Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
S&P 500 en Nasdaq neig elk anders
30 Julie 2020

Baie is al geskryf oor die onsamehangendheid tussen Wall Street (die markte) en Main Street (die verbruiker) met werkloosheid in Amerika wat bokant 10% boer, terwyl markte hoër galop en die Nasdaq onlangs nuwe hoogtepunte aangeteken het.

Soos ek al voorheen geskryf het, is daar twee dinge wat die onsamehangendheid aandryf. Die eerste is dat markte vooruitskouend is en 12 tot 18 maande die toekoms in kyk, en daarom belê hulle vir die tweede helfte van 2021. Mens kan natuurlik ’n stewige argument uitmaak dat die ekonomie dan steeds druk sal ervaar, maar dalk minder as nou. Dit bring my by die tweede rede: Die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed).

Die Fed pomp honderde miljarde dollar in die stelsel in en dié geld vind ’n heenkome in die markte, wat die markte laat styg. En, soos veterane in die mark altyd sê, moenie die Fed teëgaan nie. Daar is egter ’n tweede onsamehangendheid in markte wat ook sin maak: die een tussen tegnologieaandele en die res van die mark. Die meeste indekse het ná die uitbreek van die pandemie vroeg in Junie ’n hoogtepunt bereik, terwyl die Nasdaq aangehou klim en nuwe allerhoogtepunte bereik het.

In die S&P 500 se geval het die allerhoogtepunte laat in Februarie gekom en sy hoogtepunt ná die pandemie was op 8 Junie. Dié onsamehangendheid maak baie sin, want die tegnologiebelaaide Nasdaq is vol aandelemaatskappye wat uiters goed vaar tydens die pandemie, onder meer Microsoft, JD.com en Amazon, wie se inkomste almal aansienlik gestyg het tydens die inperking.

Nuwe gewoontes

Dié nuwe inkomste sal waarskynlik blywend wees, want mense leer nuwe gewoontes aan, ontwikkel nuwe maniere om dinge te doen en werk tydens die inperking anders as voorheen; ons gebruik baie meer tegnologie en ons sal waarskynlik aanhou om meer daarvan te gebruik, selfs wanneer die pandemie en grendeltyd iets van die verlede is.

Die S&P 500 het ’n bietjie tegnologieblootstelling, maar dis baie minder en sluit ook aandele van “outydse” bedrywighede in, soos ontspanning, lugdienste en konvensionele (eerder as internet-) ondernemings, wat swaarkry weens die inperking. Dat die Nasdaq dus allerhoogtepunte aanteken terwyl die S&P 500 agterbly, maak sin en dit sal waarskynlik nog ’n tyd lank voortduur. Wanneer die S&P 500 herbalanseer, sal hy meer van dié uiters suksesvolle tegnologieaandele bykry.

Gerugte wil dit hê dat Tesla ingesluit sal word, wat die aandeel verder sal laat styg. Dis nietemin só dat die S&P 500 verskeie maatstawwe vir notering het naas bloot markkapitalisasie, onder meer “positiewe AARP-wins oor ’n 12-maande tydperk”, wat Tesla sal uitsluit.

Goudaandele styg skerp danksy sterk winsstygings, met die goudprys op sowat $1 800 per ons waar ek hier skryf.

Plaaslik is daar dieselfde fenomeen tussen goudmaatskappye en alle ander aandelemaatskappye, met banke en vaste eiendom wat onder druk bly. Goudaandeelpryse styg skerp danksy sterk winsstygings, met die goudprys op sowat $1 800 per ons waar ek hier skryf. Ons gaan egter ’n verdere onsamehangendheid sien, selfs binne sektore. TFG se handelsverklaring van middel Julie het duidelik gewys vergeleke met Pepkor se handelsverklaring doen laasgenoemde beter, en dit maak ook sin.

In die algemeen is Pepkor se klere goedkoper as TFG se handelsmerke; ’n verbruiker wat onder druk en bekommerd is oor die toekoms sal minder wil betaal, en dus eerder na ’n Pepkor-handelsmerk as na ’n TFG-winkel toe gaan.

Ons sal dit ook met die voedselhandelaars sien wanneer verbruikers eerder by die goedkoper winkels koop, wat handelsmerke aan die laer kant van die prysspektrum sal help en die duurder winkels sal knou. Oor die langer termyn sal verbruikers weer duurder begin koop, maar vir die volgende jaar of twee sal die tendens verseker die laekostehandelsmerke bevoordeel – ’n mens kan dus verwag hul aandeelpryse sal beter presteer.

Meer oor:  Nasdaq  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.