Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Tenderafkamping, eerder as bemagtiging
25 Junie 2020
Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Beloftes is die soetste leuens, lui ’n inskrywing op my dogter se WhatsApp-profielfoto. Sy is net 14, maar dié boodskap het my getref – iets by dié introverte tiener wat my verras het. Die boodskap het my laat dink aan ’n reeks verbreekte beloftes deur ons verkose politici onder die dekmantel van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging, wat in die verskeie weergawes daarvan in die afgelope 26 jaar net ’n piepklein swart keurgroepie met politieke bande bevoordeel het terwyl die ongelykheid groter geword het tussen dié mense wat dit veronderstel was om te bevoordeel.

Die beleid se mislukking om die belofte te verwesenlik om swart ekonomiese deelname radikaal te vergroot, word ’n bron van frustrasie en ontnugtering onder die bedoelde swart bevoordeeldes.

Swart bemagtiging

Gevolglik begin ’n teenoorgestelde siening ontstaan dat bemagtiging heeltemal hersien of geskrap moet word om swart deelname te vergroot nadat die Covid-19-inperking opgehef en die ekonomie weer oopgestel is.

Dié alternatiewe antibemagtigingsiening het na vore gekom in ’n onlangse regstreekse Facebook-paneelbespreking, bekend as Lockdown Convo, waaraan ek saam met Thabo Masombuka, prokureur en voormalige beleidsbepaler in die departement van handel en nywerheid, en die entrepreneur Mxolisi Goodman Buthelezi deelgeneem het.

Die paneellede in die bespreking, wat deur Miso Tini gemodereer is, het saamgestem dat swart bemagtiging heeltemal ondoeltreffend is en vashaak.

Eenvoudig gestel: Die beleid moedig kwistige verbruik deur die swart elite aan, pleks van om swart mense te help om produsente en verspreiders van goedere en dienste te word.

Die beleid moedig kwistige verbruik deur die swart elite aan, pleks van om swart mense te help om produsente en verspreiders van goedere en dienste te word.

Bemagtiging dra nie by tot werkskepping en nywerheidsontwikkeling nie, en daarom bly Suid-Afrika sukkel om die hoë werkloosheidskoers en ongelykheid – tans met die wêreld se hoogste Gini-koëffisiënt van 0,63 – te verlaag.

Buthelezi was eerste op die aanval en het aangevoer dat bemagtiging antiswart is en hoofsaaklik wit ondernemings bevoordeel. Hy voer aan dat bemagtigingstelkaarte (wat in tenderbeoordeling gebruik word) tydens bieëry op kontrakte in die openbare én private sektor sterk ten gunste van maatskappye in wit besit is. Dit is omdat bemagtigingswette só opgestel is dat dit vir wit maatskappye maklik is om aan te voldoen en sodoende hoër graderings op hul bemagtigingstelkaart te kan kry tot nadeel van klein maatskappye met swart besit en bestuur.

Met ander woorde, wit maatskappye is uiteindelik swarter as swart maatskappye. Om sy stelling te staaf, het Buthelezi daarop gewys dat wit ondernemings, waarvan baie langer as swart maatskappye sake doen, die voordeel het dat hulle bemagtigingspunte kry wanneer botte beoordeel word volgens vereistes wat niks te doen het met hul vermoë om die werk te verrig nie.

’n Wit maatskappy met 25% swart eienaarskap sal byvoorbeeld ’n hoër bemagtigingsgradering vir die indiensneming van swart mense in senior bestuursposte, die opleiding van swart personeellede, en die opknapping van ’n skool in ’n arm, swart township kry.

Daarteenoor sal ’n maatskappy ten volle in swart besit wat nie meer mense oplei en skole of klinieke opknap nie, deur wit maatskappye getroef word omdat tenderbeoordelaars meen dat dit minder as die wit maatskappy doen om swart gemeenskappe te bemagtig.

Daarteenoor sal ’n maatskappy ten volle in swart besit wat nie meer mense oplei en skole of klinieke opknap nie, deur wit maatskappye getroef word omdat tenderbeoordelaars meen dat dit minder as die wit maatskappy doen om swart gemeenskappe te bemagtig.

Buthelezi is ten gunste van die ontknoping van die beleid – waardeur elemente van swart bemagtiging, soos aandeel- eienaarskap, vaardigheidsontwikkeling, bestuursbeheer, onderneming- en verskafferontwikkeling, en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling afsonderlik toegepas word en nie as ’n enkele, oorkoepelende beleid nie.

Aanpassings moet gemaak word

Al drie paneellede het saamgestem dat onderneming- en verskafferontwikkeling, wat oor voorkeurmarktoegang vir swart ondernemings gaan, aangepas moet word om tenders af te kamp, waardeur ’n deel van verkrygingsbesteding net vir verskaffers onder swart beheer gehou word.

Ek het aanbeveel dat 50% van verkrygingsbesteding in die openbare en private sektor afgekamp word vir swart verskaffers met minstens 51% swart besit, beheer en bestuur.

Daarby moet sowat 80% van verkrygingsbesteding geplaas word in die hande van verskaffers wat die goedere en dienste regstreeks produseer – nie tussengangers nie, wat die koste opblaas van goedere en dienste wat hoofsaaklik aan munisipaliteite en staatsdepartemente gelewer word.

Belastingbetalers ly onder dié plundery, terwyl die transaksies min of geen werksgeleenthede skep. Die afkamp van tenders moet strategies ingestel word om swart entrepreneurs te help om die produksiemiddele te besit, wat hulle in staat sal stel om fabrieke, banke, myne, supermarkte, telekommunikasiemaatskappye, plase en baie ander ondernemings te besit wat primêre produsente van goedere en dienste is.

Toegangsbeheerders belemmer nie net ekonomiese deelname nie, maar verswak ook werkskepping en ekonomiese groei.

Masombuka, wat ook ’n voormalige uitvoerende hoof van die Construction Sector Charter Council is, het aanbeveel dat die staat se wetstoepassing- en

Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkryging- en tenderpublikasiediens.

vervolgingsowerheid korrupsie in staatsverkryging hanteer. Hy het saamgestem met die idee om tenders af te kamp en gesê bemagtiging moet hersien word om die meeste Suid-Afrikaners op te hef, nie net ’n paar mense nie. Hy het egter beklemtoon dat die beleid ’n voorwaarde moet bly om sake in SA te doen, net soos in Maleisië, waarop SA beleidsbepalers bemagtiging gegrond het.

In Maleisië vergroot die beleid die ekonomiese deelname van etniese Maleisiërs in ’n ekonomie waar Chinese oorheers. Om te begin, moet die staat sy jaarlikse verkrygingbesteding van R800 miljard gebruik om toegangsbeheer en rookskerms te vermy om die markversperrings vir baie vaardige swart entrepreneurs te verminder wat by die produksie van goedere en dienste betrokke wil wees.

Toegangsbeheerders belemmer nie net ekonomiese deelname nie, maar verswak ook werkskepping en ekonomiese groei. As die regering ons aanbevelings aanvaar, kan swart bemagtiging baie help om dié beheerders te dwing om werkskeppende produsente te wees, eerder as kwistige verbruikers wat dadelik Range Rovers koop deur buitensporige prysverhogings van goedere wat aan die staat verskaf word.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkryging- en tenderpublikasiediens.

Meer oor:  Finweek  |  Tenderafkamping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.