Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Sanlam brei uit in Afrika
9 April 2021
Die Sanlam-kantoor in Sandton, Johannesburg

Afrika is ’n vasteland ryk aan uitbreidingsgeleenthede wat dikwels met swak opbrengste gepaardgaan. Uitbreiding op die vasteland bly egter ’n kernaspek van sommige groot Suid-Afrikaanse maatskappye se strategieë – miskien omdat hulle ’n teenwoordigheid daar gevestig het en dit moet laat probeer werk, of miskien omdat hulle ondanks die beduidende moeilikhede aan Afrika se groeipotensiaal glo.

Die ervaring van maatskappye soos MTN en Shoprite wys dat dié strategie nie sonder risiko’s is nie, maar dit bly ’n kernaspek van Sanlam se strategie – wat weer genoem is toe hy in die middel van Maart sy resultate vir die jaar tot einde Desember verlede jaar bekend gemaak het.

Die netto resultate uit finansiële dienste weerspieël die pandemie en inperking se volle uitwerking en het met 13% gedaal, maar sou met 17% gestyg het as Covid-19 se uitwerking uitgesluit word.

Die netto bedryfsverdienste het met 23% afgeneem, al het die wesensverdienste met 24% gestyg. Die verdienste is beïnvloed deur die omvang van die sakevoortsettingseise by sy korttermynversekeringsfiliaal Santam – waarvoor minder motoreise vergoed het – asook meer sterfte-eise, bedenklike skuldvoorsorg en die verskaffing van verligting aan kliënte en tussengangers.

Dis merkwaardig dat die hoeveelheid nuwe sake met 25% tot R311 miljard gestyg het, met sterk groei by Sanlam Investment Group en Sanlam Emerging Markets, wat hoofsaaklik in Afrika bedrywig is, met beleggings in Indië en Maleisië ook.

Ontluikende markte

Sanlam het beduidende teenwoordigheid in Afrika, grootliks deur die verkryging – in fases in 2016 en 2018 – van die finansiëledienstegroep Saham van Marokko. Sanlam se bestuur bly ondanks die ervaring van ander maatskappye glo aan sy strategie om ’n Afrika-kampioen te word, ’n vesting in SA te bou en sy posisie elders te versterk en uit te brei deur data- en digitale transformasie, die ontwikkeling van sy kultuur, vernuwing en vennootskappe.

Paul Hanratty, uitvoerende hoof, sê wat Sanlam anders maak, is dat daar “nogal vertroue is in ons vermoë om te slaag”. Sanlam het nie nuwe ondernemings begin nie, maar bestaande, suksesvolle ondernemings gekoop. Daar is “ ’n oorvloed vaardighede in ons bedryf in SA”, sê hy.

Hy sê ’n opname onder makelaars toon dat hulle en die publiek “sosiale media en media ignoreer en op hul eie ervaring konsentreer wanneer hulle ’n oordeel vel”
Paul Hanratty, uitvoerende hoof van Sanlam
Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank

Dit maak dit vir Sanlam moontlik om tegniese vaardighede te neem na ondernemings wat reeds mense het wat die plaaslike mark ken. Daarby is daar besparings weens skaalvoordele, en as Sanlam die kapitaaltoewysing en diversifisering kan verbeter, ontstaan sinergieë. “Ons is daarop ingestel om vennote te hê in alles wat ons doen. Ons het in elke geval vennote – almal plaaslik.

Lande wil spaargeld in die land hou en plaaslike eienaarskap en plaaslike vennote is vir ons baie belangrik. Dit verwyder ook van die risiko.” Digitale vernuwing kan bykomende voordele inhou. Sanlam is nie die eerste maatskappy wat sy verbintenis tot Afrika versterk nie. Standard Bank is die mees onlangse voorbeeld en dit is in Maart deur Sim Tshabalala, uitvoerende hoof, benadruk.

In die algemeen beweeg Sanlam se mededingers egter “in die ander rigting en sê dis ’n moeilike plek”. “Ons verkies om klein te begin in ’n gebied en oor ’n lang tydperk vennootskappe op te bou en te groei. Ons sien dat mededingers in die teenoorgestelde rigting beweeg. Dit gaan oor of jy ’n ware voordeel het – ons het ontstaan in en is gewortel in Afrika”, met ’n groter kans om hier te slaag, sê Hanratty.

Die strategie sal waarskynlik nie in die onmiddellike toekoms verkrygings insluit nie. In Afrika, waar Sanlam reeds groot teenwoordigheid het, versterk en verbeter hy geleidelik, brand nie om verkrygings te doen nie, en verwag weldeurdagte en ordelike uitbreiding, sê Hanratty. Indië, waar Sanlam ’n belang in Shirram Capital het, lyk of dit geleenthede bied vanweë reguleringsveranderinge, waaronder groter toewysing aan buitelandse investering en niebank- kredietverskaffers. Dit beteken Sanlam moet besluit of hy sy belegging wil vergroot.

