Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Sal sy ‘toegelaat’ word om (permanent) oor te neem?
18 Maart 2021
Christine Ramon, tussentydse uitvoerende hoof van AngloGold Ashanti

AngloGold Ashanti het ’n vreemde agt maande agter die rug. Eers het Kelvin Dushnisky as uitvoerende hoof bedank - skaars twee jaar ná sy aanstelling. En toe bedank Sipho Pityana, maatskappyvoorsitter, sowat vier maande later. Absa se voormalige uitvoerende hoof, Maria Ramos, wat in 2019 op AngloGold se direksie aangestel is, het daarna die bestuur oorgeneem, maar geen permanente plaasvervanger is aan die uitvoerende kant van die onderneming vir Dushnisky gevind nie.

Laasgenoemde se vertrek was deurspek met bespiegelings oor spanning tussen die direksie en die staatsbeheerde Openbare Beleggingskorporasie (OBK). Dushnisky het ’n bonus van $800 000 om hom by AngloGold aan te sluit, terugbetaal toe daar besef is dat hy met sy vertrek by sy vorige werkgewer, Barrick Gold, ’n bonus van $926 160 verdien het.

AngloGold ontken dat Dushnisky se vertrek met die verwarring oor bonusse verband hou, en sê dit was ’n deurmekaarspul wat opgeklaar is. In die tydperk tussen die uitvoerende hoof en die voorsitter se vertrek, het AngloGold niks gedoen om ’n plaasvervanger vir die pos van uitvoerende hoof te vind nie.

Volgens Chris Griffith, wat in Januarie as uitvoerende hoof by Gold Fields (AngloGold Ashanti se mededinger) aangestel is, het hy nie om die pos by AngloGold aansoek gedoen nie, want die maatskappy het nie onderhoude gereël nie al - het Nick Holland, toe Gold Fields se uitvoerende hoof, sy bedanking in ongeveer dieselfde tyd aangekondig.

Wat vreemd is van dié oënskynlike onstuimigheid onder senior personeel – en die direksie se wanfunksionering – is dat talle ander tekens aandui AngloGold Ashanti ry op die kruin van ’n golf, ten minste bedryfsgewys. Die rede is die hoë goudprys en die effens ongewaardeerde feit dat AngloGold Ashanti struktureel in ’n goeie toestand is.

Dis in dié konteks dat Christine Ramon, wat tot in Augustus die groep se finansiële hoof vir langer as ses jaar was, as tussentydse uitvoerende hoof aangestel is. Dit onthuts haar dalk dat die direksie by die skryf hiervan nog nie ’n voltydse opvolger aangestel het nie. In ’n onderhoud met finweek in Februarie, het Ramon egter gesê die maatskappydireksie gee aandag daaraan. “Die direksie besef dis dringend. Die proses is in ’n gevorderde stadium,” het sy gesê.

Ramon wil blykbaar die pos hê en het die afgelope maande gewys sy is geskik, ondanks ’n gemor in die beleggingsgemeenskap dat iemand met mynbou- en tegniese ervaring beter sal inpas. Sê Ramon: “Ons het ons produksieriglyne behaal, ons het die portefeulje verbeter en ons is finansieel sterk.” Netto skuld, $600 miljoen soos op 31 Desember, is op die laagste vlak in ’n dekade. “Toe ek aangesluit het, was die netto skuld op ’n hoogtepunt,” sê Ramon.

Wat vreemd is van dié oënskynlike onstuimigheid onder senior personeel – en die direksie se wanfunksionering – is dat talle ander tekens aandui AngloGold Ashanti ry op die kruin van ’n golf, ten minste bedryfsgewys.

In 2014 was bruto skuld $3,5 miljard, terwyl die verhouding van netto skuld tot verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) – beleggingsbestuurders gebruik dié verhouding dikwels om ’n maatskappy se vermoë te toets om skuld terug te betaal – 2,1 keer was. Daarna het ’n groter kostebewustheid gevolg en is die strategiese rigting herbedink, wat Dushnisky vanaf 2018 voortgesit het, met die besluit om die maatskappy se oorblywende SA bates te verkoop: Moab Khotsong en Mponeng vir altesame $600 miljoen aan Harmony Gold.

Die maatskappy sou sy Johannesburgse hoofkantoor behou, maar ’n buitelandse notering opsoek, moontlik in Londen. Dushnisky se vertrek het egter ’n persepsie geskep dat AngloGold sonder strategie is. Dit is ondanks ’n rekordverdienste teen jaareinde, ’n verdubbeling in dividenduitkering, en die uitreik van ’n nuwe maatskappy-effek teen die laagste rentekoers ooit.

Tog bly AngloGold sonder ’n voltydse leier. In ’n goudmark behep met die vind van die volgende hulpbronfynons ná ’n dekade van onderinvestering in eksplorasie en ontwikkeling, is die maatskappy kwesbaar vir ’n oorname. Dit help ook nie dat sy aandeelprys onderpresteer nie, veral vergeleke met ’n maatskappy soos Gold Fields wat se aandeleprys 85% hoër was in 2020. AngloGold s’n was slegs 7,7% hoër.

