Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Sal inflasie in VSA toeneem?
5 November 2020
Foto: Shutterstock

Die druk op die owerheid om bykomende fiskale aansporingsmaatreëls in te stel om die sentrale bank se gemaklike monetêre beleid aan te vul, beleef ’n nuwe opwelling in Amerika.

Daar kon egter nog nie eenstemmigheid bereik word oor ’n nuwe fiskale pakket om die ekonomie ’n hupstoot te gee nie. Die groot vraag is of bykomende fiskale maatreëls tot ’n styging in inflasie sal lei, soos party ontleders verwag, en aandelemarkte sodoende opnuut sal ondersteun.

Daar is voorspel dat die geweldige aansporingsmaatreëls van 2008 en 2013 op ’n punt tot hoër inflasie in Amerika sou lei. Dit het egter nie gebeur nie – selfs in ’n omgewing sonder werkloosheid. Die Amerikaanse Federale Reserweraad (die Fed) het reeds aangedui dat hy die uitwerking van hoër inflasie wat uit die aansporings sou spruit, oorskat het. In dié stadium hou die Fed by uitbreidende beleid deur dit duidelik te maak dat koerse nog ’n paar jaar lank op of by nul sal bly.

Daarby het hy ’n teiken vir inflasiestyging op mediumtermyn gestel namate die ekonomie herstel en die vraag verbeter. Die produktiwiteitstoename uit die ekonomiese heroplewing in China word saam met groot tegnologiemaatskappye se goedkoper produksiemetodes gewoonlik genoem as redes waarom inflasiedruk gedemp bly.

In die 1970’s en vroeë 1980’s was inflasie ’n reusekwessie in Amerika toe dit in die 1970’s 25% bereik het.

Lae loongroei ondanks sterk verbruiksbesteding het ook gehelp. Daarom is die eintlik vraag: Wat het gebeur dat die Fed dié standpunt ingeneem het terwyl kleiner vraag in die huidige pandemieomgewing inflasionêre druk verder kan beperk? Inflasie op ’n jaargrondslag in Amerika het effens toegeneem – van 1% in Julie tot 1,4% in September. Dui dit egter op ’n strukturele verandering?

Dis in dié stadium onwaarskynlik. Aandelemarkte bly hoog, maar daar is blykbaar nie oorkoepelende kommer oor hoër inflasie in die toekoms nie. Dit kan wees omdat niemand dit werklik verwag nie. Maar om soberheid prys te gee en groter fiskale aansporingsmaatreëls aan te pak, kan ten minste die belofte van hoër toekomstige inflasie inhou. Dit behoort aandeelpryse teoreties te versterk.

Die werklikheid is egter dat markte die afgelope dekade in ’n omgewing van lae inflasie gestyg het. Die verslapping van monetêre beleid was die werklike aandrywer. In die verlede het geweldige gelddrukkery deur sentrale banke uiteindelik tot hoër inflasie gelei – wat ’n belangrike aandrywer van aandeelprysstygings op markte was.

Vandag is dit minder die geval. Tegnologiemaatskappye behaal beduidende vordering in ’n omgewing van lae inflasie. In die 1970’s en vroeë 1980’s was inflasie ’n reusekwessie in Amerika toe dit in die 1970’s 25% bereik het. Inflasie is in die Reagan-jare verlaag – eers met die streng maatreël van hoër rentekoerse, wat die Amerikaanse vervaardigingsektor amper vernietig het, gevolg deur laer koerse, wat as aansporing vir groter verbruiksbesteding en toenemende invoer gedien het. Dit het veroorsaak dat Amerika in die dilemma beland het waar hy nou is deur meer te verbruik as wat hy produseer.

Tog bly inflasie laag en markte bly styg – afgesien van ’n paar haakplekkies. Inflasie het ’n kleiner kwessie geword omdat dit vanweë goedkoop invoer laag bly. Ironies genoeg het die Fed nou die inflasiespookbeeld laat herleef – hoewel op matige vlak – as ’n aanduiding dat effens hoër inflasie verbeterde ekonomiese toestande sal weerspieël. Dis onseker of dié benadering sal werk. Party ontleders vermoed dat dit dalk net oëverblindery deur die Fed is om enige deflasionêre opbou af te weer.

Inflasie is in die verlede gedefinieer as te veel geld wat te min goedere najaag. Daar is beslis tans genoeg geld in Amerika in omloop om goedere na te jaag. Daar is egter dalk nie meer soveel goedere om na te jaag nie. Met algoritmes wat nou in ’n hoofsaaklik dienste-ekonomie as ’n produksiemiddel beskou word, is daar veel minder inflasionêre druk as vroeër, toe ware insette van staal en beton en mense se sweet as inflasionêre faktore gedien het. Die digitale ekonomie het ’n heeltemal nuwe speelveld geskep.

Maarten Mittner is ’n vryskut- finansiële joernalis en markdeskundige.

Die groot tegnologiemaatskappye se bedrywighede het ’n deflasionêre geneigdheid vanweë goedkoper digitale kommunikasie en vervaardigingsprosesse. En om die vraag in Amerika te laat toeneem, moet verbruikers meer geld hê. Dis nie die geval nie, want lone bly laag en skuldvlakke hoog. Sommige waardebeleggers sê onderwaardeerde aandele se tyd sal aanbreek as inflasie en rentekoerse eweredig toeneem.

Dis egter moeilik om te sien hoe hoër rentekoerse tradisionele aandele sal ondersteun as nog ’n laag koste bygevoeg word vir maatskappye wat reeds met bestaande uitgawes en mededingingsnadele worstel. En soos Japan gewys het, is daar min aansporing om skuldvlakke met hoër inflasie te verlaag. Inflasie is oor ’n tydperk voordelig vir ’n kleiner skuldlas.

Die prys kan egter vir regerings te hoog wees om te oorweeg. Hoër inflasie sal dalk nie gou in Amerika voorkom nie. En markte het blykbaar nie hoër inflasie nodig om te bly styg nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Maarten Mittner is ’n vryskut- finansiële joernalis en markdeskundige.

Meer oor:  Finweek  |  Amerika Inflasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.