Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Stewige dividende vir mynbeleggers
18 Februarie 2021

Die finansiële resultate van die mynmaatskappye Glencore, Anglo American en BHP in Februarie, asook die JSE se edelmetaalmaatskappye Sibanye-Stillwater, Impala Platinum (Implats), en Gold Fields sal tot groot geesdrif onder beleggers lei.

“ ’n Goeie, stewige dividend wat in die nabye termyn betaal word, kan ’n effense buffer bied teen ’n daling in die prys van kommoditeite as ons ’n regstelling ná die onlangse herstel ervaar,” het RMB Morgan Stanley in Januarie gesê. Nadat Kumba Iron Ore (waarvan Anglo American 70% besit) byvoorbeeld voldoende kontantreserwes opgebou het, sal hy na verwagting al die vrye kontant wat hy in die tweede helfte van sy finansiële jaar geskep het, uitbetaal.

Dit sal na Exxaro Resources vloei, wat sy 20%-belang in Kumba se filiaal, Sishen Iron Ore, uitbetaal. Exxaro sal ongeveer 28% van sy verdienste uit steenkool byvoeg, sê ontleders. Dividend-opbrengste bokant 5% word ook voorspel vir BHP, Implats, African Rainbow Minerals en Sibanye-Stillwater, wat onlangs gesê het dat toeskryfbare verdienste van amper R30 miljard moontlik was.

Dit sal rekordverdienste vir Sibanye-Stillwater wees en laat interessante gissings oor sy potensiaal vir samesmeltings en verkrygings ontstaan. Die mynbousektor is duidelik in ’n goeie posisie ten opsigte van nabye-termyn-opbrengste. Op langer termyn is dit egter steeds ’n bedryf wat in ’n oorgangstydperk is terwyl hy eksistensiële kwessies met betrekking tot sy uitwerking op die omgewing en sy plek in die gemeenskap pak.

’n Maatskappy op die JSE wat spesiale aandag in hierdie verband moet geniet, is die minerale- en handelsreus, Glencore, wat die breë vrae van sy relevansie beter as die meeste ander maatskappye opsom. Wat interessant van Glencore is, is dat hy baie van die metale en minerale produseer wat noodsaaklik is vir die ontkoling van die wêreld, soos koper, kobalt en nikkel – metale wat in die batterye van elektriese motors gebruik word.

Ivan Glasenberg, uittredende uitvoerende hoof van Glencore

Maar hy produseer ook beduidende hoeveelhede termiese steenkool; ongeveer 106 miljoen ton verlede jaar. Die uittredende uitvoerende hoof, Ivan Glasenberg, se argument is dat steenkool 4% van die groep se inkomste verteenwoordig en dat sy maatskappy die beste bewaarder vir die bates is. Hy wys ook op die firma se aggressiewe netto koolstofteikens, wat kreatief vlak 3-standaarde teen 2050 insluit. Geen ander mynmaatskappy het hom daartoe verbind om die koolstofuitsette van sy metaal-eindgebruikers te beheer nie.

Steenkool in Glencore se portefeulje kan egter steeds die firma se gradering raak, veral omdat sy mededingers hulle aan die termiese-steenkool-sektor onttrek het soos BHP, en Anglo American gereed is om te doen. Anglo se uitvoerende hoof, Mark Cutifani, gaan waarskynlik vandeesmaand aandui wanneer hy beplan om van die Suid-Afrikaanse steenkoolbates ontslae te raak, heel waarskynlik op die JSE.

“As die diskonto op die aandele voortduur, en institusionele beleggers, finansiers en versekeraars probeer almal om van steenkoolbates af weg te diversifiseer, verwag ons dat ’n uitverkoop of ’n gelduitkering van die steenkoolonderneming sal lei tot ’n verdere heraanslag vir Glencore,” het Liberum, ’n beleggingsbank gesê.

Die mynbousektor is duidelik in ’n goeie posisie met betrekking tot nabye-termyn-opbrengste. Op langer termyn is dit egter steeds ’n bedryf wat in ’n oorgangstydperk is.

Steenkool is miskien ’n flentertjie van Glencore se groepinkomste, maar dis ook ongeveer ’n vyfde van verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie. In die lig van hoe belangrik steenkool vir verdienste is, sal Glencore waarskynlik een van die laaste van die gediversifiseerde myngroepe wees om sy rug op termiese steenkool te keer. Maar dis ook toevallig voor in die koor met batterymetale, wat volgens ontleders waarskynlik die steun van niemand minder nie as die Amerikaanse president, Joe Biden, sal kry.

Neal Froneman, Sibanye-Stillwater se uitvoerende hoof

Volgens RBC Capital Markets, is die klimaatskrisis een van die kernbeginsels van die Biden-administrasie. Die Withuis het reeds ’n magdom uitvoerende bevele uitgereik wat klimaat die kern van binne- en buitelandse beleid maak. “Vir Biden sal gemynde batterymetale waarskynlik nodig wees om spesifieke klimaatsbeleid soos die massa ingebruikneming van elektriese voertuie te bereik,” sê S&P Market Intelligence.

Daar is inderwaarheid ’n praalvertoning van moontlike metale wat almal om dié prys meeding. Voeg by metale soos koper, kobalt, nikkel en ander metale soos litium, seldsame aarde-metale en grafiet, mangaan en vanadium, ’n mineraal wat hoofsaaklik in die vervaardiging van staal gebruik word.

“Ons is voorwaar in ’n bulmark vir metale, wat ons vanaf die middel van verlede jaar naspoor,” sê Nivaash Singh, medehoof van hulpbronfinansiering by Nedbank. Maar hy is nie seker watter van die nuwe metale werklik bankwaardig is nie. “Die stof sal gaan lê, maar daar’s ’n groot bohaai oor batterymetale. Dis te vroeg vir handelsbanke om ’n sinryke siening van nuwerwetse kommoditeite te handhaaf.”

Sibanye-Stillwater se uitvoerende hoof, Neal Froneman, wonder seker watter perd om op te verwed terwyl hy sy groep se volgende stap oorweeg. Hy doen op 18 Februarie verslag oor sy verdienste.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Foto’s: glencore.com | sibanyestillwater.com

Meer oor:  Mynbou  |  Finweek  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.