Hiervan is Mark Bristow, die SA gebore uitvoerende hoof van Barrick Gold, deeglik bewus. In ’n onderhoud met finweek het Bristow in Januarie gesê AngloGold lyk na ’n aantreklike samesmelting- en verkrygingsopsie, grootliks vanweë sy 40%-aandeel in Kibali, die ryk goudmyn in die DRK wat die twee maatskappye gesamentlik besit. “Uit ’n tegniese oogpunt is die beste bates om te prioritiseer dié wat jy in ’n gesamentlike onderneming besit,” sê Bristow. “Maar om ’n proses in SA aan die gang te sit . . . ek is nie seker dit is ’n gepaste strategie nie.”

Mark Bristow, uitvoerende hoof van Barrick Gold

Later sê hy Barrick hou voorlopig terug; samesmeltings en verkrygings sal moet wag totdat die maatskappye beter kan sien wat die goudprys, tans uiters wisselvallig, gaan doen. “Ek kan nie kommentaar lewer op wat Mark sê nie,” sê Ramon. “Ons is vennote met Barrick in Kibali; ons werk goed saam. Ons fokus op die uitvoering van ’n strategie en het kontinuïteit in daardie opsig.”

Dis belangrik dat Ramon dit sal benadruk dat AngloGold se strategie nie verander het nie. Die geraas wat die vertrek van ’n senior bestuurslid en direksielid geskep het, verduister AngloGold se strategie. Die voorgestelde Britse notering is byvoorbeeld beskou as die natuurlike uitvloeisel van Dushnisky se strategie om van sy laaste SA bates ontslae te raak. “Kelvin was duidelik daaroor dat ons die SA bateverkope moes deurvoer, maar dit was nooit ’n pakket nie,” sê Ramon van die Britse notering.

“Dit [die notering] bly op die horison. Ek glo dis hoegenaamd nie van die radar af nie.” Strategie was ook waaraan Ramon gedink het toe die maatskappy kort ná die voorlegging van sy jaarresultate ontleders en die media ingelig het oor AngloGold se rigting en voorneme. Daar is aangekondig dat toenames in hulpbronne en reserwes, sowel as organiese groeiopsies, van AngloGold se prioriteite is, asof om aan die mark te bewys die maatskappy is nie uitgedien nie. Sowat 6,1 miljoen onse goudreserwes is byvoorbeeld in 2020 bygevoeg vir ’n totaal van 30 miljoen onse. Dis gelykstaande aan 12 jaar se lewe in die Amerikas, 12 jaar in kontinentale Afrika (nie SA nie) en 5 jaar in Australië.

“Dit [die notering] bly op die horison. Ek glo dis hoegenaamd nie van die radar af nie.”

Dominic O’Kane, ontleder by JP Morgan Cazenove, sê die aanbieding “. . . vat AngloGold uit ’n tydperk van ‘strategiese onsekerheid’ ” met sy fokus daarop “. . . om nuwe lewe in die bestaande bategrondslag te blaas”. Dit sluit onder meer ’n verbintenis in om die maatskappy se nuwe mynvloot te ontwikkel. Dit sal in Colombië begin, en voortgaan met die herontwikkeling van die Obuasi-goudmyn in Ghana. Die geraamde kapitaalbesteding kan tot ongeveer 2025 meer as $1 miljard per jaar bedra.

In dié tyd sal produksie tot sowat 3,4 miljoen onse goud per jaar styg, teenoor 2020 se 2 miljoen onse. Dit is as die Quebradona-myn (67 000 onse) en die Gramalote-myn (284 000 onse) in Colombië vanjaar beleggingsgoedkeuring kry. Oor eie samesmelting- en verkrygingsbedrywighede is Ramon onseker. Waardasies in die goudmark het die afgelope twee jaar gestyg, wat die meeste batejagters afskrik, buiten ’n uitskieter of twee. “Ons fokus nie nou daarop nie,” sê Ramon. “Ons bly natuurlik oop vir so iets, maar om eerlik te wees – ons het ons hande vol.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor Ramon

Ramon, gebore en getoë in die Oos-Kaap, is een van vyf kinders – vier geoktrooieerde rekenmeesters (en een wat die “maklike uitweg van mediese dokter gekies het!”).

Sy het vir Coopers & Lybrand in Verona, Italië gewerk, maar met die koms van die demokratiese era na SA teruggekeer en by die destydse Onafhanklike Verkiesingskommissie waar sy voor die verkiesing in 1994 gewerk het, gehelp het om die stelsels te ontwerp.

Daarna het sy by Pepsi en Johnnic ’n beurt gehad, by laasgenoemde 11 jaar lank as finansiële en daarna uitvoerende hoof. Ramon was Sasol se finansiële hoof voordat sy haar by AngloGold aangesluit het, juis terwyl die bestuur van sy mislukte ontbondelingsvoorstel herstel het. 

* Foto’s: Miningmx, Gallo/Getty Images

Meer oor:  Christine Ramon  |  Anglogold Ashanti  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.