Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Stel die ‘erfsonde’ op billike wyse reg
20 Desember 2018

Foto: Getty Images

Die wysiging van artikel 25 van ons Grondwet, het reeds tot baie spanning gelei.  Maar dit fokus ook weer die aandag op die parlement se oënskynlike onvermoë om behoorlike openbare deelname toe te laat.

Vincent Smith, voormalige voorsitter van die parlement se gesamentlike grondwethersieningskomitee, het vroeër gesê die proses vir die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet oor grondonteiening sonder vergoeding gaan oor die regstelling van ’n “erfsonde”.

Grondonteiening sonder vergoeding

Maar wat daarvan om ’n ander, minder voor die hand liggende grondwetlike sonde reg te stel – die reg van die publiek om sinvol aan die wetgewende proses deel te neem?

Drukgroepe soos AfriForum het reeds ’n hofaansoek ingedien (ofskoon onsuksesvol) vir ’n dringende interdik teen die komitee se verslag, wat ’n wysiging van die Grondwet aanbeveel.

Die aansoek was gegrond op bewerings dat die openbare deelnameproses gebrekkig was. In sy verklaring sê die parlement egter aangesien die hof die aansoek verwerp het, bevestig dit dat die parlement se openbare deelnameproses reg was.

Drukgroepe soos AfriForum het reeds ’n hofaansoek ingedien (ofskoon onsuksesvol) vir ’n dringende interdik teen die komitee se verslag, wat ’n wysiging van die Grondwet aanbeveel.

Dit is egter nie net AfriForum wat besorg is oor die proses nie. Die besorgdheid oor gebreke in die openbare deelnameproses is ook nie nuut of tot grondsake beperk nie.

Met die laaste ronde voorleggings oor artikel 25 in die parlement het bepaalde organisasies en individue elk tien minute gekry om voorleggings te lewer. LP’s kon daarna vrae vra.

Vrae is gevra!

Dié vrae het egter gereeld in beledigende opmerkings oor ras en ’n hareklowery ontaard oor kwessies en standpunte waarmee sommige LP’s nie saamgestem het nie.

Van dié LP’s het selfs so ver gegaan as om te beweer party verteenwoordigers van organisasies soos die Land Access Movement of South Africa is “in witmense se sakke” en dat hul standpunte “nie klop met mense wat grondloos is nie”.

Die organisasie Women on Farms Project (WFP) was ook op die program om ’n voorlegging te doen.

Volgens Carmen Louw, adjunkdirekteur, is WFP ’n spesifieke tyd gegee om voor die komitee te verskyn, maar moes toe met ’n hele groep vroulike plaaswerkers haas toe die komitee op die laaste nipper die tydgleuf verander.

Van dié LP’s het selfs so ver gegaan as om te beweer party verteenwoordigers van organisasies soos die Land Access Movement of South Africa is “in witmense se sakke” en dat hul standpunte “nie klop met mense wat grondloos is nie”.

Louw sê dit was vir dié vroue belangrik om insette te lewer, want vroulike plaaswerkers bring ’n unieke perspektief na die gronddebat. Dié dag het sowat tien vroulike plaaswerkers, van wie party tyd moes afkry by die werk, die WFP-aanbieders vergesel om die saak te help stel.

WFP het ook slegs tien minute gekry maar gesoebat dat minstens een van die plaaswerkers haar brief kon voorlees.

Die brief was in Afrikaans en nie ’n enkele LP het gevra vir ’n vertaling of gereageer nie, wat die indruk versterk dat dié sittings dikwels afgejaag word en eintlik blote vertoon is.

Gebrek aan openbare deelname 

Navorsingsverslae en peilings soos dié van die parlementêre moniteringsgroep (PMG) dui op soortgelyke kwellings en opmerkings oor die gebrek aan voldoende openbare deelname.

In sy peiling van 2017 oor openbare deelnameprosesse het PMG die respondente gevra of hulle tevrede is dat hul voorleggings “voldoende in aanmerking geneem of oorweeg” is.

