Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA voggies vir die feestyd
20 Desember 2018

Tonic se Pienaar & Sons Empire-jenewer-mengeldrankie.
Betowerende boetiekjenewer

Die boetiekjenewerbedryf in Suid-Afrika gaan van krag tot krag, met plaaslike distilleerders wat met wonderlike en eiesoortige geurkombinasies vorendag kom.

So belangrik soos die jenewerbessie wat jy uitsoek, is die kinawater en garneersel wat daarby gaan. finweek het met die deskundiges van Tonic – ’n jenewerkroegie in Linden, Johannesburg – gesels om wenke te kry.

INTREEVLAK

Dit is nie maklik om ’n Suid-Afrikaanse boetiekjenewer met ’n prys op intreevlak te vind nie, sê Caitlin Human, wat Tonic saam met haar man, Dennis, besit.

Boetiekjenewers kos gewoonlik meer as R300 per bottel, onder meer omdat dié jenewers nie massageproduseer word nie en onder meer BTW, aksyns, botteleringskoste bykom.

Wixworth: ’n Uitstekende fynbosjenewer as jy jou jenewer met ’n tipiese Suid-Afrikaanse geur – danksy die pikante smaak van renosterbos – verkies.

Bedien met: Indiese kinawater, appelliefies, lemmetjies en ’n takkie kruisement.

Prys: Afhangend van die winkel, tussen R280 en R329 vir ’n 750 ml-bottel.

MIDDELVLAK

Pienaar & Sons Empire: “Ons is só lief vir dié handelsmerk; sy Empire- én sy Orient-jenewer is ons eerste keuses as dit by Suid-Afrikaanse jenewers kom,” sê Human. Die Empire-jenewer is met komkommer gegeur.

Bedien met: Pienk kinawater, hope komkommer en blomme.

Prys: R380 vir ’n 750 ml-bottel regstreeks van die distilleerder (pryse wissel by verskillende ander winkels).

Step5 Dry Gin: Lemoen, koljander en sitroengras is van die belangrikste geure in dié jenewer, waar jenewerbessies steeds oorheers om dit geurig en glad te laat smaak!

Bedien met: Vars vye, kardemom en steranys.

Prys: R399.

Monks Medella Gin: “Al die Monks-jenewers is ook ons groot gunstelinge, maar vir ’n vrugtige jenewer kry dié ene voorkeur,” sê Human. Dié jenewer is met bloubessies gegeur.

Bedien met: Verpulpte bloubessies en tiemie.

Prys: Tussen R399 en R480 vir 750 ml (afhangend van die winkel).

DUURDER

Autograph Gin: Jy hoef dit nie met veel meer as ’n blokkie ys te drink nie! Indien wel iets meer, dan ’n stukkie lemoenskil.

Prys: Tussen R499 en R520.

Chardonnay ideaal vir Kerspartytjies

De Wet se keuse van ander landgoedere se chardonnays:

Plaaslike chardonnay was altyd berug daarvoor dat dit is soos om die lotto te speel; jy weet nooit wat jy gaan kry nie.

Deesdae is ons chardonnays egter oor die algemeen van ’n konstante en hoogstaande gehalte en onder die bestes ter wêreld.

Johann de Wet, uitvoerende hoof van die De Wetshof-landgoed, sê as variëteit het chardonnay twee kenmerke wat in sy guns tel.

Eerstens kan dit verkleurmannetjie speel, sodat wynmakers dit met verskillende wynmaakstyle “in verskeie rigtings kan druk”.

Tweedens het dit die vermoë om die unieke toestande waaronder dit geproduseer is, van die grond tot klimaat en die wingerdbestuursbenadering, te weerspieël.

Dié kenmerke maak ’n groot verskeidenheid style moontlik, van ’n swaar eikehoutsmaak tot elegante, ligte wyn wat met byna enige soort kos saamgaan.

“Die veelsydigheid beteken daar is ’n nis vir almal – veral dié wat ’n sauvignon blanc te droog vind. Dis ideaal vir tradisionele Kersetes omdat dit met rooivleis soms nog beter gaan as rooiwyn en ook goed met hoender saamgaan,” sê hy.

Chardonnay smaak mettertyd ál lekkerder en kan tot 30 jaar verouder word as dit goed geberg word, sê De Wet. Die variëteit behoort egter nie teleur te stel as jy dit dadelik ná jy dit gekoop het drink nie – soos meer as 90% van wynkopers doen.

De Wetshof is beroemd vir sy Limestone Hill, wat net onder R100 per bottel kos, en sy vlagskip Bateleur Chardonnay van net onder R500.

Die opkoms van plaaslike whiskies

Suid-Afrikaanse whisky-produsente het in 2018 wêreldwyd die nuus gehaal.

By die 2018 World Whiskey Awards het die Bain’s Cape Mountain Whisky die titel World’s Best Grain Whisky verower, terwyl Boplaas as nuweling die Whisky Brother Shop se lys van vyf topverkopers gehaal en ’n platinum medalje by die 2018 Michelangelo International Wine & Spirits Awards gewen het, wat hom die beste Suid-Afrikaanse whisky in sy kategorie gemaak het.

