Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Staatsbestuur: Nie almal deel in die pyn nie
10 September 2020
Reuben Maleka, assistent-hoofbestuurder vir ledesake by die Vereniging van Staatsamptenare (Foto: YouTube)

Die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) het vir 3 September (die dag nadat hierdie uitgawe van finweek drukker toe is) ’n landwye staking deur sy 240 000 lede uitgeroep.

Die vakbond eis dat die regering sy bevriesing van staatsamptenare se salarisse herroep en genoeg persoonlike beskermende toerusting (PBT) voorsien aan lede in die voorste linie van die pandemie.

“(W)erkers is woedend oor die stadige pas van transformasie en die regering se onvermoë om staatsamptenare se lewens te verbeter, onder meer deur loonverhogings te bevries en na te laat om Resolusie 1 van 2018 in werking te stel terwyl hulle toekyk hoe die elite by korrupsie baat vind danksy PBT-tenders en die verskaffing van ander noodsaaklikhede vir Covid-19,” het Nehawu met die afkondiging van die staking verklaar.

Staatsdienswerkers neem sowat 12% van die land se BBP op.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) en sy 240 000 lede meen loonverhogings is geregverdig, want staatsdienswerkers veg in die voorste linies teen die koronaviruspandemie. “Dit sal onbillik wees om te verwag staatsamptenare, wat onder die juk van die Covid-19-pandemie die land moes dra en verseker het die stryd teen die pandemie word enduit en suksesvol gevoer, moet ’n salarisverlaging aanvaar,” sê Reuben Maleka, assistent-hoofbestuurder vir ledesake by die VSA.

Talle staatsamptenare, waaronder dokters en andere, het selfs hul lewens verloor en hul gesinne behoeftig agtergelaat, sê hy. “Hoe kan ’n mens dan verwag staatsamptenare moet hul lewens opoffer, allermins hul salarisse?” Staatsdienswerkers neem sowat 12% van die land se BBP op, volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso).

Hul aandrang op loonverhogings kom terwyl 3 miljoen van hul landgenote hul werk verloor het. Teen dié agtergrond raak dit moeilik om simpatie te hê vir hul eise. Hoe goed word staatsamptenare besoldig vergeleke met, byvoorbeeld, finansiëledienstewerkers? ’n Baie stomp instrument om dit te bepaal, is om ’n instelling se salarisrekening deur die getal mense in sy diens te deel.

Die staat se salarisrekening word op R638,9 miljard vir 1,2 miljoen werknemers vanjaar geraam, wat op ’n gemiddeld van R532 417 per werknemer per jaar neerkom (R44 368 per maand met geen 13de of 14de tjek nie).

Vergelyk dit nou met die gemiddelde salarisrekening van party van ons banke. Standard Bank, die grootste bank in Afrika, het in sy vorige boekjaar tot 31 Desember R34,5 miljard aan 50 691 werknemers betaal. Dis ’n gemiddelde salaris van R681 659 per werknemer per jaar (R56 804 per maand).

Absa het sy 38 472 personeellede verlede jaar R26,2 miljard betaal vir ’n gemiddeld van R682 626 per werknemer per jaar (R56 885 per maand). Nedbank het R17,3 miljard aan 29 403 werknemers betaal vir ’n gemiddeld van R589 124 per persoon per jaar (R49 093 per maand).

Capitec betaal gemiddeld R298 766 per persoon per jaar (in totaal R4,35 miljard aan 14 590 personeellede). Staatsamptenare se salarisse, in verhouding tot hul bekwaamheid, vergelyk dus goed met die private sektor.

“Die fokus behoort op die gelykstelling van salarisse op alle regeringsvlakke te wees.”

’n Ander maatstaf wat gebruik kan word, is om die totale inkomste van ’n instelling deur sy getal werknemers te deel om te kyk wat die omset per personeellid is. Die staat sal na verwagting vanjaar volgens sy aanvullende begrotingsoorsig R1,09 duisend miljard ontvang (lenings uitgesluit). Dit kom neer op omset van R915 833 per werknemer.

Neem mens weer die banke as voorbeeld, is Capitec se ratio R1,14 miljoen se bedryfsinkomste per werknemer, Standard Bank s’n is R2,48 miljoen per werknemer, Absa s’n R1,88 miljoen en Nedbank s’n R1,7 miljoen.

Dit gee die banke ruweg ’n gemiddelde bedryfsinkomste van R1,8 miljoen per werknemer. Bring ’n mens dit weer na die openbare sektor se salarisrekening terug, beteken dit byna die helfte van alle regeringsposte is onnodig, sou dié werknemers dieselfde produktiwiteit hê as die bankdienstesektor se personeel. Maleka wys egter op die probleem rakende ’n maatstaf van gemiddelde salaris (en nie een met betrekking tot produktiwiteit in die openbare sektor nie). “(Die) openbare sektor verwys na al drie regeringsvlakke, staatsondernemings inkluis, daarom behoort die fokus op die gelykstelling van salarisse op alle regeringsvlakke te wees,” sê hy.

Net so kry die direkteurs-generaal van staatsdepartemente en munisipale bestuurders hoë salarisse vergeleke met die werknemers onder hul bestuur, volgens hom.

“Dit behoort getakel te word eerder as om die indruk te wek dat staatsamptenare sulke hoogs besoldigde werknemers is, sonder om die korrekte konteks te gee dat die uitvoerende hoofde van SOE’s en (munisipale bestuurders) se salarisse hoër is as die salarisband in die staatsdiens,” sê Maleka.

In die skikking van die loongeskil tussen die regering en die vakbonde rakende salarisverhogings in die openbare sektor, het Maleka vir seker egter ’n punt beet: “Die grootste probleem vir die staatskas is nie salarisse nie; korrupsie, wanadministrasie en finansiële wanbestuur is die vyande van die staatskas.” 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Meer oor:  Finweek  |  Staatsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.