Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
SA private hospitale: Grieperig in pandemie
30 Julie 2020
Foto: Gallo/Getty Images
Foto: Gallo/Getty Images

Die aandeelpryse van Suid-Afrika se genoteerde hospitale het skerp gedaal. Wat is die vooruitsigte vir hulle terwyl die koronavirus die land ruk?

Die vooruitsigte vir die aandele van Suid-Afrika se drie grootste genoteerde private hospitaalgroepe verswak terwyl operasies wat nie dringend is nie, uitgestel word, pasiënte die risiko vrees om die koronavirus in hospitale te kry, en hospitale sukkel om bedryfskoste te verhaal.

Een straaltjie hoop is dat mediese fondse se lidmaatskap bestendig bly omdat verbruikers probeer om beter gesondheidsorgdienste deur die private sektor as by openbare hospitale te kry.

Dit is te midde van baie flou ekonomiese vooruitsigte, toenemende werksverliese en ’n afname in verbruikersvertroue, wat druk op die geldsake plaas van baie mense wat private mediese sorg en versekering kan bekostig.

Tog het ’n skerp daling in die besettingsvlak van private hospitale – van die “normale” 65% tot sowat 40% by die aanvang van die regering se inperking – veroorsaak dat sommige hul uiters moderne mediese geriewe teen ’n verlies bedryf. Namate die koronaviruspandemie deur die land woed, het nuus van onvoldoende kapasiteit om siekes in openbare hospitale te huisves en te behandel, algemeen geword. Dit is al het die regering einde Maart ’n inperking ingestel waardeur die burgerlike vryheid van Suid-Afrikaners beperk word om vir die “opwel” van die pandemie gereed te maak.

Die opwel het aangebreek, maar die staat se voorbereidings skiet te kort. Private hospitale, wat ingeroep is om openbare pasiënte te aanvaar teen ’n tarief waarteen hul koste gedek word, het nog nie die ergste ondervind nie. “Die toename in Covid-19-gevalle in die laaste weke het ook tot ’n toename in hospitalisasie gelei, hoewel omtrent geen private hospitale werklik vol is nie (anders as wat onlangs in vals nuus beweer is),” sê Mark Wadley, fondsbestuurder by Vision Fund Management, aan finweek.

Vroeg in die inperking

Die instelling van die inperking, wat gereguleer word deur die “inperkingminister”, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat toesig oor die land se sukkelende munisipaliteite en tradisionele leiers hou, en die gepaardgaande verbod op alkoholverkope het private hospitale geknou. Die private hospitale is in die aanvanklike inperkingtydperk deur verskeie ongewone gebeurtenisse getref, sê Wadley.

“Hul gewone pasiëntlading uit motorongelukke, sportbeserings, aansteeklike siektes, soos longontsteking, en so meer het weens die inperking, aandklokreëls en verminderde beskikbaarheid van alkohol afgeneem,” sê hy.

Wayne McCurrie, portefeuljebestuurder by FNB Wealth and Investments

Wayne McCurrie, portefeuljebestuurder by FNB Wealth and Investments, sê wat interessant is, is dat “die inperkingbeperkings voor die opwelling ook minder ‘wintersiektes’ en gevolglik minder dokter- en hospitaalbesoeke tot gevolg gehad het”. Daarby het vrees sy tol van hospitale geëis. “Die oorkoepelende faktor wat hospitale se aktiwiteitsvlak sover beïnvloed, is vrees,” sê Carmen Mpelwane, senior aandeleontleder by Absa Asset Management, aan finweek.

Dit het daartoe gelei dat baie operasies wat nie as noodgevalle beskou word nie, in die inperkingtydperk gekanselleer of uitgestel word totdat pasiënte gerus is daarmee om na ’n hospitaal te gaan, sê sy. “Vir hospitale is dit die winsgewendste operasies om uit te voer,” sê Mpelwane. “Dokters oral in die land bevestig die druk op hul vermoë om inkomste te genereer weens baie min besoeke, veral plastiese chirurge en oftalmoloë.” Die afname in traumagevalle, nienoodsaaklike chirurgie en die vrees vir infeksie, asook die aanvanklike lae voorkoms van koronavirusgevalle teen einde Maart en in April en Mei het private hospitale se winsgewendheid kwaai getref. “Dit was waarskynlik ’n ‘Armageddon-scenario’ vir ’n hospitaalgroep, en die hospitale se besettingsvlak het tot veel minder as 50% gedaal,” sê Charl de Villiers, portefeuljebestuurder en aandeleontleder by Sanlam Investments, aan finweek. “Die verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) wat in die moeilike inperkingtydperk gegenereer is, was in sommige gevalle selfs negatief.”

