Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
‘Uitverkoping’ wek min belangstelling
6 Desember 2018

Die JSE is besig met ’n uitverkoping. Winskope is volop, maar niemand wil koop nie.” Dit was die klag van die hoofmakelaar van ’n groot firma. Wat nie ongewoon is in ’n beermark nie.

Trouens, algemene moedeloosheid word deur sommige markkenners beskou as ’n simptoon van ’n beermark waar goeie waarde beskikbaar is. Vir instellings soos waardetrusts bied die JSE dus op die oomblik ’n vrugbare weiveld. Die belangrike vraag tans is hoeveel verder die mark kan daal en wanneer die beermark gaan eindig.

Dit is onmoontlik om te voorspel, maar een ding wat seker is, is dat dit wel gaan eindig en dat ’n nuwe bulmark gaan aanbreek. Gelukkig toon die geskiedenis dat beermarkte meestal kort duur. As daar na van die ernstige beermarkte van die verlede gekyk word, blyk dit dat die laaste een, dié van 2008 toe die JSE se indeks van alle aandele binne ses maande met sowat 47% geval het, gou herstel het.

Winskope is volop, maar niemand wil koop nie.” Dit was die klag van die hoofmakelaar van ’n groot firma. Wat nie ongewoon is in ’n beermark nie.

Hy het vir sewe maande sywaarts beweeg en daarna met ongeveer 240% gestyg tot ’n hoogtepunt in Januarie vanjaar. Die vorige beermark het in Oktober 1987 begin toe die mark, tot groot konsternasie onder beleggers, in een dag met 27% geval het.

Hy het verder gedaal en binne vier maande ’n laagtepunt bereik wat ’n daling van 46% beteken het in vergelyking met sy jaarhoogtepunt. Daarna het herstel ingetree en in Augustus 1989 het hy die hoogtepunt van Oktober 1987 verby gesteek. Die pyn was dus, net soos die van 2008, van redelik korte duur.

Hoe pervers die mark egter kan wees, blyk daaruit dat die vorige ernstige beermark, wat in 1969 begin het, die beurs ’n dekade gekos het om te herstel. Bygesê, dit is voorafgegaan deur een van die wildste bulmarkte in die bestaan van die JSE. Elke Jan Rap en sy maat het vrolik gespekuleer en pryse soms duiselingwekkend opgedryf.

Die lesse uit die verlede is dat beermarkte oor die algemeen aansienlik korter duur as bulmarkte.

Die lesse uit die verlede is dat beermarkte oor die algemeen aansienlik korter duur as bulmarkte. Soos reeds gesê, kan niemand voorspel hoe lank die huidige verswakking gaan duur nie, wat baie mense ontstel omdat die beer hul portefeuljes (en pensioenfondse) so verrinneweer.

Daar bestaan egter ’n opvatting dat die algemene verkiesing in Mei aanstaande jaar belangrik vir die mark sal wees.

Tree president Cyril Ramaphosa sterk daaruit kan ’n Ramaforie weer beleef word. Kry hy egter teëspoed, kan dinge sleg verloop. Intussen, het ’n wyse maar baie suksesvolle ou markspeler opgemerk, moet al wat ’n beursbelegger is maar probeer om die beermark geduldig deur te sien.

Sedert my November-rubriek was daar darem ’n effense verbetering in die getal aandele onder die 100 grootstes wat bokant hul 200-daagse eksponensiële bewegende gemiddelde lê. Dit is nou 24% teenoor die vorige 16%, wat nietemin bevestig dat

die beer steeds baas is. Implats het verras deur as die sterkste aandeel na vore te kom.

Diegene wat in Augustus die aandeel gekoop het toe hy ’n laagtepunt van 1 561 sent bereik het, toon nou groot wins. Onder die swakste aandele is dit waarskynlik British American Tobacco wat die meeste aandag trek. Hy het in die afgelope twaalf maande met sowat 50% geval.

Wat op die oomblik belangstelling wek, is ’n lae prysverdienste-veelvoud en ’n dividendopbrengs van 7% sonder dat daar aanduidings is dat hy sy uitkering gaan verlaag.

Onder die aandele wat deurgebreek het, lyk Life Healthcare, RMBH, Truworths en Dis-Chem die interes- santste.

  • terugvoer@finweek.co.za. Lucas de Lange is ’n voormalige redakteur van finweek en die skrywer van twee boeke oor belegging.

Meer oor:  Ramaphosa  |  Finweek  |  Jse  |  Winskope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.