Plaaslike geleenthede

Sanlam het ook sy ambisies in gesondheid- en werknemervoordele bevestig, wat Hanratty sê deur sy bestaande beleggings in Alexander Forbes en AfroCentric sal plaasvind. “Hulle is in ’n goeie posisie en dit gaan vir ons daaroor om ons blootstelling aan dié ondernemings te vergroot.”

AfroCentric kan groei, maar is reeds “ ’n groter onderneming as wat jy dink”, is geloofwaardig en het ’n unieke waardestelling deurdat dit vernuwe om die koste van gesondheidsorg te verlaag en dit bekostigbaar te maak. Alexander Forbes is ’n fantastiese administrateur en konsultant in die werknemervoordeelomgewing, sê Hanratty.

Die sterfte-eisevlak was in die eerste twee maande van vanjaar 50% tot 60% hoër as op die hoogtepunt van die eerste golf,

Oor Santam, wat betrokke was by vooraanstaande sake wat met sakeontwrigtingseise verband hou, sê Hanratty: “Ons het ’n miljoen polishouers by Santam en dit het 4 000 polishouers behels wat ondernemings is wat ’n piepklein premie betaal – die meeste was R12 per maand – en ’n bedrag geëis het, wat tot byna R200 miljoen bedra het”.

Hy sê ’n opname onder makelaars toon dat hulle en die publiek “sosiale media en media ignoreer en op hul eie ervaring konsentreer wanneer hulle ’n oordeel vel” – wat is dat Santam al die moontlike doen om eise uit te betaal. Hy sê Santam se verligtingbetaling van R1 miljard aan kleiner ondernemings het waarskynlik die meeste van die aanspreeklikheid teenoor kleiner ondernemings gedek.

Tog kon die kwessie anders gehanteer geword het, sê hy. Santam is “ ’n fantastiese onderneming, verreweg die beste korttermynversekeraar en een van ons beste maatskappye. Dit was ’n pynlike episode, maar hy sal van krag tot krag gaan.”

Pandemie

Die pandemie sal egter die versekeringsektor grondliggend raak. “Mense het werklik begin verstaan dat lewe kosbaar is. Mense wat nie lewe- en ongeskiktheidsdekking het nie, dink nou aan dié dinge. Hulle dink ook oor die toekoms en voorsiening daarvoor, want die lewe is onseker.” Baie mense se spaargeld is uitgeput in ’n poging om hul onderneming aan die gang te hou.

Hanratty het vroeër in Maart op die resultaataanbieding gesê groter bewustheid bestaan onder kliënte en die bevolking dat hulle behoorlike finansiële planne moet hê en behoorlik vir risiko’s en die toekoms voorsiening moet maak.

Mense wil ook digitaal werk, en Sanlam sal weens ekonomiese gevolge sake teen laer pryse moet doen. “Daar sal aptyt wees vir nuwe maniere van interaksie en nuwe kanale en maniere om waarde vir geld by finansiëlediensteverskaffers te kry,” het hy gesê.

Dis onduidelik hoe lank hoër eisvlakke in die bedryf sal voorkom. Die sterfte-eisevlak was in die eerste twee maande van vanjaar 50% tot 60% hoër as op die hoogtepunt van die eerste golf, en Hanratty het tydens die resultaataankondiging gesê “ons skat dat ons eisoorskryding vanjaar twee tot drie keer verlede jaar se eisoorskryding sal wees”.

Saam met onsekerheid oor die afhandeling van sakevoortsettingseise by Santam en gebeure oor die afgelope jaar, asook die reusetoename in Januarie en Februarie tydens die tweede golf maak voorspellings moeilik. Sanlam het wel ’n sterk mededingingsposisie in elke mark en elke produkreeks waarin hy meeding, en het ’n sterk balansstaat, sê Hanratty.

Uit ’n bedryfsoogpunt is hy ingestel op hoe vinnig die groei finansiële sleutelmaatstawwe – die volume nuwe sake, bedryfswins, waarde van nuwe sake en dividende – tot vlakke van voor die koronaviruspandemie kan laat herstel. Dié sterk mededingingsposisie blyk op die oog af uit die onlangse resultate van sy mededinger Old Mutual, wat ’n daling van 74% in sy aangepaste wesensverdienste per aandeel verklaar het.

Sy opbrengs uit bedrywighede het met 81% gedaal, of met 14% as koronavirusgevolge uitgesluit word. Dié relatiewe voordeel kan vir Sanlam gunstig wees, wat strategies beplan om aan te hou om die Sanlam-ontluikendemarkportefeulje in Afrika te versterk en te laat groei, die omvang en doeltreffendheid van SA bedrywighede te verbeter en om vennootskappe te gebruik waar hy dit nie self kan doen nie – ’n plan wat volgens sy onlangse resultate duidelik voordelig blyk te gewees het.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Gallo Getty Images, www.sanlam.co.uk, Shutterstock

Meer oor:  Sanlam  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.