Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Simon se aandele-wenke
6 Desember 2018

CAPITEC

’n Transaksie met potensiaal

Capitec* het die bodoorlog gewen om Mercantile Bank vir R3,2 miljard te koop. Dis ’n klein transaksie teen minder as 2% van sy markkapitalisasie, maar dit kan mettertyd beduidend wees. Bankdienste vir klein en middelslagondernemings (KMO’s) sal nooit so groot of winsgewend as bankdienste vir die gewone publiek wees nie, maar dis ’n nis met geleenthede vir innovasie. Tog is die KMO-bankmark oorvol, met meer toetreders wat aanstaande jaar kom. Die transaksie is egter klein genoeg om nie Capitec se algehele winsgewendheid te bedreig nie. As dit werk, sal dit egter tot sy wins bydra. Ek hou baie van die transaksie, maar met die aandeelprys amper weer by die algehele hoogtepunt van Desember verlede jaar bly die aandeel duur.

LONG4LIFE

Dié strategie is verwarrend

Long4Life* het ’n aandeelterugkoop van sowat R121 miljoen teen gemiddeld 439 sent per aandeel aangekondig. Ek stem saam dat 439 sent goedkoop is en die maatskappy verwag waarskynlik dat hy aandele teen hoër pryse vir verkrygings sal kan uitreik. Wat my verwar is dat daar in dié moeilike ekonomiese tye tog sekerlik potensiële transaksies teen aantreklike pryse is. En dít is tog sekerlik waarvoor die kontant gebruik moet word. Basies sê die bestuur dat sy eie aandele die beste transaksie is wat hy kan kry – maar ek is nie daarvan oortuig nie. Ek hou die aandeel, maar ek is besorg oor sy strategiese benadering en kontantgebruik.

FAANG

Beerterrein nog nie ’n krisis nie

Die beroemde FAANG-aandele (Facebook, Apple, Amazon, Netflix en [Alphabet] Google) is almal op beerterrein met dié dat hulle 20% onder hul algehele hoogtepunt verhandel. Verkope van gewilde aandele word altyd verwag en is ’n gesonde deel van die mark, en met dié gunstelinge onder druk is die Amerikaanse indekse ook swakker. Ek dink nie die verkope is verby nie, maar dis nie ’n krisis nie. Wat styg, daal soms ook. Hulle het egter almal hul eie probleme wat tans na vore kom, en hul volgende lopie sal dalk nie so skouspelagtig soos vroeër wees nie.

BAT

’n Slegte smakie

Nuus dat die Amerikaanse regering dit oorweeg om op mentolsigarette toe te slaan, het British American Tobacco (BAT) se aandeelprys vroeg November met meer as 20% laat daal. Mentol verteenwoordig meer as die helfte van die Amerikaanse verkope en ’n kwart van die groep se wêreldwye inkomste. Gegeurde mentolsigarette word as ’n “toetreepunt” vir jong rokers beskou. Dit sluit aan by kommer oor gegeurde tabaklose rooktoestelle wat ook ’n toetreepunt vir nuwe rokers is. Die tabakbedryf het gehoop dat tabaklose rook sou maak dat hy nie so fyn dopgehou word nie. Maar sover dui alles daarop dat dit nie gaan werk nie, omdat reguleerders wêreldwyd vinnig die skuiwergat probeer toestop. Ek het my BAT-aandele jare gelede al verkoop (voordat tabaklose rook op die toneel verskyn het) uit kommer oor strenger regulering en uiteindelik dalende verkope. Dit gebeur beslis. Die bedryf sal ’n ruk lank oorleef en dividende sal aanvaarbaar wees, maar ’n mens kan nie ontken dat die bedryf se einde in sig is nie.

ASTRAL

Hou sikliese bedrywighede goed dop

Astral se resultate vir die jaar tot 30 Septem- ber was uitstekend met dié dat die wesensverdienste per aandeel byna verdubbel het. Hy het ook ’n dividend van 1 050 sent per aandeel verklaar, wat ’n totale dividend van 2 050 sent vir die jaar beteken (teenoor net 1 055 sent verlede jaar en 490 sent die vorige jaar). Astral is besonder siklies omdat mielies een van sy hoofinsette is. Minder duur invoer uit Europa, groter voëls en prysstygings dra alles tot die wins by. Die les hier is eenvoudig: Koop Astral wanneer die bloed vloei en die wins slae kry. Maar moenie vergeet om te verkoop nie. Ná ’n hoogtepunt van meer as R300 bevat die prys al die goeie nuus en verhandel die aandeel nou onder R180. Die dividendopbrengskoers van meer as 9% is nie vas nie en kan vinnig verdwyn.

