Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Uitbranding is nou ’n ‘beroepsverskynsel’
8 Oktober 2020
Danie du Toit, geregistreerde bedryfsielkundige

Die meeste Suid-Afrikaners ervaar tans ’n soort angs – wanneer spanningsdruk net nie ophou nie. Hoewel stres ’n positiewe energie is wat ’n mens soggens laat opspring en jou die heel dag lank aan die gang hou, flits die gevaarligte wanneer die stres in angs omsit.

Die Covid-19-pandemie, langdurige fisieke inperking en stygende angsvlakke, het talle mense oor die randjie van angs tot in uitbranding gedruk. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het uitbranding onlangs herklassifiseer as ’n beroepsverskynsel eerder as ’n mediese toestand.

Dit het enorme gevolge vir die werkplek, sê Danie du Toit, ’n geregistreerde bedryfsielkundige. “Uitbranding sal waarskynlik ’n beroepsiekte word wat deur werkverwante stres meegebring is. Werkgewers sal dus waarskynlik daarvoor verantwoordelik gehou word, soos met ’n ongeluk by die werk.”

Die simptome waarna ’n mens op die uitkyk moet wees en wat ingryping verg, is onder meer toenemende sinisme en depersonalisasie, verminderde doeltreffendheid, uitputting en ’n verlies van emosionele en kognitiewe beheer.

Stres, angs … uitbranding

Renata Schoeman, ’n psigiater in private praktyk en hoof van die MBA in gesondheidsorgleierskap aan die Universiteit van Stellenbosch se bestuurskool, sê wanneer stres te veel, te onophoudelik, te intens en te gereeld raak, sit dit in angs om.

“Ons ervaar dan emosionele, geestelike en fisieke nagevolge van die stres.” Angs wat deurlopend en onafgebroke binne die werkplek ervaar word, word as uitbranding beskou wanneer depersonalisasie, verminderde doeltreffendheid en ernstige geestesuitputting en liggaamlike moegheid duidelik blyk. Mense wat uitgebrand is, voel afgesluit van ander mense, het nie lus vir kletspraatjies nie en raak onbetrokke by hul werk. Hulle sukkel om te konsentreer en het somatiese simptome soos slegte spysvertering, seksuele probleme, chroniese hoofpyn en spierspanning.

Renata Schoeman, psigiater in private praktyk en hoof van die MBA in gesondheidsorgleierskap aan die Universiteit van Stellenbosch se bestuurskool

Adri Albertyn, besturende direkteur van Maurice Kerrigan Africa, sê hulle ondersoek maniere om uitbranding korrek te identifiseer, aangesien dit dikwels verkeerd vertolk word. Top-presteerders word dikwels beskryf as: “Hulle was voorheen goed, maar het ontnugter geraak”, of “hulle kan nie meer mededingend wees nie”.

Organisasies hanteer dié “simptome” taamlik onsimpatiek, eerder as om te sorg dat gedrewe en ambisieuse mense die nodige ruskans kry – óf vir ’n nuwe leerervaring óf om ’n tyd lank net niks te doen nie, sê Albertyn. Schoeman het die afgelope maande toenemend gedragsveranderings by mense gesien – depressie, irritasie en eet- en drinkversteurings “om beter te voel”.

“Die aanvanklike verbod op alkohol het tot ’n paar goeie leefstylveranderings gelei. Mense het die ure waarin ons toegelaat was om oefening in te kry getrou gebruik, nie alkohol gebruik nie en party het selfs probeer ophou rook, hoewel die meeste hul sigarette op die swartmark gekry het,” sê Schoeman.

Gestaldt Management Consultants het ’n peiling onder hul kliënte in die finansiële sektor gedoen om die impak van Covid-19 en die staat van inperking te bepaal. Thapelo Mahlangu, besturende direkteur van Gestaldt, sê hulle het ’n beduidende toename gesien in mense wat “altyd” moeg voel. Een bestuurder het opgemerk wanneer hy sy spanne sou vra hoe hulle voel voordat hy die vergadering begin, hy kreune en klagtes sou kry oor hoe moeg en pap hulle voel.

Dat hy nie energie by hulle kon aanwakker nie, het hom hulpeloos laat voel. “Dit het enkelouers en enkellopende vroue erger getref, want hul leefstyl het drasties verander. Hulle het slawe van skootrekenaars geword,” sê Mahlangu.

