Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Sleutellose tegnologie vergemaklik eiendomsbestuur
21 Maart 2019
Jacquis Tolsma, stigter van OPEN

Twee jaar gelede het Jacquis Tolsma sy sleutels by ’n vriend se huis vergeet. Dít het daartoe gelei dat hy die maatskappy OPEN gestig het.

“Dié voorval het my ’n leemte in die mark laat identifiseer vir tegnologie wat ’n mens in staat stel om van enige plek ter wêreld ’n deur of ’n hek oop te maak,” sê Tolsma.

Tolsma se oplossing is ’n gebruiksvriendelike toepassing wat aan jou ’n pinkode vir toegang gee.

Dié pinkode kan, na gelang van behoefte, van ’n dag tot ’n jaar lank geldig bly en selfs elke dag outomaties verander, met die gebruiker wat 30 minute voor die toegangstydperk ’n SMS ontvang.

Só bevry dié tegnologie ’n gastehuis- of Airbnb-eienaar van die las om verlore sleutels te vervang of sleutels persoonlik te oorhandig of te ontvang.

Dit maak dit ook vir sekuriteitsbeamptes of die polisie moontlik om tydens ’n inbraakpoging solank ’n eiendom binne te gaan, eerder as om te wag totdat die winkelbestuurder of huiseienaar kan kom oopsluit.

Wat kommersiële maatskappye betref, stel dié tegnologie werknemers in staat om hul kantore buite kantoorure binne te gaan sonder om die maatskappy se sekuriteit te bedreig, aangesien elke werker ’n unieke pinkode het wat hom of haar identifiseer.

Dié stelsel, sê Tolsma, gaan met minder risiko’s gepaard as om met sleutels te werk, wat vervang moet word wanneer dit verlore raak.

Dié stelsel, sê Tolsma, gaan met minder risiko’s gepaard as om met sleutels te werk, wat vervang moet word wanneer dit verlore raak.

’n OPEN-gebruiker kan onmiddellik ’n nuwe pinkode genereer om ’n vorige kode ongeldig te maak; die maatskappy kan kodes ook van ’n afstand af stel as ’n selfoon byvoorbeeld gesteel is en die gebruiker dit nie self kan doen nie.

Die toestel vir gerief

Tolsma het die nuwe onderneming self gefinansier met geld wat hy met sy werk as landskapsargitek in Dubai verdien het. “Die eerste twee jaar was taai, want ek moes die ontwikkeling van die prototipe en ook die onderneming bestuur terwyl ek ’n vaste pos beklee en my MBA gedoen het,” sê hy.

OPEN het sedertdien beduidende finansiering by ’n engelbelegger verkry. Dit stel Tolsma in staat om al sy tyd aan die opbou van die maatskappy en die verfyning van die tegnologie te bestee.

Tolsma het van die begin af besef dit is belangrik om in bestendige, aanpasbare tegnologie te belê eerder as om op koste te besuinig. Die ontwikkeling van prototipes is daarom aan ’n jong ontwikkelaar uitgekontrakteer en toe deur ’n ervare sagteware-ingenieur en elektroniese ontwerpers verfyn en uitgebrei.

Die eerste prototipe was heel eenvoudig en het ’n deur oopgemaak met ’n toepassing wat ’n foonoproep na ’n GSM-toestel (GSM staan vir Globale Stelsel vir Mobiele kommunikasie) deurgeskakel het.

Dit het nabyheid gekontroleer, wat die deur of hek net laat oopgaan het as die gebruiker binne 200 meter daarvan was. Die eerste kliënte se terugvoer het meegebring dat OPEN sy eie hardeware genaamd CONNECT ontwikkel het om klante van onmiddellike reaksie te voorsien, asook ’n toetsbord om pinkodes van ’n afstand af te verander.

Tolsma het van die begin af besef dit is belangrik om in bestendige, aanpasbare tegnologie te belê eerder as om op koste te besuinig. Die ontwikkeling van prototipes is daarom aan ’n jong ontwikkelaar uitgekontrakteer en toe deur ’n ervare sagteware-ingenieur en elektroniese ontwerpers verfyn en uitgebrei.

Bykomende funksies stel eienaars in staat om te sien wanneer ’n deur oop- of toegaan om só die kom en gaan van mense by ’n eiendom te monitor. Die maatskappy beplan om die volgende generasie hardeware, wat heeltemal draadloos sal wees, in Mei vanjaar bekend te stel en werk ook aan ’n alarmstelsel om gebruikers te laat weet “as ’n deur oopgemaak word wanneer dit nie moet nie”.

Hardewarepryse begin by R2 200 per CONNECT-toestel, wat – tesame met ’n knipslot, magnetiese slot, hekmotor of garagemotor – gebruikers in staat stel om van ’n afstand af die toegang tot hul eiendom te monitor of toe te staan. ’

n Toetsbord kan bygevoeg word vir R1 000, maar is nie regtig nodig nie. “Toe ons hoor jy mag nie in Dubai gate in geboumure boor nie, het ons begin om net die OPEN-selfoonapps te gebruik vir toegang tot woonstelle,” sê hy.

Intekengeld begin by R100 per maand vir basiese lidmaatskap, wat aan een gebruiker toegang bied tot een deur, motorhuis of hek, met 15 keer toegang per maand vir gaste. Dit styg tot R2 500 per maand vir sakeondernemings, wat aan 500 gebruikers en ’n onbeperkte getal gaste tot 20 deure toegang gee.

“Die intekengeld sluit ondersteuning, verslae, die simkaart en selfoondata in vir ’n rugsteun-internetverbinding as die WiFi nie werk nie, asook toegang tot die voortgesette ontwikkeling van eienskappe,” sê hy.

Die fokus het verskuif

’n Klein aantal soortgelyke oplossings is wel in die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar, maar volgens Tolsma is OPEN se mededingende voorsprong dat dit ’n volledig geïntegreerde stelsel bied wat vir enige soort deur of hekmotor kan werk.

Die tegnologie was aanvanklik bedoel vir huiseienaars en Airbnb’s in Suid-Afrika, maar het vir enkeldeurpersele te duur geblyk. Die fokus het toe na klein en middelslag-maatskappye, kleinhandelaars en hotelle verskuif.

’n Klein aantal soortgelyke oplossings is wel in die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar, maar volgens Tolsma is OPEN se mededingende voorsprong dat dit ’n volledig geïntegreerde stelsel bied wat vir enige soort deur of hekmotor kan werk.

Die engelbelegger het by OPEN ingekoop omdat hy gesien het watter moontlikhede die digitale oplossing vir sy eie sakeondernemings kon hê. “Ons eerste transaksie was in Oktober 2017, waarna ons in Desember 2017 deur Rawson Eiendomme by die huurmark kon inkom,” sê hy.

Die maatskappy sal vanaf April vanjaar drie voltydse werknemers hê, Tolsma ingesluit, wat op sakeontwikkeling sal konsentreer – plaaslik en ook in Dubai en Amerika.

“Dat ons ’n oplossing vir ’n wêreldwye probleem het, sal vir ons deure laat oopgaan, dink ek. Dit sal interessant wees om te sien watter nuwe uitdagings die internasionale mark bied,” sê Tolsma.

Meer oor:  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.