Die opwelling

Charl de Villiers, portefeuljebestuurder en aandeleontleder by Sanlam Investments

Namate die ekonomie sedert Junie oopgestel is en die koronavirusinfeksie deur die land begin toeneem het, het die aktiwiteitsvlak in private hospitale begin styg, hoewel dit van ’n lae grondslag in April was, sê De Villiers.

Die inperkingbeperkings op vlak 3 – wat veronderstel is om burgerlike vryhede minder te beperk as die oorspronklike streng inperking op vlak 5 – het gelei tot groter vryheid van beweging, alkoholverkope (voor die nuutingestelde verbod) en die oopstelling van meer ondernemings, waaronder ondernemings vir persoonlike versorging, soos skoonheidsalonne en haarkappers, vir die publiek. Dit het dalk die situasie vir hospitale verander, al was besonderhede by die skryf van dié artikel nog nie bekend nie. “Dit is omdat toe ons na inperkingvlak 3 oorgeskakel het (met mense wat weer rondbeweeg, sosialiseer en drink, ensovoorts), die hospitaalgroepe aktief meer nienoodsaaklike chirurgiese werk begin doen het, terwyl hulle ook ’n toename in dringende mediese versorging weens motorongelukke en so meer ondervind het,” sê Wadley. “Die hospitale se besettingsvlak (in hoësorgeenhede en algemene sale) kan mettertyd volle kapasiteit bereik as die Covid-19-gevalle aanhou toeneem,” sê hy. “Dit kan tot beter winsgewendheid lei, maar ’n mens moet ook onthou dat die hospitale ook bykomende uitgawes het vir toerusting vir persoonlike beskerming, sterilisasie, sanitasie en toerusting – die verskaffing van suurstof vereis baie verbruiksgoedere, terwyl geventileerde pasiënte byvoorbeeld middels vir kalmering benodig.” Ondanks die hoër koste van die versorging van pasiënte met Covid-19 sal groter besetting dit uiteindelik vir private hospitale moontlik maak om bedryfskoste beter te bestuur.

Adam Pyle, uitvoerende hoof van die hospitaalgroep Life Healthcare SA

“Ons genereer inkomste uit elke pasiënt wat in ons geriewe opgeneem word, en gevolglik dra dit tot die verhaling van ons koste by,” sê Adam Pyle, uitvoerende hoof van die hospitaalgroep Life Healthcare SA, aan finweek. “Die toename in Covid-19-gevalle moet gebalanseer word met die afname in nienoodsaaklike gevalle. Met beter besetting kan die groep egter sy vaste en veranderlike koste beter bestuur.”

Simptome vóór die pandemie

Al word hospitale vol siek pasiënte, duur die strukturele kwessies voort waaronder private hospitale in die dae voor die pandemie gebuk gegaan het. Eerstens is daar die stagnante mediesefondsmark, wat nie skouspelagtige groei uit nuwe lede ondervind nie. Dié lede is die groot aandrywers van private gesondheidsorg in die algemeen en veral van private hospitale. Met die koste van gesondheidsorg – van medisyne en doktersbesoeke tot toerusting en hospitalisasie – wat al die grootste deel van die afgelope twee dekades toeneem, het mediese fondse – en selfs die regering – ongemaklik geraak. Dit het verlede jaar tot die bekendmaking van die Mededingingskommissie se ondersoek na die sektor gelei. Verbruikers het jaar ná jaar hoë premiestygings deur mediese fondse verduur terwyl die styging in die koste van gesondheidsorg – waarvan baie ingevoer word en aan die rand se wisselkoerseienaardighede onderworpe is – hoër as Statistieke SA se vebruikersprysindeks was.

Tatum Starkey, aandeleontleder by Balondolozi Investment Services

En private hospitaalgroepe se steun op mediese fondse se lede kan nie duideliker as met die volgende syfer aangedui word nie: “Sowat 95% van Netcare se betalings kom van mediese fondse, wat van werksgeleenthede in SA afhanklik is,” sê Tatum Starkey, aandeleontleder by Balondolozi Investment Services, aan finweek. Met dié dat die ekonomie tot einde Maart in drie opeenvolgende kwartale gekrimp het, en waarskynlik ook in die drie maande tot einde Junie sal krimp, neem werksverliese toe. ’n Onlangse Nids-Cram-studie, wat onder ’n verteenwoordigende monster van 7 000 Suid-Afrikaners gedoen is, dui daarop dat 3 miljoen mense hul werk in April verloor het.