Thapelo Mahlangu, besturende direkteur van Gestaldt Management Consultants
Die hantering daarvan

Die meeste stres wat mense voorheen ervaar het, was om te pendel en daagliks die verkeer te hanteer. Skielik het hulle met tegnologiese uitdagings te kampe gehad asook die algehele gebrek aan grense tussen hul werk- en private lewe. Baie wou ook bewys hulle is produktief en het langer ure begin insit. “Toe dié oorkompensasie ’n gewoonte begin word, het ons ál meer organisasies gesien wat die grense ignoreer,” sê Schoeman.

Baie mense het ook gevoel hulle werk harder, maar bereik minder. Du Toit sê ’n senior bestuurder het aan sy span erken hy was die afgelope twee maande nie “homself” nie. Hy het hulle gevra om hom op ’n skaal van een tot tien te beoordeel volgens foute wat hy maak. Hy het homself drie maande gelede nege uit tien gegee en nou sewe uit tien. Sy span het hom drie maande gelede ook nege uit tien gegee, maar nou drie uit tien. “Mense wat uitgebrand is, het eenvoudig nie die energie om iets te kontroleer en dubbel te kontroleer nie,” sê Du Toit.

Gewoonlik is dit die gesin wat eerste die tekens van uitbranding raaksien. “Die persoon kan dinge min of meer bymekaar hou by die werk, maar tuis val die wiele af.” Mahlangu sê hul peiling wys nie ’n toename in mense wat medikasie gebruik het om angs of depressie te hanteer nie. “Wat ons verneem het, was dat baie mense met ’n ‘goeie bottel wyn’ byderhand gewerk het.” Die peiling dui ook nie op ’n toename in mense wat om berading gevra het nie.

“Wat ons wel hoor, naas die wyn, is dat mense hul loopbane heroorweeg. Die inperkingstyd het hulle só swaar getref dat hulle ontdek het hulle hou nie werklik van wat hulle doen nie en ’n behoefte aan ’n verandering het,” sê Mahlangu. Du Toit se grootste kommer in dié stadium is die vlak van angstigheid wat die meeste Suid-Afrikaners ervaar.

“Ons is in ’n permanente staat van gereedheid. Dis soos om vir die 100 meter Olimpiese wedloop aan te tree en op die skoot te wag, maar dit klap nooit nie.” Stres en angs is nou ineengestrengel. Mense stres oor die daaglikse dinge, maar is ook toenemend angstig oor die toekoms. “Anders as in die verlede is die angs nou min of meer geregverdig,” sê hy.

Behandeling en herstel

Schoeman sê as ’n pasiënt uitgebrand het, voldoen hulle simptome aan die kriteria vir depressie, ’n aanpassingstoornis of bedrukte luim, of ’n angsversteuring. Dit moet as sodanig behandel word deur ’n huisdokter en sielkundige of deur ’n psigiater wat die korrekte medikasie en terapie kan voorskryf indien nodig. “Om iemand net af te boek om te rus, hanteer glad nie die uitbranding nie.”

Hospitalisasie gebeur selde, maar sy moedig mense aan om ’n psigiater te spreek vir ’n behoorlike behandelingsplan. Dit sal ’n sessie behels om vas te stel of die persoon medikasie moet kry. Die algemeenste medikasie sal ’n selektiewe serotonienheropname-inhibeerder of antidepressant wees, wat die simptome binne ’n week of twee kan verlig.

Die persoon benodig miskien ook korttermyn-medikasie vir slaap of angs. Dit is allerbelangrik om terapie te kry wat die persoon “hanteringsvaardighede” sal gee om die situasie wat die uitbranding veroorsaak het, te hanteer en stres beter te bestuur, sê Schoeman.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


Wie staan die grootste kans om uit te brand?

• Hoogs prestasiegedrewe

• Perfeksionisties

• Hardwerkend

• Groot behoefte aan erkenning

• Onrealistiese verwagtinge

Bron: Danie du Toit, geregistreerde nywerheidsielkundige.


Praktiese raad:

• Vind maniere om aktiewer te wees, selfs al stap jy net op en af tydens ’n foonoproep. ’n Deelnemer aan die Gestaldt-peiling sê haar treë per dag het van 5 000 tot 470 afgeneem terwyl sy van die huis af gewerk het.

• Haal die werk se e-posse van jou private selfoon af.

• Blok jou kalender uit oor middagete en na 17:00 smiddae.

• Doof WhatsApp-groepe aan die einde van jou werksdag.

• Sit die skootrekenaar weg. Dit gee sielkundig die boodskap: “Ek is klaar vir die dag.”

Bron: Thapelo Mahlangu, besturende direkteur van Gestaldt Management Consultants.

* Foto’s: Verskaf

Meer oor:  Finweek  |  Werkplek  |  Uitbranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.