Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Verhandel inflasievrese só
18 Maart 2021
Peet Serfontein is ’n onafhanklike markontleder en strateeg.

Die onlangse opskudding in aandelemarkte weens die oplewing van die Amerikaanse staatseffekte blyk ’n belangrike fokuspunt vir markte in die nabye toekoms te wees. Sterker ekonomiese data kan moontlik dié staatseffekte nog hoër laat styg.

Opbrengste (of koerse) van staatseffekte word om baie redes deur beleggers gevolg. Die opbrengste word deur die Amerikaanse regering betaal as rente vir die leen van nuwe geld deur die verkoop van hierdie effekte. Amerikaanse staatseffekte is lenings aan dié land se regering. Looptye van effekte wissel van weke tot soveel as 30 jaar.

Aangesien hierdie effekte deur die Amerikaanse regering gerugsteun word, word dit as ’n veiliger belegging as aandele beskou. Effektepryse en -opbrengste beweeg in teenoorgestelde rigtings – dalende pryse verhoog die opbrengste, terwyl stygende pryse die opbrengste verlaag. Die 10-jaar-opbrengs word as maatstaf vir rentekoerse gebruik. Dit word ook gesien as ’n teken van beleggersentiment oor die ekonomie.

’n Stygende opbrengs dui op dalende vraag na staatseffekte, wat beteken beleggers verkies beleggings met ’n hoër risiko en hoër beloning. ’n Dalende opbrengs dui op die teenoorgestelde.

Optimisme vir ’n ekonomiese herlewing neem toe ná ’n jaar van skipbreuk wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is. Die Internasionale Monetêre Fonds verwag dat die wêreldekonomie vanjaar met 5,5% sal groei ná ’n beraamde inkrimping van 3,5% verlede jaar. Maar die verwagtinge vir sterker groei (plus die hoër inflasie wat daarmee gepaard kan gaan) stoot rentekoerse hoër, wat beleggers dwing om weer met ’n vergrootglas na hul aandele, effekte en ander beleggings te kyk.

Die verskuiwing na energie-, finansiële en ander aandele, wat voordeel trek uit die ekonomiese “herlewing”, het versnel, terwyl die vinnige styging in die effekte-opbrengste druk plaas op tegnologiese aandele wat die mark vir jare gelei het. Dus in kort, die aandelemark is baie sensitief vir ’n vinnige styging in effekte se opbrengste, maar die tegnologiese aandele is veral sensitief daarvoor. Maar het die Federale Reserweraad (Fed) nie gesê dat hy nie rentekoerse gaan verhoog nie?

Ja, die Fed het direkte beheer oor korttermynrentekoerse, en die voorsitter, Jerome Powell, het onlangs genoem dat hulle nie haastig is om dit te verhoog nie. Hulle is ook nie van plan om die maandelikse effekte-aankope van $120 miljard te verminder, wat gebruik word om termynkoerse af te druk nie. Dit blyk tog dat die aandelemarkte steeds optimisties is.

Baie beleggers stem saam met Powell en verwag dat die inflasionêre druk slegs tydelik sal wees. Dit sal hopelik help om die effekte se opbrengste te keer om na abnormale hoë vlakke te styg. In die algemeen is stygende rentekoerse egter ’n knou vir maatskappye omdat dit lenings duurder maak. Dit is veral pynlik vir maatskappye soos beleggingsfondse van vaste eiendom, of Reits, waarvoor baie geld en dikwels skuld nodig is, om te bedryf. Dit is waar die US10Y CFD my oog gevang het.

Maak net asseblief seker dat jy wel die instrument verstaan voordat jy ’n posisie inneem. As die prys daal, dan beteken dit dat rentekoerse styg. As die prys styg, is dit wanneer rentekoerse daal. Wat maak die effekte aanloklik? Hou in gedagte dat hierdie strategie as riskant geklassifiseer word. As jy van mening is dat rentekoerse wel vir ’n langer periode laag gaan bly, dan moet jy die CFD kortverkoop.

Dus verwag jy dat inflasie gaan afplat. As jy meen dat rentekoerse gaan verhoog, dan moet jy die CFD koop. Die huidige siening is dat die onlangse verhoogde opbrengskoers van hierdie 10-jaar-effek net tydelik was. Dus blyk dit dat laer rentekoerse op die horison wag.

Maar moet jy verkoop (kortverkoop)?

Die CFD bly in ’n opwaartse kanaal (’n aanduiding van verhoogde rentekoerse). Die CFD het sedert Augustus 2020 begin styg (dus ’n eerste aanduiding van hoër rentekoerse). In November 2020 het die 10-jaar-effek bo sy 200-dag bewegende gemiddelde inbeweeg – tans teen 0,83%. Dus is hoër rentekoerse eintlik van toepassing. Die verandering in die tendens is teen 1,6%.

Solank die opbrengs dus onder hierdie vlak bly is daar ’n bultendens (sterker) jeens rentekoerse te wagte. Bo hierdie vlak moet ’n mens maar wakker wees vir swakker rentekoerse (beertendens).

Moontlike winsneming kan teen 1,5% en 1,4% plaasvind, wat op groot ondersteuningsvlakke is. ’n Breek onder 1,4% kan dan mik vir die 200-dag bewegende gemiddelde.

Gebruik 1,7% as ’n vlak vir ’n stop-verlies. Dit is aan die bokant van die geboë kanaalpatroon. Neem kennis dat die verwagte prysaksie (potensiële profytteikens op die grafiek) nie tydsverwant is nie. Die grafiek is die mediumtermyn- (daaglikse) grafiek van die effek se prys in opbrengs. Neem kennis dat die skaal ’n logaritmiese skaal is.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Peet Serfontein is ’n onafhanklike markontleder en strateeg.

Meer oor:  Inflasie  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.