Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA pluimveebedryf vasberade om sy vere reg te skud
27 Augustus 2020

In belang van Suid-Afrika lewer plaaslike pluimveeprodusente ’n groot bydrae tot voedselsekerheid, vroeë kinderontwikkeling en die skep van broodnodige werksgeleenthede.

Die plaaslike pluimveebedryf slag net minder as 20 miljoen braaikuikens per week. Maar reeds voor die uitbreek van Covid-19 het syfers getoon dat die groei in plaaslike produksie nie met die groeiende verbruikersvraag tred gehou het nie. Volgens ontledings is dié tekort in groei te wyte aan Amerika, Brasilië en sekere EU-lande se storting van oorskotproduksie op die plaaslike mark.

Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SA Pluimveevereniging
Wêreldproduksie

Amerika voer 40% van sy produksie uit. Só sê Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SA Pluimveevereniging (SAPA) se braaikuikenprodusente-organisasie. Voor die aanvang van die handelsoorlog tussen Amerika en China, het laasgenoemde vanweë sy proteïentekort weens vark- en voëlgriep baie Amerikaanse pluimveevleis ingevoer.

“Weens dié handelsoorlog voorsien Brasilië nou in baie van China se pluimveebehoeftes, terwyl Amerika meer pluimveevleis na onder meer SA uitvoer.” Dit pas Amerika, wat die voordele van die laaste verlenging van sy Afrika-groei-en- geleentheidswet (Agoa), in die geval van

Volgens die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), produseer Amerika 18% van die wêreld se pluimveevleis, gevolg deur China, Brasilië en die Russiese Federasie. In 2017 het pluimvee sowat 37% van die wêreld se vleisproduksie uitgemaak.

SA aan pluimvee- uitvoere hierheen onderhewig gemaak het.

’n Ooreengekome tariefkoers-kwota (TRQ) bepaal dat Amerika van 2016 tot 2025 pluimveevleis hierheen mag uitvoer. Dit het op 65 000 ton per jaar begin, maar eskaleer ingevolge ’n formule en is tans ongeveer 69 000 ton per jaar. Volgens die jongste beskikbare statistiek van die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), produseer Amerika 18% van die wêreld se pluimveevleis, gevolg deur China, Brasilië en die Russiese Federasie. In 2017 het pluimvee sowat 37% van die wêreld se vleisproduksie uitgemaak.

Storting wurg SA al lank

Van 2010 tot 2018 het SA se verbruik van pluimveevleis met 2% per jaar toegeneem, terwyl die plaaslike produksie gemiddeld met slegs 1% gegroei het. Boonop was die koers van pluimvee-invoere in die ooreenstemmende tydperk agt maal hoër as die groei van plaaslike produksie. “Dié syfers dui op die omvang van stortings,” sê Breitenbach.

“Volgens Genesis Analytics het invoer in 75% van die groei in vraag voorsien, omdat die plaaslike bedryf te min wins vir herbeleggings gemaak het. Dis regstreeks te wyte aan ander lande met meer bedingingsmag se onregverdige handelspraktyke.” Breitenbach sê sulke praktyke bestaan uit storting, die onderverklaring van ingevoerde produkte om invoertariewe te beperk, en die valse verklaring van produkte wat aan tariewe onderhewig is onder produkname wat tariefvry is.

Ebrahim Patel Minister van handel, nywerheid en mededinging

Hy het gesê dat Brasilië verlede jaar hoenderporsies wat nie ontbeen is nie (bekend as “bone in portions”), as meganies ontbeende pluimveevleis (MDM) na SA uitgevoer het. Daar’s geen invoertariewe op MDM nie, maar wel op nie-ontbeende porsies. “Brasilië het in 2019 aangedui dat hy slegs 10 000 ton MDM hierheen uitgevoer het, maar regeringsdata wys dat daar 350 000 ton ingekom het. Dus het SAPA en die Vereniging van Vleis In- en Uitvoerders (AMIE) in Julie ’n formele ondersoek daaroor aangevra.”

Volgens Francois Baird van die FairPlay Movement is die probleem van stortings tweeledig. Dit ontwrig plaaslike en internasionale voorsieningskettings en sluit in SA se mindere invoer- en beskermende maatreëls teenoor ander streke s’n. Saam het dít tot dusver ’n ommekeer in die te stadige groei van plaaslike produksie verhoed. Nietemin het SAPA reeds voor die uitbreek van Covid-19 in samewerking met die regering en ander rolspelers ’n herstelplan vir die bedryf opgestel. Trouens, die bedryf en die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, het dit reeds in November verlede jaar onderteken.

Die impak van Covid-19

Volgens Breitenbach was die lesse wat SA by Amerika, die EU en Brasilië geleer het dat ons moes probeer voorkom dat nie te veel mense Covid-19 gelyktydig opdoen nie sodat die land se arbeidsintensiewe pluimvee- en ander voedselfabrieke oop kon bly. Die pluimveebedryf het daarin geslaag om produksievolumes op normale vlakke en die waardeketting in stand te hou.

