Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Shoprite: Hy wil verliese verhaal
10 September 2021
shoprite
Foto: Shoprite

Shoprite is Afrika se grootste kruideniersware-kleinhandelaar met 2 840 winkels in 15 lande in Afrika en eilande in die Indiese Oseaan.

Sy handelsmerke sluit in Checkers, Checkers Hyper, Usave, Hungry Lion, OK Furniture, OK Power Express, OK Furniture Dreams en House & Home. Die groep het sekondêre noterings op die Namibiese en die Zambiese aandelebeurse.

Aandeelprysgeskiedenis

Nadat Shoprite se aandeelprys vir drie jaar tussen 2013 en 2016 reggestel het, het hy sy langtermynbultendens voortgesit totdat dit in Maart 2018 ’n absolute hoogtepunt van R281,90 per aandeel bereik het, ondanks die bedanking van die voormalige uitvoerende hoof, Whitey Basson, in Desember 2017.

Nadat die groep sy eerste afname in verdienste sedert 1998 in 2018 aangekondig het – toe Shoprite OK Bazaars vir R1 van SA Brouerye gekoop het – het die aandeelprys ’n uitgerekte afwaartse tendens begin.

“Ons was in ’n oorlog gewikkel,” is hoe die nuwe uitvoerende hoof, Pieter Engelbrecht, die handelstoestande beskryf het ná die groep se eerste afname in verdienste in 20 jaar, wat vererger is deur gewapende roofaanvalle, rekordhoë brandstofpryse, chroniese werkloosheid, nywerheidsaksie en die eerste toename in BTW in 25 jaar in Suid-Afrika.

Die groep se wins is ook getref deur die nadelige gevolge van lae inflasie en die devaluasie van die Angolese geldeenheid met 50% – Angola was die groep se toppresteerder buite SA en het ongeveer 60% van groeiverdienste gegenereer. Shoprite se aandeelprys het tot ’n laagtepunt van 9 500c per aandeel teruggesak.

Huidige vooruitsig

Shoprite se aandeelprys het herstel nadat hy stewige steun by 9 500c per aandeel gekry het en hom in Augustus 2020 uit sy beertendens verhandel het.

Ondanks die aankondiging van ’n verlies van R100 miljoen in omset weens die Covid-19-pandemie, was aandeelhouers blykbaar nie afgeskrik deur die feit dat die aandeelprys ’n bulrigting ingeslaan het nie. Dié rigting is hoër gedryf nadat Shoprite ’n skerp toename in halfjaargroepwins aangekondig het en sy markaandeel in SA vergroot het nadat hy sy uitbreiding op die vasteland verlaag het.

Sy toppresteerder was sy meer luukse Checkers-kettinggroep, wat swaar belê het in sy aanlyn kruideniersware-diens wat op dieselfde dag aflewerings doen, en die uitbreiding van sy nuweformaat-winkels wat Woolworths die stryd gaan aansê. Nie eens die plundery in Julie, waaronder 200 winkels in die groep deurgeloop het, kon die aandeelprys van sy huidige bultendens laat afwyk nie.

Shoprite het onvermoeid gewerk om winkels te heropen – en het tot dusver daarin geslaag om 89 winels te herbou en weer van voorraad te voorsien.

Op die grafieke

Shoprite se aandeelprys het deur die steuntendenslyn van sy beertendens verhandel en handhaaf sy bestendige opwaartse tendens. ’n Onlangse aankondiging wat nóg optimisme aangewakker het, was die groep se plan om hom aan Uganda en Madagaskar te onttrek nadat hy ’n toename van 8,1% in totale handelswareverkope van voortgaande bedrywighede tot R168 miljard vir die 53 weke geëindig 4 Julie 2021 aangekondig het.

Die maatskappy het reeds sy Nigeriese sake gesluit ná 15 jaar waar hy groot beleggings van $30 miljard gedoen het, en hy beplan om sy winkels in Kenia volgende jaar te sluit. Valuta-devaluasies, laer kommoditeitspryse en hoë inflasie het ’n negatiewe uitwerking op huishoudelike besteebare inkomste gehad en het oor die afgelope paar jaar druk op sy verdienste geplaas.

Wat om te verwag

Shoprite se aandeelprys is besig om van sy vorige verliese te herstel, en indien die huidige opwaartse tendens sou voortduur, kan die aandeelprys op medium- tot lang termyn weer sy absolute hoogtepunt van R281,90 toets.

Hoe om dit te verhandel:

Gaan lank: Ek het verlede jaar in Augustus ’n lang posisie vir Shoprite aanbeveel toe die aandeel positief uit sy langtermynbeertendens bokant R129,75 gebreek het – die eerste teiken was R167,55.

Noudat Shoprite dit verbygesteek het, kan nog wins wag. Nog ’n koopgeleentheid het hom bokant R163,75 voorgedoen, maar omdat die drieweekse relatiewesterkte-indeks (3W RSI) kwaai oorkoop is, kan ons ’n terug- sakking op nabye termyn verwag. Indien steun teen R163,85 gehandhaaf word, gaan lank of verhoog posisies omdat wins verder kan strek tot by weerstand op R252,50.

As daar deur dié vlak gebreek word, kan sy aandeelprys weer sy absolute hoogtepunt van R281,90 toets. Gaan kort: As Shoprite se aandeelprys regstel van sy mega-oorkoopte posisie en deur die steuntendenslyn van sy huidige opwaartse tendens verhandel, sal ’n negatiewe uitbrekeing benede R151,70 ’n beerverandering verteenwoordig.

Afwaartse potensiaal tot R124,55 kan volg, in welke geval jy nie lank moet gaan nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Moxima Gama is ’n onafhanklike aandelemarkontleder by The Money Hub.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.