Die regering het vroeër gewaarsku dat sowat 7 miljoen mense weens die pandemie werkloos kan raak. Dis uit ’n algehele arbeidsmag – volgens Statistieke SA se raming – van 23,4 miljoen mense teen einde Maart. As ’n mens die 2,9 miljoen ontmoedigde werksoekers bytel, is daar 26,3 miljoen mense wat kan werk – minder as die helfte van die land se geskatte 59,6 miljoen inwoners. Teen die einde van die eerste kwartaal was 38% van dié wat kan werk, ontmoedig om werk te soek of het gesoek maar nie gekry nie, toon Statistieke SA se data. Mediese fondse moet teen dié arbeidsmagprentjie nuwe lede lok wat premies betaal; of eerder dié behou wat betaal. Die aanduidings is bemoedigend. “Die uitvoerende hoof van Discovery Health Medical Scheme het onlangs gesê die groep se lidmaatskaptal het sover bestendig gebly,” sê Lonwabo Maqubela, navorsingshoof van Perpetua Investment Managers, aan finweek.

“Dit stem ooreen met die ervaring tydens die Groot Finansiële Krisis, toe mediese fondse se lidmaatskaptal met 1% tot 2% gedaal het.” Starkey sê verwagtinge wat op historiese pandemies gegrond is, dui daarop dat mediese fondse se lidmaatskaptal in die toekoms kan toeneem “namate mense die behoefte aan ’n mediese fonds weens die uitwerking van die pandemie begin heroorweeg”. ’n Tweede strukturele verandering voor die pandemie wat private hospitale raak, is hoe mediese fondse nuwe lede lok of dié behou wat nie die omvattender planne kan bekostig waaronder hulle gedek was nie.

“Mediese fondse se bestaande lidmaatskap het oorgeskakel van oop planne na netwerkooreenkomste, wat lede se keuse ten opsigte van gesondheidsorgverskaffers beperk, maar wat die belangrike gevolg het dat dit maandelikse premies verlaag en bekostigbaarheid verbeter,” sê De Villiers. Die sogenaamde “netwerkmigrasie-effek” beteken dat private gesondheidsorgverskaffers, waaronder private hospitale, ingevolge nuwe netwerkooreenkomste in baie gevalle dieselfde werk vir minder inkomste moet doen, sê hy. Terselfdertyd loop dié verskaffers die gevaar om beduidende markaandeel te verloor as ’n mededinger hul bod oortref in een van die handjie vol groot nuwe netwerktenders “wat dikwels in wese binêr ten opsigte van wenners en verloorders is”, sê hy.

Pyle sê dis nog te vroeg om iets te sê oor “die omvang van ’n moontlik afname in lidmaatskap”. Hul vorige ervaring was dat lede gewoonlik na ’n laer opsie sou oorskakel “om te sorg dat hulle steeds hospitaaldekking het”. “Inligting van mediese fondse dui sover nie op ’n drastiese afname in die lidmaatskap nie,” sê hy aan finweek. “Ons verwag egter in die huidige omgewing ’n effense daling in die lidmaatskaptal.”

Laastens het regulatoriese beperkings wat die regering op markaandeel en pryse ingestel het, private hospitaalgroepe gedwing om groeigeleenthede op nuwe terreine te soek. “Terreine soos geestesgesondheid, dagklinieke, rehabilitasie, primêre sorg, radiologie, patologie en so meer is alles terreine wat die bestaande spelers ondersoek om toekomstige inkomstegroei aan te dryf,” sê De Villiers. So, wat is die vooruitsig vir SA se drie grootste genoteerde private hospitaalgroepe teen dié agtergrond?

1. Die Switsers en die skuld

Die aandeelprys van Mediclinic International, die grootste genoteerde privatehospitaalaandeel op die JSE volgens sy markkapitalisasie van R40,1 miljard, het in die afgelope drie jaar met 55,8% gedaal. Dit het sedert begin vanjaar met 28% gedaal. Wat Mediclinic, waarvan die hoofkantoor nou in Londen is en in pond sterling verslag doen, die meeste belemmer, is sy skuld, volgens ontleders. Die groep het skuld van £1,95 miljard aan die einde van sy boekjaar in Maart verklaar – omtrent dieselfde as teen die vorige jaareinde. Hirslanden, die groep se Switserse bedrywighede, het swaar getrek vanweë regulatoriese veranderinge in die Alpynse federasie.

Carmen Mpelwane, senior aandeleontleder by Absa Asset Management

“Mediclinic het in die vorige jaar gesukkel omdat die mark nie daarvan oortuig was dat die Switserse bedrywighede waarde tot die groep toegevoeg het nie,” sê Mpelwane.

