Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Someroes verskaf silwer randjie aan ekonomie
30 Julie 2020
/

Ondanks inkrimping wat die landbousektor reeds voor die voortslepende Covid-19-krisis geknou het, tel goeie somergraanoeste onder die vernaamste faktore wat dié strategiese en robuuste sektor weer op die herstelpad plaas.

Behalwe dat dit stukrag aan volgehoue produksie verleen, is dit welkome nuus vir verbruikers en die landsekonomie. Na verwagting sal die bruto binnelandse produk (BBP) toeskryfbaar aan landbou in 2020 (jaar-op-jaar) met 10% – weliswaar vanaf ’n verswakte basis – styg.

Dit is onder meer te danke aan die verwagte uitstekende oeste in die somergraanstreke. Só het prof. Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landbou-beleid (BFAP), en dr. John Purchase, Agbiz se uitvoerende hoof, op die onlangse Nedbank Agri-webinaar gesê.

Volgens Wandile Sihlobo, Agbiz se hoofekonoom, het die landbou-ekonomie reeds in die eerste kwartaal vanjaar met 27,8% verbeter teenoor die laaste kwartaal van verlede jaar. Dié ommeswaai het gevolg op inkrimping wat in vier agtereenvolgende kwartale deur onder meer droogtetoestande en probleme met bek-en-klouseer in beeskuddes meegebring is.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz

Goeie somergraanoeste

Corné Louw, ’n senior ekonoom by Graan SA, som die verwagte goeie somergraanoessyfers (2019-’20) op as SA wat tans sy tweede grootste mielie-oes ooit insamel (bestaande uit ’n geskatte 9 miljoen ton witmielies en 6,4 miljoen ton geelmielies). Die mielie-oes is heelwat groter as die plaaslike jaarlikse verbruik van ongeveer 11 miljoen ton (wat ruimte laat vir uitvoer), sê hy.

Die geskatte sojaboonoes van 1,26 miljoen ton is wel 7,8% hoër as die vorige oes, maar produksietoestande (veral in die ooste van die land) was teleurstellend, volgens Louw. Al het die oprigting van plaaslike persaanlegte meegebring dat SA al meer selfvoorsienend geword het ten opsigte van sojabone, het verbruik die laaste twee tot drie jaar gestyg, sê hy.

Die mielie-oes is heelwat groter as die plaaslike jaarlikse verbruik van ongeveer 11 miljoen ton (wat ruimte laat vir uitvoer).

Dit beteken dat sojaboonoliekoek steeds vanjaar vir gebruik in veevoer ingevoer moet word. Louw wys daarop dat die finale oesskattings eers teen September of Oktober bekend sal wees. Vanweë laat reën in die binneland en nog heelwat nat mielies op die lande, is die graad of die gehalte van die oes nog ’n risikofaktor wat die aanbod aan die mark mag beïnvloed.

Met die aanvang van die nuwe somergraanseisoen op 1 Mei was daar net sowat 1 miljoen ton mielies as oordragvoorraad beskikbaar. “Dit was ’n bietjie skraps, maar steeds voldoende,” aldus Louw.

Voordele van groter oeste

Luidens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtestigting is toegang tot voedsel tans weens die Covid-19-maatreëls die bevolking se grootste uitdaging. “Die ekonomie en verbruikers is onder druk wat meegebring het dat die verbruik van witmielies as stapelvoedsel tot rekordvlakke gestyg het,” aldus Louw. Witmielieverbruik (wat aan seisoenale tendense onderhewig is) het in die drie maande van Maart tot Mei vanjaar met 16,4% tot 1,419 miljoen ton gestyg.

Boikanyo Mokgatle, uitvoerende direkteur van die Nasionale Meulenaarskamer

Die verbruik was 1,219 miljoen ton in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. In sy reaksie op die goeie somergraanoeste, sê Boikanyo Mokgatle, die Nasionale Meulenaarskamer se uitvoerende direkteur: “Covid-19 het groot onsekerhede wêreldwyd meegebring wat internasionale handel bykans verlam het. Ook in SA het dit tot erge ekonomiese gevolge gelei.

Die verwerkers van mielies en koring is vername rolspelers om deurlopend voldoende hoeveelhede mielie- en koringmeel as stapelvoedsel te lewer. Dus verleen die gunstige mielie-oes gemoedsrus ten opsigte van voedselsekerheid – wat met groot genoeë deur die Kamer verwelkom word.” Afgesien van groter voedselsekerheid, bring die goeie somergraanoeste en laer graanpryse ook gedeeltelike verligting vir veeprodusente, waaronder die braaikuikenbedryf.

Impak op pluimveebedryf

Danksy die goeie verwagte oes, het die mielieprys volgens Louw van die invoerpariteitsband na uitvoerpariteit (dus teoreties die laagste moontlike prysvlak op die oomblik) gedaal. Dít gesê, het die rand se swak wisselkoersvlakke sedert die begin van die jaar egter bogenoemde prysvoordeel in rand-terme weggevreet.