Daniel Nel, whiskymaker by Boplaas, sê whiskyproduksie het nog nooit regtig op dreef gekom in Suid-Afrika nie weens die groot klem op brandewynproduksie. Die klein whiskyprodusente sukkel ook om teen groot en goedgevestigde internasionale handelsmerke met groot advertensiebegrotings mee te ding.

Wêreldwyd het die vraag na tradisionele Skotse versnit die afgelope jare taamlik stilgestaan, hoofsaaklik weens ’n gebrek aan vernuwing, aldus Nel.

Die groeiende vraag na boetiekdrankies, soos jenewer, het egter nuwe lewe in whisky geblaas met die gevolg dat die sogenaamde nuwe-wêreldwynstreke, soos Engeland, Japan, Indië, Ierland en Suid-Afrika, whisky begin produseer het.

Ons warm klimaat maak plaaslike whisky besonders, sê Nel. Waar die “engele se deel” – die persentasie wat uit die vate verdamp – in Skotland dikwels onder 2% is, is dit in Suid-Afrika 5% tot 6%.

Die verouderingsproses is eintlik baie vinniger, sodat ’n vyf jaar oue Suid-Afrikaanse whisky so sag en glad soos ’n agtjarige van ’n koeler land sal wees.

Ook het Suid-Afrikaanse whiskymakers toegang tot plaaslike geproduseerde mielies, wat beskou word as van die beste ter wêreld en jare lank reeds gebruik word om whisky in Skotland te produseer.

Met Boplaas en Bain’s die enigste plaaslike whiskyprodusente, stel Nel die volgende voor: Intreevlak: Three Ships 3 Year; Boplaas Single Grain.

Middelvlak: Boplaas 6 Year Single Grain.

Premium: Three Ships Premium 15.

Boetiekbier met skop

Little Wolf-brouery

Stefan Wiswedel het in 2009 vir hom tuisbroutoerusting gekoop en versot geraak. “Ek het daarvan gehou dat bierbrou iets tussen wetenskap en skep is.”

Só kom Little Wolf toe in 2016 tot stand, met die bierbrouery wat by Devil’s Peak Brewing Company in Epping, Kaapstad plaasvind.

Dorslesser: Little Wolf het pas sy Sorghum Gose bekendgestel – ’n beperkte uitgawe wat in samewerking met Stellenbosch Brewing Company gebrou word. Dit is laag in alkohol en effe pikant, wat dit die volmaakte dorslesser vir die somer maak, sê Wiswedel.

Hul Table Beer is ontwerp om lig en maklik drinkbaar maar steeds geurig te wees. “Dit is beslis iets wat jy die hele somer deur kan drink sonder om moeg te raak daarvoor.”

* Sorghum Gose: +/- R23,99 per blikkie, Table Beer: R19 per bottel

Zwakala-brouery

Die Zwakala-brouery en proelokaal nestel in die berge van Magoebaskloof in Limpopo. Zwakala beteken “kom nader” en volgens Luca Tooley, hoofbierbrouer en medestigter, glo hulle daarin om onafhanklike en trots Suid-Afrikaanse bier te produseer wat mense byeen sal bring.

“Ek hou baie daarvan dat boetiekbier jou verhaal op ’n prettige manier vertel. Party van ons biere is deur aktiviste geïnspireer (The Weekend Special), ander deur plaaslike bestanddele (The Upside Down Baobab Weiss) – en ek dink mense waardeer dié stukkies detail wanneer hulle die bier proe.”

Dorslesser: “Ons bekroonde Limpopo Lager het ’n lewendige, verfrissende smaak vir ’n warm somersdag (sowat R24 in drankwinkels). Vir interessante smaak, probeer ons IPA, die Weekend Special, met sewe verskillende soorte hop en ’n sweempie sitroengras – geïnspireer deur Brenda Fassie.”

Pretorius stel die volgende brandewyne voor:

Suid-Afrikaanse brandewynverkope het sedert 2006, toe whiskey dit as Suid-Afrikaners se gunsteling-hardehout verbygesteek het, markaandeel verloor.

Terwyl die mark die afgelope drie jaar bestendig het, groei die vraag na gedistilleerde brandewyn, ook bekend as Cape Brandy, aangesien doelgerig gewerk is om verbruikers meer van die unieke eienskappe van dié brandewyne bewus te maak.

“Suid-Afrika het die afgelope klompie jare die meeste internasionale brandewynkompetisies oorheers en die International Wine and Spirits-kompetisie minstens 11 keer die afgelope 15 jaar gewen,” sê Danie Pretorius, handelsbestuurder van Oude Molen.

“Boonop wen verskillende handelsmerke die toekennings, wat wys hoogstaande gehalte het die reël geword in produksie.” Ingevolge ’n ooreenkoms met die Europese Unie mag Suid-Afrika sy Cape Brandy nie konjak noem nie, maar Pretorius sê ons brandewyne kan hul man staan teen die beste konjak ter wêreld en word op presies dieselfde manier gemaak.

Plaaslike brandewynprodusente wil hul brandewyn ook nie konjak noem nie, want hulle voel hul produk is in eie reg uitstekend. “Waar konjak tradisioneel die geur van speserye en hout het, is ons s’n vrugtiger en meer kompleks,” verduidelik Pretorius.

Meer oor:  Drank  |  Chardonnay  |  Alkohol  |  Bier  |  Wyn  |  Finweek  |  Gin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.