“Verskeie kantons (soortgelyk aan SA provinsies) waarin die groep bedrywig is, het bepaal waar sekere mediese prosedures uitgevoer kan word, soos daghospitale teenoor akute hospitale. Eersgenoemde is minder winsgewend vir hospitaalgroepe.” Tog het die maatskappy moontlike likiditeitsbeperkinge vroeg in die pandemie vooruitgeloop deur sy skuldooreenkomste, of finansiële voorwaardes wat leners as ’n vereiste vir lenings stel, te heronderhandel, en het die mark ingelig dat sy skuld afgekamp is.

Dit beteken dat die skuld van elkeen van sy afdelings – in SA, Switserland en die Verenigde Arabiese Emirate – aan hul bedrywighede gekoppel is. Die maatskappy het ook nienoodsaaklike kapitaalbesteding uitgestel en aan beleggers gesê hy het voldoende kontant – £515 miljoen – beskikbaar om die pandemie maklik te deurleef.

Die skuld bly egter vir sommige ontleders kommerwekkend. “Die druk op Mediclinic se balansstaat duur voort, en gevolglik bly skuldrisiko ’n sleutelaspek vir ’n belegger,” sê Starkey. “Die aankondiging dat hy kontantkonserwatief is, asook die feit dat die groep kwytskelding van ooreenkomste onderhandel het vir sy skuld wat betaalbaar is in Junie aanstaande jaar (wat 10% van die lenings bedra, die uitwerking van IFRS 16 uitgesluit) en September aanstaande jaar (die orige 90%), behoort te midde van die gespanne balansstaat ’n bietjie verligting aan beleggers te bied.” Mediclinic het nie by die skryf hiervan op finweek se vrae gereageer nie.

2. Life se reddingsboei

Die tweede grooste privatehospitaalgroep wat plaaslik genoteer is, is Life Healthcare, met ’n markkapitalisasie van R28,1 miljard. Sy aandeelprys het sedert begin vanjaar met 22% gedaal, en met 24,5% oor die afgelope drie jaar. Die maatskappy besit ook vir Alliance Medical, wat MRI-, CT- en PET-CT-skanderings in Brittanje, Ierland en Italië, asook op 11 persele in tien ander lande doen. Dié buitelandse diversifisering en gepaardgaande valutaskans teen randswakheid kan goed wees vir die hospitaalgroep. “Life Healthcare genereer nie net in SA inkomste nie; sowat 25% van sy inkomste en ebitda word internasionaal gegenereer,” sê Pyle. Die groep het benewens Alliance Medical ’n belang in die Poolse medieseafbeeldingmaatskappy Scanmed.

Life Healthcare het dit verlede jaar oorweeg om hom aan dié mark te onttrek ná groot tariefverlagings deur die Poolse regering, Scanmed se grootste kliënt, ’n paar jaar gelede. Dié planne is uitgestel sedert die pandemie die wêreld oorspoel het. Life Healthcare se Europese belange is erg geraak weens inperkings deur verskeie regerings, sê Mpelwane. “Die uitwerking daarvan, saam met verwagte laer besettingsvlakke, sal in die 2020-boekjaar tot ’n verdienstedaling lei. ’n Herstel word egter in die 2021-boekjaar na vlakke voor Covid-19 verwag. Die groep konsentreer daarop om koste in die afbeeldingbedrywighede te verminder terwyl hy kapasiteit vir die voerstof wat in sy winsgewendste afbeeldingaanbieding gebruik word, asook ander kosteverminderingsinisiatiewe afhandel.

Life Healthcare het aan die mark gesê hy is besig om te probeer om sy radiologieaanbieding na SA te bring as hy regulatoriese hindernisse kan oorkom, sê sy. Daarby is daar die moontlikheid dat Life Healthcare sinvol sal kan deelneem aan die produksie van ’n wêreldwye Alzheimersiektemedisyne, wat tans deur die goedkeuringsproses in Amerika gaan, sê Mpelwane. “Dit verteenwoordig potensiaal wat tans nie by die prys ingereken word nie.” Al dié faktore “maak dit ’n interessante maatskappy om dop te hou”, sê sy.

3. Die plaaslike ou

Die aandeelprys van Netcare, die derde grootste genoteerde private hospitaalgroep, met ’n markkapitalisasie van R20,65 miljard, het sedert begin vanjaar met 25,8% gedaal en met 42,8% oor die afgelope drie jaar. Die maatskappy het hom aan sy Britse bedrywighede onttrek en konsentreer nou op sy SA bates. “Netcare geniet al ’n ruk lank nie die mark se guns nie, al het hy die problematiese Britse privatehospitaalonderneming laat vaar wat hy in 2016 gekoop het, aandele teruggekoop, en sy dividenduitkeringverhouding vergroot,” sê Wadley.

