Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA raak agter met internasionale samesmeltings en verkrygings
27 Augustus 2020

Suid-Afrika se aanloklikheid as ’n bestemming vir buitelandse investering neem af, al bied die land as deel van die kontinentale vryhandelsooreenkoms vir Afrika (AfCFTA) fisieke toegang tot markte op die res van die vasteland.

Laat staan nog om vervaardigde goedere aan Europese en Amerikaanse markte te voorsien. As die mees geïndustrialiseerde land op die vasteland – selfs al wankel vervaardiging onder swak regeringsbesluite en te midde van die wêreldwye gesondheidspandemie – behoort SA ’n voordelige mark vir samesmeltings en verkrygings uit die buiteland te wees. Dis egter nie die geval nie.

Andrew Bahlmann, besturende direkteur van Deal Leaders Africa

Die waarde van samesmeltings en verkrygings het in die eerste ses maande van vanjaar meer as gehalveer teenoor dieselfde tydperk verlede jaar – van $8,2 miljard tot $3,3 miljard, volgens Statista-data wat Andrew Bahlmann, besturende direkteur van Deal Leaders Africa, verskaf het. Die getal transaksies het tussen die vergelykende tydperke van 160 tot 132 gedaal.

SA se bruto binnelandse produk (BBP), die 38ste grootste ter wêreld in huidige Amerikaanse dollar, was verlede jaar $351,4 miljard, volgens Wêreldbank-data. Hongkong, met amper agt keer minder mense as SA, het ’n BBP van $366 miljard.

Die hele Afrika suid van die Sahara het ’n BBP van $1 750 miljard – wat beteken SA se bydrae tot die streek is ’n vyfde van alle geproduseerde goedere en dienste. Vervaardiging het vanjaar sowat 12% van SA se BBP bygedra en toon ’n netto daling sedert die eerste kwartaal van verlede jaar, volgens data van Statistieke SA.

Dis die sektor waarin bestendige werksgeleenthede geskep en uitvoer op groot skaal behaal sou kon word. Hoekom is hierdie syfers belangrik in ’n bespreking van samesmeltings en verkrygings? ’n Samesmelting-en-verkrygingteiken van ’n miljard dollar in SA sal gelykstaande met sowat 0,3% van die BBP wees. In Amerika, met sy ekonomie van $21 400 miljard, sal dieselfde transaksie gelykstaande met 0,004% van die ekonomie wees.

“Een hindernis vir samesmeltings en verkrygings in SA is die grootte van potensiële teikens,” sê Bahlmann, en dat ’n aantal potensiële verkrygers minimum waardes (baie van meer as R1 miljard) vir transaksies gestel het om ’n aanvaarbare opbrengs op bates te behaal. Omtrent dieselfde hoeveelheid tyd en moeite is dikwels nodig vir ’n transaksie van R1 miljard as vir een van R100 miljoen, sê hy.

“Verskeie kopers en beleggers bekyk Afrika nog, veral maatskappye in finansiële tegnologie en sagteware,” sê Bahlman. Daarby neem China se mededingendheid as ’n vervaardigingsbasis en betroubare aanbodkettingvennoot af, sê hy. “Ons het nog ’n robuuste vaardigheidsbasis in verskeie SA sektore.”

Die waarde van samesmeltings en verkrygings het in die eerste ses maande van vanjaar meer as gehalveer teenoor dieselfde tydperk verlede jaar – van $8,2 mjd. tot $3,3 mjd.

Die probleem is egter dat finansiële tegnologie van kliënte se diskresionêre besteebare inkomste afhanklik is. Met die huidige BBP per capita in dollar as maatstaf, vergelyk Afrika suid van die Sahara ongunstig met ander ontluikende markte. Vervaardiging bly ’n sterk geleentheid vir ’n streek met ’n jong bevolking wat teen die inkomsteleer uitstyg.

Bahlmann sê buiten vir sterk groeigeleenthede in SA self, is internasioanel kopers aangetrokke tot besighede met gevestigde markte in die res van Afrika met gediversifiseerde inkomste en wins. Dit lyk dus of SA, as een van die groot dryfkragte agter die AfCFTA, moet sorg dat plaaslike maatskappye se toegang tot die res van die vasteland so maklik moontlik is sodra die ooreenkoms op 1 Januarie aanstaande jaar van krag word (dis weens die Covid-19-pandemie van 1 Julie vanjaar uitgestel).

“Een hindernis vir samesmeltings en verkrygings in SA is die grootte van potensiële teikens.”

Die geleentheid is van korte duur om die afname in China se mededingendheid en internasionale aanbodkettings se wantroue in dié land se betroubaarheid ná die pandemie te benut. Afrika is geografies nader aan Europese en Amerikaanse markte. Tensy Afrika-leiers, wat aan hul prestasiegeskiedenis van die afgelope 60 jaar geoordeel kon word, saamwerk en die vryhandelsooreenkoms so gou moontlik en met minimale burokratiese rompslomp by grensposte ingestel kry, sal lande soos Viëtnam, Indonesië en Kambodja dalk die vervaardigingsvoordele inpalm.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Foto: Verskaf

Meer oor:  Verkrygings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.