Ondanks fluktuasies is die rand-dollar-wisselkoers oor die algemeen swakker; dus is insette, veral ingevoerde voerentstowwe, duurder. Die verbruik van pluimveevleis het in die tweede kwartaal gedaal. Onder fase 5 van die grendeltyd, was dit 18% laer as die normale verbruik van 200 000 ton per maand, gevolg deur ’n daling van 13% tydens fase 4 en ’n afname van 7% sedertdien.

Covid-19 se nasleep

Kommer oor Covid-19 se ontwrigting van internasionale voorsieningskettings is tydens die onlangse webinaar “Poultry Road to Recovery” uitgespreek. Breitenbach het die geldigheid van sulke vrese bevestig. “Weens die ontwrigting het pluimvee-uitvoere na SA in Mei tot 41 000 ton gedaal (teenoor 51 000 ton in Mei verlede jaar).

Terselfdertyd het verbruik wêreldwyd afgeneem, onder meer in Pakistan met 40%, en voorrade het in koelkamers begin ophoop. Intussen het Covid-19-gevalle reeds in verskeie oorsese lande ’n hoogtepunt bereik. Namate wêreldhandel begin normaliseer, en sodra die vernaamste uitvoerlande nie meer opbergspasie het nie, word ’n nuwe stortvloed van pluimvee-uitvoere na onder meer SA verwag.”

Omvang van die probleem

Volgens regeringsdata is heel hoender onlangs vir so min as R9,99 na SA uitgevoer. “Hoe is dit moontlik? Om stortings te probeer regverdig, is ’n wanpersepsie geskep dat dit slegs tot die sogenaamde bruinvleis van pluimvee beperk is. Dis ’n onregverdige strategie om marktoegang te kry. Nou blyk dit dat selfs heel hoender hier gestort word,” sê Breitenbach. Konsultantfirma FC Dubbelman en Vennote het bevind meer as 90 % van alle pluimvee-invoere na SA, selfs te midde van Covid-19, word hier teen minder as die produksiekoste en as die verkoopsprys in die land van oorsprong verkoop.

Hoe beskerm SA homself?

Baird sê dat sogenaamde “voorsorg”-tariewe teen alle EU-lande, beginnende by 35,3%, in 2018 aanvaar is, maar dit neem jaarliks af en val in 2023 heeltemal weg. SAPA het egter bevind die stortingsmarges op pluimveevleis uit Duitsland, Nederland en die VK bedra tot 307%. Dus het hy ITAC (die Internasionale Kommissie vir Handelsadministrasie) in Februarie genader om SA se teenstortingstariewe ten opsigte van dié lande te hernu. “ITAC het die bevindings van ons studies gepubliseer en daar is nou ’n jaar lank tyd vir kommentaar,” sê Breitenbach.

Volgens Baird is nuwe MFN-tariewe (vir “most favoured nations”, waaronder Brasilië en Amerika) in Maart vanjaar op snitte wat nie ontbeen is nie van 37 % tot 62 % verhoog, en van 12 % tot 42 % vir ontbeende porsies. Luidens die bevindings van ’n verdere teenstortingsondersoek wat SAPA gedoen het, en in ’n oorsig bevestig is, wissel die marges op storting van pluimveevleis uit Brasilië en vier nuwe EU-lande egter tussen 57% en 176%. SAPA het ITAC dus ook genader om teenstortingsmaatreëls teen dáárdie lande in te stel wat aan dieselfde proses as hierbo vermeld, onderhewig is. “Dis egter ’n stadige proses. Intussen is dit belangrik om die bedryf se nuwe herstelplan vinnig te begin implementeer,” aldus Baird.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Die plaaslike bedryf in syfers

Die pluimveebedryf voorsien 50 000 direkte werksgeleenthede en 130 000 in die algehele waardeketting. Sy jaarlikse omset bedra R48 miljard. Reeds voor die uitbreek van Covid-19 het invoer ongeveer 50 000 ton per maand beloop teenoor Astral Foods, SA se grootste pluimveeprodusent, se uitset van sowat 33 000 ton per maand.

Astral produseer weekliks 5 miljoen braaikuikens vergeleke met die grootste Amerikaanse produsent se 45 miljoen per week. SA se maandelikse produksie bedra 135 000 ton teenoor Amerika se 300 000 ton per maand.

SA is die vyfde grootste invoerder van Amerikaanse pluimveevleis en die derde grootste invoerder van pluimveevleis uit Brasilië (’n land met lae voerkoste en wat al jare lank by aansporings vir landbouproduksie baat). Sowat 47% van SA se kleinskaalse pluimveeprodusente het in 2019 ophou boer weens stortings se vernietigende impak. 

Meer oor:  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.