“ ’n Deel van die rede is dat die maatskappy nou ‘net’ ’n SA gerigte gesondheidsorgmaatskappy is en daarom nie enige van die eienskappe van buitelandse diversifisering en randverskansing het wat Mediclinic en Life het nie.” Voeg daarby die flou makro-ekonomiese vooruitsigte vir die SA ekonomie, en dis begryplik hoekom beleggers Netcare as die goedkoopste van die drie hospitaalgroepe aanslaan.

Hy verhandel teen ’n verwagte prys-verdienste-verhouding van 8,95, vergeleke met Mediclinic se 9,75 en Life Healthcare se 27,2. Netcare is ondanks sy plaaslike ingesteldheid in die posisie dat hy die kleinste hefboomwerking, oftewel skuldvlak, van die drie hospitaalgroepe het. “Wat in sy guns tel, is dat die groep ’n lae verhouding van netto skuld tot ebitda volgens wêreldwye hospitaalstandaarde het, wat hom die aanpasbaarheid gee om sy vrye kontantvloei te gebruik om terugkope te doen of beter dividende uit te keer,” sê Wadley.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare

Intussen verwag die groep dat die pandemie die winsgewendheid gaan knou. “Die uitwerking van Covid op ons sake sal beïnvloed word deur die tydsberekening, piek en tydsduur daarvan,” sê dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, aan finweek.

“Marges sal beïnvloed word deur veranderinge in die volume en gevalmengsel. Om in die Covid-omgewing te werk, bring ook bykomende koste mee wat nodig en noodsaaklik is om gesondheidsorg in dié omstandighede te lewer. Hy sê voorts: “Al is dit uiters moeilik om die uitwerking op die finansiële resultate te voorspel, kan ’n mens billikerwys sê dat die algehele uitwerking van Covid negatief vir ons onderneming en die bedryf as ’n geheel sal wees.

Gelukkig het Netcare by die aanvang van die pandemie nie ’n hoë skuldvlak gehad nie, en het hy toegang tot groot, onbenutte, toegewyde bankgeriewe, wat ons saam met ons kontantbewaringmaatreëls in ’n goeie posisie plaas om potensiële verliese weens die huidige onsekere omgewing te weerstaan.” Dit kan ’n voordeel inhou om die enigste groep te wees wat net op SA ingestel is.

“Al is dit uiters moeilik om die uitwerking op die finansiële resultate te voorspel, kan mens billikerwys sê dat die algehele uitwerking van Covid negatief vir ons onderneming en die bedryf as ’n geheel sal wees.”

Mpelwane sê: “Netcare is die enigste suiwer plaaslike onderneming van die drie hospitaalgroepe en bied op grond hiervan die meeste duidelikheid oor die omgewing waarin hy tans bedrywig is. Dit was voor Covid positief vir die groep. Netcare het relatief gesproke die laagste skuldkoers en daarom ’n baie gemaklike balansstaat. Teen die huidige prysvlakke is daar waarskynlik ruimte vir groei wanneer die besettingsvlakke teen die einde van vanjaar en aanstaande jaar normaliseer.”

Afloop

Die hospitaalsektor verhandel teen aantreklike waardasies vergeleke met die verlede, sê Maqubela. “Ons meen dat die sektor vanweë die huidige gemaklike waardasies (nege keer die verdienste), saam met sakemodelle wat by die swakker omgewing aanpas, in ’n goeie posisie is om voordeel te trek uit ’n langtermyn-tendens van toenemende benutting van gesondheidsorgdienste,” sê hy.

Al sal die pandemie op kort termyn ’n negatiewe uitwerking op die sektor hê, verwag hy ’n relatief “vinniger” herstel. Dit sal daarvan afhang dat die voorafbestaande kwessies vir die private hospitaalgroepe binnekort voordeliger word.

Soos McCurrie sê: “Die afgelope dekade was wêreldwyd vir hospitaalgroepe moeilik, en dit het in die afgelope vyf jaar erger geword.” Dit sluit in toenemende weerstand deur mediese fondse en regerings teen stygende gesondheidsorgkoste, sê hy. “Regerings stel al hoe meer wetgewing in om die koste van die lewering van mediese dienste te beperk.

Dit was deeglik gevestig voordat die virus toegeslaan het. Ons is nie positief oor hospitaalgroepe nie.” Starkey som die algemene marksentiment op: “Ons vermy dit om gesondheidsorgaandele te koop, want daar is te veel onsekerheid en risiko.”

Meer oor:  Finweek  |  Aandeelpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.