watter ekonomiese, maatskaplike en politieke gevolge dit sal hê as die onteiening van grond nié reg gedoen word nie.

Ons wil graag optimisties bly dat die land en sy mense ’n beter toekoms kan tegemoetgaan, maar dit sal vereis dat almal van ons die regte dinge doen.

Hy verstaan die ekonomiese wêreldorde waarbinne Suid-Afrika funksioneer. Ek verstaan ook watter balanseertoertjie hy binne die ANC moet uitvoer, waar ’n Zuma-faksie hom ten alle koste wil laat misluk. Soos die uitgeslape onderhandelaar wat in die tydperk voor 1994 gehelp het om die demokratiese bestel tot stand te bring, moet hy egter weer eens almal in ons samelewing aan boord kry.

Hy moet vreesloos met al ons mense, ook ons kommersiële boere, in gesprek tree. Niemand sal dit as swakheid vertolk nie. Georganiseerde landbou het male sonder tal sy bereidwilligheid gewys om by die grondhervormingsvraagstuk betrek te word om ’n wen-wen-situasie te verseker.

Bonginkosi Dhlamini

Die grondkwessie is belangriker as die ambisies van ’n enkele politieke entiteit. Dit is nie iets wat net een politieke of rasgroepering kan oplos nie. Dit vereis van ons almal om saam te werk om ’n blywende oplossing te vind. Korrupsie en wetteloosheid President Ramaphosa het sedert sy aanstelling vroeër vanjaar gewys dat hy die politieke wil het om korrupsie te pak.

Die skoonmaakproses by staatsondernemings onder leiding van minister Pravin Gordhan is bewys daarvan. Uitdagings is daar egter steeds. Die vinger word dikwels na senior leiers binne die ANC gewys. Die ondersoek na staatskaping het afgeskop en nog bewyse van korrupsie deur senior politici, staatsamptenare, mense met politieke bande en leiers in die korporatiewe sektor sal na vore kom. President Ramaphosa moet die instellings versterk wat die regering se gebuite geld en bates moet terugkry. Hy moet toesien dat alle wetstoepassingsagentskappe bekwame leiers het.

Dié instellings en Hoofstuk 9-instellings, soos die Openbare Beskermer, moet onafhanklik wees. Wetteloosheid vereis leierskap van die president. Die afbrand van infrastruktuur, treine, busse, vragmotors en skole kan nooit geregverdig word nie. Dit vereis onmiddellike optrede om oortreders vas te vat. Korrupsie ken geen grense nie. Dit het ons onlangs gesien, met verskeie groot maatskappye wat by onregmatige en misdadige bedrywighede betrek word.

Leiers in die private én openbare sektore wat aan korrupsie skuldig bevind word, moet tronkstraf uitdien. Die land se leiers moet in die aanloop tot die verkiesing reguit praat en die moed hê om ongewilde besluite te neem – ongeag moontlike politieke verliese. Die mense van Suid-Afrika wil resultate van ons leiers sien – leiers wat ons mense se nagmerries pak.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Bonginkosi Dhlamini was personeelhoof in die kantoor van die Openbare Beskermer onder advokaat Thuli Madonsela. Hy is tans besturende direkteur van die Thuma Foundation. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.