Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA se rol in edelmetale-produksie
18 Maart 2021
Foto: Impala Platinum Holdings

Die einde van die Covid-19-pandemie is nog nie in sig nie en mense begin reeds spekuleer oor wat die volgende groot risiko vir die beleggingswêreld gaan wees. Een so ’n risiko moet die bekommernis rondom inflasie wees, wat wêreldwyd kan hand uitruk vanweë die toename in geldvoorraad weens ’n reeks stimuluspakkette.

In plaas daarvan om die potensiële impak te bespreek as Amerikaanse inflasie-risiko’s soos in die 1970’s buite beheer raak, wil ek kyk of daar ’n korrelasie tussen dié inflasiegroei en die opbrengste van edelmetale is. Indien wel, wat sou dit vir Suid-Afrika beteken? As ons die jaarlikse groei van een van die bekendste edelmetale-indekse, die S&P GSCI-edelmetaalindeks, relatief plaas teenoor die jaarlikse Amerikaanse inflasiegroei (VPI), is daar min twyfel dat hierdie twee statisties hand aan hand stap.

Trouens, die korrelasie is baie sterk met edelmetale wat histories baie goed gevaar het in tye waar inflasie die hoogte ingeskiet het. Ek wil dit egter duidelik stel dat die S&P GSCI-edelmetaalindeks net uit goud en silwer bestaan, wat tegnies gesproke nie heeltemal korrek is nie. Kortliks is edelmetale dié metale met ’n hoë ekonomiese waarde.

Goud

Goud bly sekerlik die bekendste edelmetaal en sonder twyfel die een met die grootste aanvraag. Tussen 2009 en 2019, was die vraag na goud nog nooit minder as 4 000 ton per jaar nie. Die uitbreek van die koronaviruspandemie het egter veroorsaak dat die vraag in 2020 tot 3 759,6 ton gedaal het. China is die grootste produsent (383,2 ton) van goud ter wêreld, met Rusland (329,5 ton) in die tweede posisie.

’n Positiewe vraag na goud kan beslis baie goed vir SA wees, siende dat ons die agtste grootste goudprodusent (118,2 ton) ter wêreld is. Gebruike vir goud sluit onder meer juweliersware, elektronika, beleggings en termiese isolasie in.

Silwer

Hoewel silwer net soos goud vir juweliersware gebruik word, het dit met die onlangse nywerheidsmetaallopie in die mark duidelik geword dat silwer in albei kategorieë by die bestes kan byhou.

Dit het die laagste kontakweerstand en het die hoogste elektriese en geleidingsvermoë van al die elemente. In 2019 was die totale vraag na silwer wêreldwyd 30 848 ton. Mexiko was die grootste produsent met 5 919 ton, gevolg deur Peru met 4 211 ton. Hoewel SA, met 56 ton, nie een van die grootste silwerprodusente is nie, is dit interessant dat die 20 grootste maatskappye in die bedryf, name soos Glencore, BHP en South32 insluit.

Platinum

Nes goud is dit smeebaar, uiters dig en uitsonderlik roesbestand. Dis ook byna 15 keer skaarser as goud en die kombinasie van funksionaliteit en skaarsheid maak van platinum sekerlik die gesogste edelmetaal.

Dit word onder meer in juweliersware, katalisators, wapens en tandheelkunde gebruik. In 2018 was die totale aanvraag na platinum 224 ton. Dit is ook waar dinge interessant raak. SA is nie net die grootste produsent van platinum ter wêreld nie, maar het in dieselfde jaar 133 ton van die totale aanvraag geproduseer. Rusland is die tweede grootste produsent met 24 ton.

SA is nie net die grootste produsent van platinum ter wêreld nie, maar het in 2018 133 ton van die totale aanvraag geproduseer.

Palladium

Nes platinum is palladium ook uiters skaars, en dit word ook onder meer vir juweliersware gebruik. Die skaarsheid van die metaal kan beslis in sy prys oor die laaste vyf jaar gesien word met ’n sprong van $600 per ons in 2016, tot die huidige $2 300 per ons. Nes platinum kan dit ook baie waterstof absorbeer en dis bruikbaar omdat dit stabiel onder baie hoë temperature bly.

In 2018 was die totale aanvraag 303 ton, en Rusland was die grootste produsent met 83 ton. SA is die wêreld se tweede grootste produsent met 81 ton oor dieselfde tydperk.

Rodium

Rodium word vir juweliersware en in voertuie gebruik soos in die maak van reflektors en spieëls. Dit is ook skaars, roesbestand en het ’n hoë smeltpunt. As jy dink dat net palladium in aanvraag oor die laaste vyf jaar geraak het, moet jy beslis na rodium se grafiek loer. Nes palladium het dit ook vyf jaar gelede teen rondom $600 per ons verhandel en tans jaag dit jou $26 500 per ons uit die sak.

Schalk Louw is ’n welvaartbestuurder by PSG Wealth Old Oak.

Die totale aanvraag in 2018 was 33 ton. SA is die wêreld se grootste rodiumprodusent met 19 ton en het meer as 50% van die totale aanvraag wêreldwyd gevul. Ek erken daar is steeds ’n goeie debat te voer oor of edelmetale verder kan styg, veral ná goud se ommeswaai sedert Augustus 2020. Daar is egter geen twyfel nie, SA en ons edelmetaalmyne, sal voordeel trek as dit wel gebeur.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Schalk Louw is ’n welvaartbestuurder by PSG Wealth Old Oak.


Meer oor:  Finweek  |  Edelmetale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.