Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Simon se wenke
16 Januarie 2020

Tongaat Hulett

Groter gemors as verwag

Aan die einde van Desember het Tongaat Hulett, die suiker- en styselprodusent, uiteindelik die forensiese verslag oor vorige jare se finansiële state en die finansiële resultate vir die jaar tot Maart verlede jaar bekend gemaak. En dit was vreeslik. Die aanvanklike maatskappyraming van afskrywings van tussen R3,5 miljard en R4,5 miljard het uiteindelik uitgeloop op ’n bedrag van R12 miljard.

Dit sluit R4 miljard op Zimbabwiese grond in wat in 2005 gekonfiskeer is, maar nog nooit afgeskryf is nie. Tongaat moes sy vorige winste en ekwiteit ná die enorme afskrywings weer aangee, en die maatskappy het gesê hy het nou waarskynlik ’n regte-uitgifte van R4 miljard nodig. Die aandeel bly opgeskort, aangesien die halfjaarresultate vir September verlede jaar steeds nie ingedien is nie. ’n Handelsverslag word aan die einde van Januarie verwag, met die finansiële resultate en die beëindiging van die opskorting kort daarna.

’n Handelsverslag word aan die einde van Januarie verwag, met die finansiële resultate en die beëindiging van die opskorting kort daarna.

Die halfjaarresultate sal ’n duideliker beeld gee van die onderneming se finansiële posisie en winsgewendheid, sowel as besonderhede van die voorgestelde regte-uitgifte. En belangriker: dit sal ook ’n aanduiding gee van wie die regte-uitgifte gaan onderskryf.

Maar moet asseblief nie goeie nuus gaan staan en verwag nie. Die bedrog by Tongaat word plaaslik net deur die moles by Steinhoff oortref, en dit gaan ’n lang pad wees voordat die suikerprodusent weer sy sake agter mekaar kry en op dreef kom.

Grand Parade

Potensiële groot hoop kontant

Aan die begin van Desember het Grand Parade Investments onverwags ’n omsigtigheidsaankondiging uitgereik en gesê dat hy betrokke is by onderhandelings oor die “verkoop van ’n wesenlike belang in Burger King SA”.

Daar ontstaan onmiddellik twee vrae. Eerstens, wat is “wesenlik” in dié geval? Meer as 50%? Amper 100% of miskien net 20%? Dit is belangrik want dit het ’n uitwerking op die tweede vraag. Wat gaan Grand Parade volgende doen? Hy het die helfte van sy Spur-belang verkoop, sy oliebol- en roomysbesigheid verkoop en van ’n deel van sy dobbelbedrywe ontslae geraak.

Daar bly net ’n minderheidsbelegging in dobbelbedrywighede, Burger King en ’n paar klein ondernemings vir voedselvervaardiging en spysenieringstoerusting oor.

Afhangend van die grootte van die Burger King-verkoping en die geld wat hy sal ontvang, kan Grand Parade uiteindelik op ’n groot hoop kontant sit. Dit kan dalk aan aandeelhouers terugbesorg word, aangesien die groep onder sy netto batewaarde verhandel en aandeelhouers nou begin opdruk om waarde te ontsluit.

Bidvest

Hoe sal die nuwe transaksie uitwerk?

Bidvest koop vir PHS, ’n Britse en Spaanse higiëne-onderneming vir net meer as R9 miljard – ’n groterige transaksie vir Bidvest met sy markwaarde van R70 miljard. Higiëne is een van daardie klassieke defensiewe ondernemings, maar daar is goeie groeivooruitsigte omdat die vraag aanhou toeneem vanweë verstedeliking en ’n ouerwordende bevolking.

PHS het ’n verlies gely weens ’n groot skuldlas wat afbetaal sal word, en hy behoort dus wins te maak wanneer Bidvest hom verkry. Ek beskryf dit as ’n groterige transaksie omdat dit hulle nie bankrot sal maak nie.

Bidvest koop egter teen ’n veelvoud vir verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) van ongeveer 13 maal, wat duur is. Natuurlik praat die maatskappy van sinergieë ná die verkryging, soos maatskappye maar altyd doen, maar die tyd sal wys of dit sal realiseer of nie.

AngloGold Ashanti

Vaartbelyning van bedrywighede

Nog ’n maatskappy wat bates verkoop, is AngloGold Ashanti, wat die Sadiola-myn in Mali vir R1,5 miljard verkoop. Dit is ’n kleinerige transaksie vir hierdie maatskappy, maar dit is die begin van sy aangekondigde proses om ’n aantal van sy myne in Afrika en Suid-Amerika te verkoop.

Sadiola het ’n klein hoeveelheid goud geproduseer, hoewel dit teen ’n alomvattende koste van onder $1 000 per ons was. AngloGold wil egter sy bedrywighede stroomlyn deur te fokus op die gemak van mynbou – regulatories sowel as prakties – en ’n meer gefokusde kapitaaltoekenningsproses.