OCEANA

Goedkoper, maar versigtig

Tiger Brands het aangekondig dat hy sy belang van 42% in Oceana ontknoop. Dis nie wesenlik vir Tiger Brands nie, maar kan Oceana se aandeelprys op kort termyn knou as die mark oorspoel word met Tiger Brands-aandeelhouers wat hul Oceana-aandele verkoop. Ek het baie tyd daaraan gewy om die vissery-aandele te bekyk en daaroor te skryf, maar ek is altyd aan die verkeerde kant van die bedryf. Terwyl die verkope dus kanse kan skep vir mense wat dalk goedkoper Oceana-aandele wil koop, bly ek weg.

Selfs nadat Tiger Brands se aandeel vanjaar amper die helfte van sy waarde verloor het, sal ek dit nie koop nie.

TIGER BRANDS

Op die verdediging

Een van Tiger Brands se fabrieke in Germiston aan die Oos-Rand.

Die uitbreking van listeriose by Tiger Brands het hom in die jongste resultate sowat R900 miljoen gekos, en hy moet nou verbruikersvertroue vir die produkte probeer terugwen. Maar hy het nog ’n potensiële probleem. Tiger Brands se vervaardigde handelsmerkprodukte is in die algemeen eerste of tweede in hul kategorie, maar verbruikers neig weens finansiële druk om goedkoper generiese produkte te koop. Die vraag is of verbruikers na die duurder handelsmerke sal terugkeer. Baie sal, maar in Suid-Afrika word generiese produkte algeheel op laer vlakke ondersteun as in baie ander lande, en ek wonder of baie van dié verbruikers by generiese produkte sal bly (en daarom vir goed vir die handelsmerke verlore sal wees). Ek het nog nooit van voedselprodusentmaatskappye gehou nie omdat hulle nie prysbepalingsmag het nie en insetkosterisiko het. Selfs nadat Tiger Brands se aandeel vanjaar amper die helfte van sy waarde verloor het, sal ek dit nie koop nie.

DISCOVERY

Hoop vir wins op langer termyn

Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery

Discovery* het besonderhede van sy “gedragsbank” aangekondig wat aanstaande jaar ingestel sal word. Die idee is dat, soos Vitality help om kliënte se liggaamlike fiksheid te verbeter, dieselfde met mense se finansiële “fiksheid” gedoen kan word. Dit werk beslis met oefening, maar ek vermoed dit sal dalk met geldsake moeiliker gaan. Ek verwag dat die mense wat by die nuwe bank aansluit, dié sal wees wat reeds finansieel nogal gesond is, wat die doel verydel. Daarby sal dit net ’n transaksiebank wees, met geen krediet nie – en jy sal dus ’n tweede bank moet gebruik as jy krediet wil hê. Ek hou van die konsep en ons sal mettertyd sien of dit werk. Adrian Gore het gesê dit neem ongeveer vyf jaar om ’n nuwe produk op te bou, en gevolglik sal ons eers oor ’n paar jaar werklik resultate begin sien.

WESCOAL

Fokus op dividende, nie prys nie

Kleinkapitalisasie-aandele kry swaar en in baie gevalle is dit onbillik, soos uit Wescoal se resultate vir die ses maande tot 30 September blyk. Die inkomste was 28% meer en die wesensverdienste per aandeel 16% groter, met geweldig baie vrye kontantvloei (R291 miljoen, waarvan die helfte gebruik word om skuld te betaal, ’n dividend uit te keer, en aandele terug te koop). Hy het nou ’n prys-verdienste-verhouding asook ’n dividend-opbrengskoers van sowat vier. As ’n junior steenkoolmynmaatskappy van hoë gehalte is die aandeel goedkoop, maar niemand stel belang nie. Die mark gee eenvoudig nie om vir kleinkapitalisasie-aandele nie, ongeag die gehalte of waardasie, en hy sal nie gou begin kennis neem nie. As jy dit besit, geniet die dividende, maar moenie groot prysveranderinge verwag nie.

OLIE

Verbruikers kry steeds swaar

Simon Brown

Oliepryse het die afgelope maand of wat met meer as 20% gedaal. Saam met die rand-dollar-wisselkoers op vlakke onder R14 behoort die petrolprys in Desember heelwat te daal – dalk met 150 sent of meer. Ongelukkig is swaarbelaste, skuldbelaaide verbruikers ná die monetêrebeleidskomitee se vergadering in November met ’n rentekoersverhoging getref. Enige wesenlike herstel in verbruikersbesteding en -vertroue gaan ten beste steeds baie stadig wees.¦ terugvoer@finweek.co.za *Die skrywer besit aandele in Long4Life, Discovery en Capitec.

Gallo/Getty Images

Meer oor:  Finweek  |  Aandele-Wenke  |  Beleggings  |  Simon Brown  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.