Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Skuld: boos of bemagtigend?
7 Februarie 2019
Olivier Blanchard, Emeritus-professor in ekonomie aan MIT

Is skuld goed of sleg? Ekonome sal antwoord: dit hang af. Twee sake is van belang: die koste van die skuld wat gereflekteer word deur die rentekoers, en die opbrengs op waarvoor jy die geleende geld voor gebruik.

As jou inkomste vinniger styg as die rentekoers van die skuld, dan maak dit sin om die skuld te verhoog omdat jy in staat sal wees om dit sonder enige probleme terug te betaal. Indien nie, wel, dan sal die skuld ’n gifbeker wees. Skuld is natuurlik reeds ’n geruime tyd met ons.

In ’n diep problematiese blik op die geskiedenis van skuld, Debt: The first 5000 Years, voer David Graeber, dié keer korrek aan dat skuldboekhouding reeds in die eerste beskawings in Sumerië, meer as 5 000 jaar gelede, verskyn.

My eie navorsing, tesame met ’n voormalige PhD.-student, Christie Swanepoel (nou ’n dosent in ekonomie aan die Universiteit van Wes-Kaapland), toon dat skuld ’n belangrike rol gespeel het in die lewens van die setlaars in die Kaapkolonie in die 18de eeu. Waar historici skuld dikwels gesien het as ’n manier vir die welgesteldes om die armes uit te buit, toon ons dat die boere in die Kaap dikwels skuld gebruik het om nuwe beleggings in grond, toerusting en, teneerdrukkend, ook slawe, aan te koop.

Sulke beleggings was ’n belangrike instrument vir die opwaartse sosiale beweeglikheid van die armste setlaars. Wat geld vir individue, nou en in die verlede, is ook waar vir firmas en regerings. Behoort regerings geld te leen om vir nuwe paaie, kragaanlegte, skole of klinieke te betaal? Wat van staatsamptenare se salarisse of pensioene?

By die onlangse Amerikaanse ekonomiese vereniging se vergadering in Atlanta in Amerika, die grootste en belangrikste ekonomiese konferensie wêreldwyd, het die verkose president Olivier Blanchard – emeritus-professor in ekonomie aan MIT en ’n voormalige hoofekonoom van die Internasionale Monitêre Fonds (IMF), wat bekend is as skrywer van ’n voorgraadse handboek oor makro-ekonomie, die hoofrede oor presies dié vraag gelewer. Behoort regerings (tydelik) geld te leen om vir openbare besteding te gebruik?

Die konvensionele antwoord is nee. As regerings geld leen, moet hulle belastings verhoog om vir die hoër rente te betaal. As hulle nie belasting verhoog nie, maar nog meer geld leen om vir die rente betaal, sal dit lei tot ’n renteskuldspiraal wat die regering uiteindelik bankrot sal maak.

Dit is nie net ’n teoretiese oorweging nie; verskeie Afrikalande het skuldkrisisse in die laat 1970’s en 1980’s beleef. Blanchard voer aan dat sulke voorvalle skaars is, en die moontlikheid van ’n renteskuld-spiraal slegs ’n bekommernis is as die ekonomie stagneer.

Simon Wren-Lewis van die Universiteit van Oxford verduidelik dit só op sy blog, mainly macro: “ ’n Regering (soos met ’n firma of individu) behoort na skuld te kyk as ’n verhouding om te betaal, en die maklikste manier om dit te doen is om na die skuld-tot-BBP-verhouding te kyk.

BBP styg vinniger as skuld as sy nominale groeikoers (reële groei plus inflasie) groter is as die rentekoers van die skuld. In snelskrif, g > r.”

Die meeste ekonome aanvaar dat r > g is. Blanchard sê dat dit in die geskiedenis min gebeur het. Dit was slegs in die 1980’s, toe regerings teen inflasie geveg het, dat rentekoerse hoër as die nominale BBP-groei was.

Dus is g > r moontlik eerder die reël as die uitsondering.

Wat is die implikasie hiervan? Behoort regerings gelukkig te wees daarmee om meer te leen terwyl groei hoër as die rentekoerse is?

Wag ’n bietjie, sê Wren-Lewis: Dit beteken dat een van die hoofbesware teen die verhoging van skuld, naamlik dat belastings verhoog sal moet word om die rente te betaal, nie langer geld nie as g > r.

As g > r kan die regering geld leen om die rente betaal, en die skuld-tot-BBP-verhouding sal steeds geleidelik afneem, omdat die ekonomie vinniger groei as die skuld. Die beswaar teen die verhoging van skuld omdat belasting in die toekoms sal moet styg om daarvoor te betaal, verdwyn.

Om die waarheid te sê, die hele “las-op-toekomstige-generasies”-beswaar verdwyn omdat die skuldtot- BBP-verhouding vanself afneem: daar is geen toekomstige las nie”.

Twee lesse spruit hieruit vir Suid-Afrika voort. Dit is alles gegrond op die aanname van ’n tydelike toename in skuld, wat beteken ’n eenmalige besteding aan byvoorbeeld infrastruktuur, eerder as die betaal van salarisse of pensioene. Die tweede les is dat groei belangriker is as wat die meeste mense dink.

Behoort regerings (tydelik) geld te leen om vir openbare besteding te gebruik? Die konvensionele antwoord is nee.

Baie kritici van kapitalisme geniet dit om daarop te wys dat groei nie altyd deursyfer na die armstes toe nie. Waarna hulle verwys is die bestedingvermenigvuldiger, en in daardie enge betekenis is hulle dalk reg: die bestedingsvermenigvuldiger is dalk nie altyd so groot as wat ons graag sou wou hê nie.

Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Maar groei laat ’n land toe om te leen om te help betaal vir daardie goedere en dienste wat nie altyd deur die mark voorsien word nie. En sonder groei, belas sulke skuld die volgende generasie deur hoër belasting. (En die armes is dikwels die laaste wat daarin slaag om aan die hoër belasting te ontkom).

As groei egter hoog is, word geen so ’n las opgelê nie. Suid-Afrika het belegging in openbare infrastruktuur dringend nodig om produktiwiteit te verhoog. Geen ekonomie kan mededingend wees sonder ’n betroubare bron van energie nie.

Wat Blanchard sê is dat skuld ’n manier kan wees om sodanige besteding te finansier – weer, met die voorbehoud dat die geld werklik aangewend word waarvoor dit bestem is.

Blanchard het gesê: “Watter idee wil ek hê julle moet hiervandaan saamneem? Nie die opvatting dat skuld goed is nie. Maar dat skuld dalk nie so sleg is nie.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

* Foto: Gallo Getty Images

Meer oor:  Skuld  |  Finweek  |  Johan Fourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.