
Foto: Shutterstock
Ek het die laaste paar maande telkens geskryf oor kommoditeitspryse en dat al die mynboumaatskappye baie goed vaar omdat die wêreldwye vraag toeneem.
Die toename word in ’n groot mate deur infrastruktuurbesteding in reaksie op die Covid-19-pandemie aangedryf. Plaaslike mynmaatskappye is in ’n goeie posisie met sterk balansstate, min skuld en geen groot projekte wat kontant en bestuurstyd opneem nie.
Trouens, die balansstate is só sterk dat dié maatskappye ’n paar rekorddividenduitkerings kan doen. Kommoditeitspryse sal waarskynlik die volgende jaar of drie sterk bly, terwyl party verder kan styg. Die maklike wenopsie vir beleggers hier is die beursverhandelde fonds (ETF) Satrix Resi 10, wat die plaaslike hulpbronindeks naspoor.
Die risiko met belegging in mynmaatskappye is dat hul bestuur ’n bestedingstog kan aanpak om mededingers uit te koop om hul produksie te vergroot – en waarskynlik te veel sal betaal. Andersins kan hulle op nuwe ontwikkelingsprojekte besluit. Enige teken van dié risiko’s sal my noop om aan die sektor te onttrek.
* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za