Kommoditeite

Geniet die rit

Vir sover dit die platinumgroepmetale (PGM’s) betref, het palladium in Desember $2 000 per ons bereik voordat dit tot $1 950 teruggesak het. Platinum toon lewe rondom $980 dollar per ons en rodium verbaas die handelaars steeds teen ongeveer $6 000 per ons.

Selfs met die wisselkoers van die rand onder R14 per dollar aan die einde van verlede jaar, beteken hierdie vlakke dat PGM-myne amper self banknote kan druk. As die prys van edelmetale hoog bly, sal winste ook hoog bly.

Die afgelope jaar was vir Sibanye-Stillwater en Impala Platinum (Implats) wonderlik, maar dit kan nog beter raak. In Sibanye se geval het hy baie skuld ná die Stillwater-transaksie. Hierdie skuld sal egter vinnig afbetaal word en ons behoort vanjaar of volgende jaar dividende te begin sien. Diegene wat PGM-aandele besit, moet hulle behou en dit geniet, maar hou die PGM-pryse dop. As hulle begin ineenstort, is die partytjie verby.

Voorlopig is daar geen teken dat PGM-pryse aansienlik sal daal nie en, van hierdie verhoogde vlakke, kan selfs ’n regstelling van tot 20% steeds beteken hierdie myne druk banknote.

Selfs met die wisselkoers van die rand onder R14 per dollar aan die einde van verlede jaar, beteken hierdie vlakke dat PGM-myne amper self banknote kan druk.

Ascendis

Toringverkope lewer hupstoot van R7 miljard

Begin Januarie het MTN gesê hy het sy selfoontorings in Ghana en Uganda verkoop. Dit is nie net inkomste van meer as R7 miljard vir die groep nie, maar dit verwyder ook ’n groot deel van sy kapitaaluitgawes in daardie markte. Telekommunikasiemaatskappye is uiteindelik nutsmaatskappye, maar hulle het groot en voortdurende kapitaalbesteding met die oorgang van 3G- tot 4G- en nou 5G-tegnologie – iets wat omtrent elke dekade gebeur.

Deur die torings uit te kontrakteer, bly die gebruik daarvan ’n uitgawe, maar dit is nou op die betaal-as-jy-gebruik-beginsel eerder as baie groot voorafbetalings wanneer hulle die nuwe tegnologie in werking stel.

Dit verhoog MTN se kontantvloei en balansstaat. Maar in ’n onlangse eis wat in Amerika ingedien is, word MTN daarvan beskuldig dat hy Amerikaanse anti-terrorisme-wetgewing oortree het met sy bedrywighede in Afghanistan. MTN ontken dit, maar hy werk wel in riskante wêrelddele.

Intu Properties

Spanje het nie uitgewerk nie

Intu het die verkoop van een van sy Spaanse winkelsentrums vir R7,4 miljard aangekondig. Dit help baie om skuld te betaal en om die balansstaat en die lenings-tot-batewaardes-verhouding reg te stel.

Hulle wil ander Spaanse bates ook verkoop, maar dié transaksie verbeter sake heelwat vir die groep. Die Spaanse avontuur het nie goed vir die groep uitgewerk nie en hulle sal uiteindelik weer ’n suiwer Britse eiendomsonderneming word.

Ongeag hoe mens voel oor Brittanje se onttrekking uit die EU, is die uiteinde daarvan nou die belangrikste. Choppies

Op die JSE sal Capital & Counties en Hammerson egter goeie keuses bly vir diegene wat Britse eiendomsblootstelling wil hê. Die gevaar in dié sektor is natuurlik Brexit. Ongeag hoe mens voel oor Brittanje se onttrekking uit die EU, is die uiteinde daarvan nou die belangrikste.

Choppies

Trompetgeskal in SA verander in sagte dodemars

Choppies – wie se aandeleverhandeling op die JSE opgeskort bly – het gesê hy gaan sy SA bedrywighede vir R1 verkoop. Toe dié Botswana-groep in 2015 genoteer het, was daar baie opwinding oor hoe hy ’n mededinger vir Pick n Pay, Spar en Shoprite* kon word en dus ’n uitstekende belegging sou wees.

Maar, soos ek destyds geskryf het, was dié entoesiasme heeltemal misplaas. Dis nie so maklik om mee te ding teen drie dominante kleinhandelreuse met geweldige verspreidingsvermoëns nie. Choppies het interne probleme gehad en het nou eers die finansiële resultate vir Junie 2018 gepubliseer, met dié vir Desember 2018 en Junie 2019 nog uitstaande – vandaar die skorsing.

  •  Stuur 'n boodkskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Die skrywer besit aandele in Shoprite.
  • Foto’s: Shutterstock | Pexels
Meer oor:  Finweek  |  Aandele  |  Simon Se Wenke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.