Astral Foods, SA se grootste braaikuikenprodusent, wys daarop dat die wisselkoers van die rand steeds aansienlik swakker as ’n jaar gelede is, hoewel dit in onlangse weke effens verstewig het. Volgens Andy Crocker, Astral Foods se kommersiële besturende direkteur, en Gary Arnold, die groep se besturende direkteur vir landbou, beïnvloed twee faktore Astral se produksie-vooruitskouing.

Eerstens is daar die negatiewe effek van die wisselkoers op hul insetmiddele. Tweedens is daar Covid-19 se beperkende uitwerking op voorsieningskettings wêreldwyd wat tot die hoër koste van noodsaaklike insetmiddele lei. Voorts wys hulle daarop dat sojaprodukte ’n aansienlike deel van pluimvee-rantsoene uitmaak. Gegewe die feit dat SA steeds sojameel met ’n swakker rand teen invoerpariteitsvlakke moet invoer, word die voordeel van ’n groter mielie-oes nóg verder vir die pluimveebedryf geërodeer. Kortliks beïnvloed bogenoemde faktore die pryse van veevoer dus negatief – ondanks die tweede grootste mielie-oes in SA se geskiedenis.

“Gegewe voerpryse wat 65% van die koste uitmaak om ’n braaikuiken te produseer, sal die prys van pluimveevleis moet styg om die hoër produksiekoste te verhaal. Indien die braaikuikenbedryf volhoubaar wil bly en sy belangrike rol ten opsigte van voedselsekerheid wil handhaaf, sal die hoër insetkoste ten opsigte van voer aan die verbruiker deurgegee moet word,” aldus Crocker en Arnold. Louw wys egter daarop dat die pluimveebedryf nóg slegter daaraan toe sou gewees het indien hy te midde van die huidige ekonomiese krisis mielies sou moes invoer teen ’n verswakte rand-wisselkoers.

Hoe raak dit Tiger Brands?

SA se grootste voedselprodusent, Tiger Brands, wys daarop dat sojabone nie deel van sy graanportefeulje vorm nie en onbeduidend is ten opsigte van sy ander portefeuljes.

“Boonop is die bydrae van mielies tot Tiger Brands se winsgewendheid baie klein,” sê Kanyisa Ndyondya, die groep se woordvoerder. “Soos vermeld in ons 2019 geïntegreerde jaarverslag, dra mielies ongeveer 8% by tot die inkomste van ons graanportefeulje; dus is die bydrae daarvan tot die maatskappy se algehele winsgewendheid selfs nóg laer. Dit is ook belangrik om daarop te let die koste van grondstowwe slegs een element van produksiekoste is; ander omsettingskoste, uitgawes ten opsigte van verkope en verspreiding asook bemarking mag die voordeel wat grondstowwe meebring, uitwis.”

Ook Ndyondya wys daarop dat die oordragvoorraad van mielies vergeleke met vorige jare betreklik laag was, terwyl die verwagte goeie mielie-oes dalk kleiner mag wees as die jongste beskikbare skatting. Daarbenewens mag verskeie faktore, waaronder die uitvoer van mielies na buurlande, tot ’n kleiner binnelandse surplus lei.

Waar laat dit die landbou?

Volgens Purchase is die landbou ’n vername bate vir SA in terme van voedselsekerheid. “Die uitset van die landbouwaardeketting bedra tans R1,9 duisend miljard, terwyl primêre landbouproduksie R248 miljard daartoe bydra en 7% van die indiensnemingsyfer in SA verteenwoordig.”

Hy meen indien oplossings gevind kan word vir die foutlyne waaronder die landbou reeds voor die aanbreek van Covid-19 gebuk gegaan het, kan die sektor 30 000 bykomende werksgeleenthede per jaar skep en miljarde rande se bykomende waarde tot die BBP bydra.

Hoewel laer pryse nes te klein oeste die somergraanprodusent se winsgewendheid onder druk plaas, behoort vanjaar se oeste die landbou-ekonomie weer op ’n beter voet te plaas

Volgens Purchase is strategieë nou nodig om groei oor die medium- tot lang termyn asook werkskepping in die landbousektor te verseker. Wat landbouverwerking betref, is 100 000 bykomende werksgeleenthede sedert 2011 geskep en 25 000 nuwe geleenthede ten opsigte van landbou-uitvoere, aldus Meyer.

Opsommenderwys wys Louw daarop dat plaaslike mielieprodusente die afgelope vyf jaar onder groot druk was en dat pryse tydens goeie oeste daal. Hoewel laer pryse nes te klein oeste die somergraanprodusent se winsgewendheid onder druk plaas, behoort vanjaar se oeste die landbou-ekonomie weer op ’n beter voet te plaas. “Maar ons het ’n paar sulke oeste nodig om die (somer-) graanprodusente weer in die groen te kry.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Lanbou  |  Finweek  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.