Die bevinding was dat 30% van die respondente ontevrede was en 37% het gevoel die parlement het hul insette “nie ernstig opgeneem nie”.

Die bevinding was dat 30% van die respondente ontevrede was en 37% het gevoel die parlement het hul insette “nie ernstig opgeneem nie”.

Byna 80% van die respondente het gevoel die komitee se terugvoer oor hul voorleggings tydens die openbare verhore was ontoereikend. Van die uitdagings wat die peiling geïdentifiseer het, was ’n gebrek aan tyd en vermoë.

Mismoedige respondente

Sommige respondente het aangedui hulle het “mismoedig” gevoel toe hulle halfpad deur hul voorlegging stilgemaak is omdat “die tyd om was”.

Ander opmerkings was dat respondente die gevoel gekry het komiteelede luister nie eintlik nie, verkleineer standpunte waarmee hulle nie saamstem nie en dat sommige voorsitters outoritêr was, wat hulle geïntimideer het.

Die parlement se eie hoëvlakpaneel om die impak te evalueer van wetgewing wat sedert 1994 aanvaar is, het sy kwelling oor die openbare deelnameproses uitgespreek en aanbeveel die hele stelsel moet hersien word.

In ’n verslag van November 2017 het die paneel sy ernstige kommer oor ontoereikende openbare verhore en hul gebrek aan inklusiwiteit uitgespreek. Ook dui ’n rits hofuitsprake op tekortkominge in die openbare deelnameproses. Nie veel het verander nie.

In Desember het die Grondwethof die parlement weer eens betig oor sy versuim om behoorlike openbare deelname te bevorder.

Die parlement se eie hoëvlakpaneel om die impak te evalueer van wetgewing wat sedert 1994 aanvaar is, het sy kwelling oor die openbare deelnameproses uitgespreek en aanbeveel die hele stelsel moet hersien word.

Die SA Veeartsenyvereniging het die hof gevra om die artikel van die Wysigingswet op Medisyne en Verwante Middels wat die woord “veearts” bevat, ongrondwetlik te verklaar, want die parlement het “nagelaat om openbare deelname te bevorder oor die weergawe van die wetsontwerp wat na veeartse verwys”.

Publiek mag deel neem!

In die laaste week voor die parlementêre reses het die nasionale wetgewer ’n ad hoc-komitee aangestel om die wetgewende proses vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet te bestuur.

Dié komitee sal na verwagting teen 31 Maart 2019 aan die parlement verslag doen. Kragtens parlementêre reëls kan die parlement voorleggings van die publiek ontvang, mondelinge getuienis aanhoor en openbare verhore hou.

Dit bied aan die parlement ’n volgende geleentheid om die openbare deelnameproses reg aan te pak.

Dit gaan oor die grondslag van ons demokrasie, waar die publiek nie slegs kies wie hulle verteenwoordig nie, maar ook kans gegun word om sinvol te kan deelneem aan, en invloed uit te oefen op besluite wat namens hulle geneem word.

Die minder vanselfsprekende grondwetlike sonde van onvoldoende openbare deelname kan eenvoudig nie afgemaak word as bloot ’n geval waar sommige vír en sommige téén grondonteiening sonder vergoeding is nie.

Dié kwellings is wesenlik. Dit gaan oor die grondslag van ons demokrasie, waar die publiek nie slegs kies wie hulle verteenwoordig nie, maar ook kans gegun word om sinvol te kan deelneem aan, en invloed uit te oefen op besluite wat namens hulle geneem word.

Pogings om ’n “erfsonde” reg te stel, moet hier begin.

Die parlement het vanjaar 23 wetsontwerpe aanvaar en enige daarvan kan weens dieselfde bewering van onvoldoende openbare deelname in die hof beland. Die tyd sal leer.

  • Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za
  • Dele van dié artikel het oorspronklik in die digitale nuusbrief Parly Beat verskyn.
  • Alicestine October is ’n vryskutjoernalis.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.