Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA ekonomie se sterkpunte gemeet
13 September 2018

Die woorde “grondonteiening sonder vergoeding” het ’n nagmerrie-scenario vir baie Suid-Afrikaners opgeroep. Daar is vrese dat ’n baie werklike gevaar bestaan dat hul land nou dieselfde vernietigende pad sal volg as wat Zimbabwe amper tweede dekades gelede ingeslaan het.

Kevin Lings, Stanlib-ekonoom

Robert Mugabe se politiek dienstige strategie om ontevrede burgers aan te moedig om kommersiële plase in hoofsaaklik wit besit oor te neem (wat hy versnelde grondhervorming genoem het) het Zimbabwe se landbou-ekonomie basies vernietig.

Ná ’n lang tydperk van hiperinflasie is die ekonomie nou die helfte so groot as in 2000, daar is ’n werkloosheidskoers van 90% en die land worstel met $9 miljard se buitelandse skuld. Hy het nie sy eie geldeenheid nie.

Daar is bykans geen kans dat Suid-Afrika se groter, internasionaal geïntegreerde en meer gesofistikeerde ekonomie in dié toestand sal verval nie. “Geen aanduiding bestaan dat dié soort agteruitgang posvat nie,” sê Kevin Lings, ekonoom by Stanlib. “Die oppergesag van die reg is betroubaar; die hofstelsel werk; en daar is geen massakapitaalvlug nie. Maatskappye haas hul nie na die buiteland, sluit afdelings en dank mense af nie. Daar is uitsonderings, maar dis nie die norm nie.”

Die openbaarmakings uit ondersoek na staatskaping gee gewig en besonderhede oor die bewerings teen Zuma en sy kamerade. Die gemors gee Suid-Afrikaners egter baie rede om op die negatiewe te fokus.

Die afgelope drie jaar se gebeure het ook gewys dat oudpresident Jacob Zuma nie Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie kon verpletter nie. Zuma is in Februarie in ’n wettige politieke proses uitgeskop ná maande van aktivisme teen hom en sy sakebondgenote.

Daarteenoor is Mugabe in ’n “sagte” staatsgreep onder beheer van dié land se weermag verwyder. Korrupsie kan jare lank in Suid-Afrika voortduur, maar die reuse proses het begin om die regering van die grootste skuldiges te suiwer.

President Cyril Ramaphosa se kabinet is dalk nie ideaal nie, maar mense met ’n bewese prestasiegeskiedenis wat verstaan hoe belangrik die private sektor se betrokkenheid is, is in sleutelposte aangestel, soos Nhlanhla Nene as minister van finansies en Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, in die nuutgeskepte pos van minister van staatsondernemings. Sy taak is om die balansstate en bestuur van verlamde en skuldoorlaaide staatsondernemings te herstel.

Gordhan het begin deur die direksies van Eskom, Denel, SA Express en Transnet te vervang. Tom Moyane, Zuma se trawant by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is geskors en wanadministrasie word ondersoek.

Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die SAID, het die instelling se eenheid vir groot sake en span vir onwettige handel heringestel nadat Moyane hulle ontbind het. Shaun Abrahams, voormalige nasionale direkteur vir openbare vervolging, het afgetree nadat die konstitusionele hof sy aanstelling ongrondwetlik bevind het, en die hoof van die Valke se korrupsie-eenheid, genl.maj. Zinhle Mnonopi, is geskors ná bewerings dat sy die ondersoek na die Guptas se onwettige bedrywighede probeer keer het.

Thuli Madonsela, Voormalige Openbare Beskermer

Die belangrikste is dat ’n geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping ingestel is in ooreenstemming met die aanbeveling van Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer se 2016-verklikkerverslag. Onthullings uit dié ondersoek gee gewig en nog besonderhede oor bewerings teen Zuma en sy kamerade.

Die gemors gee Suid-Afrikaners egter baie rede om op die negatiewe te fokus. “Die huidige sentiment word waarskynlik aangeblaas deur groter deursigtigheid en die ondersoek na staatskaping waar al hoe meer dinge blootgelê word en wys hoe sleg (die situasie) regtig is, en wat alles reggestel moet word,” sê Tanya Cohen, uitvoerende hoof van Business Unity South Africa. Dit geld ook vir die werk van die kantoor van Kimi Makwetu, ouditeur-generaal, aangesien sy kantoor nooit verhinder om die geplunder van munisipale geld te ontbloot en te wys hoe magsmisbruik die laaste paar jaar toegeneem het nie.

Cohen wys daarop dat die besluit van Gwede Mantashe, minister van mineraalhulpbronne, om ’n omstrede Wet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumhulpbronne te onttrek, “ware interaksie” tussen sake en die regering is wat die ekonomie nog kan bevoordeel. “Dié verhoudinge is baie opbouend,” sê sy. “Die sakesektor is lank nie as ’n strategiese vennoot erken nie, maar ek glo ons is nou op ’n beter pad.”

Een van die sterkste mosies van vertroue in Suid-Afrika is dat hy ’n staatseffektemark het wat groot is en aktief verhandel word, en steeds gemaklik geld kan verkry deur effekte in buitelandse geldeenhede uit te reik. Die graderingsagentskap Moody’s het in Maart nie net sy kredietgradering van Suid-Afrika op beleggingsgraad gehou nie, maar ook die vooruitsig van negatief tot stabiel verander en dit opgevolg met ’n verklaring middel Augustus waarvolgens hy steeds verwag dat die land sy fiskale teikens sal haal.

“Voortgesette hervorming om die bestuur by die SAID te verbeter en belastingontduiking te bestry, sal belastinginvordering op mediumtermyn ondersteun,” sê Moody's. Laastens – oor die kwessie van grondinvalle – meen George Glynos, besturende direkteur van Econometrix Treasury Management, dis nie ’n opsie nie.

“Dinge sal wettig gebeur. Grond-hervorming is ’n vereiste vir stabiliteit in die land en as dit slim hanteer word, kan dit werk. Daar is heelwat onderbenutte private en staatsgrond.” Grondbesetting in stedelike gebiede vind al jare lank plaas deurdat daklose mense hutte op leë stukke grond oprig. In die meeste gevalle word hulle van die grond verwyder, aangehou of in hegtenis geneem en strukture word vernietig. Ramaphosa het herhaaldelik gesê dat grondinvalle nie geduld sal word nie. 

* Foto's: Verskaf, Gallo/Getty Images, Shutterstock

Meer oor:  Ekonomie  |  Finweek  |  Grondonteiening  |  Ekonomiese Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.