Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Sondebelasting: Suikersoet en peperduur
10 September 2020
Foto: Shutterstock

Ons eet almal te veel suiker. Ek het die afgelope twee jaar hard probeer om my suikerinname te verminder, met heelwat sukses het ek gedink, totdat ’n vriend die suiker- inhoud van Mrs Ball’s-blatjang en All Gold-tamatiesous uitgewys het – stapelvoedsel in die Fourie-huishouding. Ons sal hom nie sommer weer vir ete nooi nie!

Maar die gevolge van ons oorverbruik is geen grap nie. Die oormatige inname van suiker kan tot ’n groot verskeidenheid dieetverwante siektes lei, soos diabetes, kanker en hartsiekte. In Suid-Afrika is hierdie kwessies veral kommerwekkend.

Die SA demografiese en gesondheidsopname van 2016 het bevind dat 68% van vroue, 31% van mans en 13% van kinders oorgewig of vetsugtig is. Die nasionale dinamiese inkomsteopname toon die groot geslagsgaping vir armes: hoewel slegs 4% van mans in die armste inkomstekwintiel vetsugtig is, is 31% van vroue in dieselfde kwintiel wel.

Daarom is vetsugverwante siektes een van die grootste oorsake van sterftes in die land; slegs MIV/Vigs is gevaarliker. Ons grootste bron van suiker is drinkgoed.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie moet ’n volwasse man nie meer as 12 teelepels suiker per dag inneem nie; ’n 330 ml-blikkie Coca-Cola bevat agt. Dié koeldrankies is ’n groot bydraer tot die dieetsuiker van jong mense, armes en dié wat reeds hoë vlakke van dieetsuiker het. Wat kan ons aan hierdie situasie doen? In 2018 het SA besluit om suikerversoete drinkgoed te belas deur die gesondheidsbevorderingsheffing in te stel. Dié belasting het ’n gemiddelde styging van 11% in koeldrankpryse veroorsaak.

En dit het blykbaar ’n onmiddellike impak gehad: ’n Fitch Solutions-verslag toon dat die verkope van gaskoeldrank in 2018 van R7,2 miljard met 5% tot R6,8 miljard gedaal het. Die belasting het egter meer as R3 miljard vir die nasionale tesourie verdien, wat wys dat verbruikers steeds koeldrank gekoop het.

Dit dui daarop dat gaskoeldrank prys-onelasties is, wat beteken dat selfs as die prys styg, die vraag nie eweredig sal daal nie. Dit is dus onwaarskynlik dat verbruikers na ander produkte sal oorskakel, wat gevolge het: In ’n verslag van Econex Consulting (nou FTI Consulting) in 2017, word opgemerk dat die armes die meeste geraak sal word, aangesien goedkoper koeldrank gewoonlik meer suiker bevat.

Twee jaar ná die inwerkingstelling is dit nog nie duidelik of SA se “suikerheffing” ’n sukses was nie. Maar ’n nuwe navorsingsartikel wat in die American Economic Review gaan verskyn, kan dalk verbruikers se gedrag verduidelik. Dit gebruik Brittanje, wat in 2018 ook ’n suikerheffing ingestel het, as gevallestudie.

Om vas te stel of die heffing inderdaad suksesvol is om suikerverbruik te verminder, gebruik die skrywers ’n nuwe opname van meer as 8 miljoen waarnemings van 5 555 individue tussen 2009 en 2014 wat al hul aankope van versnaperinge en nie-alkoholiese drankies vir verbruik buite die huis aangeteken het. Hulle kan dus bepaal hoe individue van verskillende ouderdomme en inkomstevlakke reageer op ’n prysstyging. Hulle simuleer dan wat sou gebeur as ’n belasting ingestel word.

Die resultate toon dat die suikerheffing die beoogde gevolg sou gehad het: Die heffing van 2018 het die hoeveelheid suiker wat verbruikers uit koeldrank kry, met 21% verminder. Daar is ook bevind dat hoewel verbruikers na alternatiewe suikerbronne – drinkgoed en versnaperinge – oorskakel, dit nie die suiker wat uit die koeldrank verloor word, heeltemal vervang nie.

Maar omdat die gegewens op individuele vlak is, toon dit dat hierdie algehele effek ook groot variasie tussen verskillende ouderdoms- en inkomstegroepe inhou.

Die belasting het egter meer as R3 miljard vir die nasionale tesourie verdien, wat wys dat verbruikers steeds koeldrank gekoop het.

Dit wys eerstens dat daar ’n korrelasie is tussen ouderdom en ’n voorkeur vir koeldrank, maar dat hierdie verhouding U-vormig is: “Die ouderdomsgroep van 13 tot 21 jaar het sterker voorkeure as dié van 22 tot 30 jaar, wat op hulle beurt sterker suikervoorkeure het as ouer individue, maar onder ouer individue neem suikervoorkeure ook toe volgens ouderdom.”

Die heffing se impak verskil heelwat tussen dié twee groepe. Die goeie nuus is dat kinders blykbaar die beste reageer op die suikerbelasting: Die ouderdomsgroep van 13 tot 21 verminder hul suikerverbruik weens die belasting met oor die 40% meer as dié bo 40. Maar die slegte nuus is dat die heffing feitlik heeltemal ondoeltreffend is om die daaglikse suikerinname van haastige mense met ’n konstante hoë vlak van dieetsuiker in hul algehele dieet te verminder.

Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Die skrywers sê dis moontlik omdat “hulle gewoonlik ’n sterk voorkeur vir suiker het en minder prysbewus is”. Die suikerbelasting het matige gebruikers gehelp – hulle het hul verbruik verminder – maar min invloed gehad op diegene wat die meeste daaraan verslaaf is. Hierdie resultate wys dat ’n verhoging van sondebelasting omsigtig ingestel moet word. Mense reageer nie almal dieselfde nie – dit is waarom sosiale wetenskap so ’n moeilike, dog interessante, studieveld is.

’n Verhoging van suikerbelasting kan sommige mense bevoordeel, maar nie dié met sterk voorkeure en verslawing nie. Hulle sal eenvoudig meer van hul begroting bestee aan dinge wat vir hulle sleg is. As dit vir suiker geld, is dit nog erger vir die twee klassieke sondebelastings: tabak en alkohol. Die verbod op die verkoop van sigarette gedurende die eerste drie stadiums van inperking was bedoel om verbruik te verminder. Diegene wat ’n mens as geleentheidsrokers kan beskryf, sou hul gedrag kon aanpas.

Maar vir die oorgrote meerderheid, vermoed ek, was dinge nie so eenvoudig nie. Hierdie verbruikers is gedwing om rookgoed van swakker gehalte teen hoër pryse te koop. Om dit te doen, sou hulle ander uitgawes moes besnoei. Dit is dalk met goeie bedoelings voorgestel dat hoër sondebelasting ’n minder sondige samelewing sal veroorsaak, maar dit kan maklik slegter gevolge hê.

Soos dikwels in die ekonomie die geval is, is die antwoord: dit hang af. En dit hang af van vraagelastisiteit, wat op sy beurt afhang van voorkeure, of daar goeie plaasvervangers is en ander maatskaplike en kulturele faktore wat dikwels oor die hoof gesien word. Gee die duiwel wat hom toekom. ¦

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Finweek  |  Sondebelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.