Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Verhandeling van aandele: Moenie stroomop swem nie
7 Februarie 2019

Tegniese ontleding vorm die helfte van die eerste pilaar van vier pilare waarop die suksesvolle verhandeling van aandele berus, soos ek in die eerste artikel van dié reeks genoem het.

Dit is dus ons wegspringplek, maar ons pak nog nie nou al die ingewikkelde goed nie. Ons begin eers by die begin: die tendens. ’n Marktendens of marktendens is wanneer die prys van ’n sekuriteit oor ’n tydperk aanhoudend in dieselfde rigting beweeg (sien kassie onder).

’n Goeie voorbeeld is Naspers* se aandeelprys. Oor die afgelope twee dekades of so het die prys van Naspers se aandele bestendig gestyg. Selfs al het die prys die afgelope jaar of wat taamlik gedaal, is die algemene tendens oor ’n tydperk van 20 jaar dat Naspers se aandele hoër neig.

Wanneer die prys van ’n sekuriteit ’n opwaartse tendens toon, sê ons dit verhandel in ’n stygtendens. Daarteenoor praat ons van ’n daaltendens as die prys van ’n sekuriteit ’n dalende tendens toon. Op die lange duur toon Naspers dus ’n sterk stygende tendens.

’n Tendens word deur drie fases gekenmerk:

1. Die “hoofbeweging” of primêre tendens is die algemene rigting wat die prys oor ’n lang tydperk inslaan. ’n Primêre tendens kan van net minder as ’n jaar tot verskeie jare duur en die beweging in die prys kan óf afwaarts óf opwaarts wees.

2. Die “mediumswaai-”, sekondêre reaksie/tendens of tussentydse reaksie/tendens is wanneer die prys op korter termyn die teenoorgestelde rigting as die hoofbeweging inslaan. Dit kan van tien dae tot drie maande duur. Sekondêre tendense kan van 33% tot 66% wegbeweeg van die prystendens, of prysverandering sedert die vorige sekondêre beweging, of begin van die hoofbeweging af.

3. Die “kort swaai”, of kleiner beweging, of tersiêre tendens, duur van enkele ure tot ’n maand of langer (hieroor bestaan verskillende menings). Naspers se grafiek illustreer hoe die drie verskillende soorte tendense met mekaar in ’n wisselwerking tree. Bekyk ons die grafiek, kan ons sien die primêre tendens is opwaarts, want met verloop van tyd het die aandeelprys gestyg. Binne dié hoofsaaklik opwaartse tendens is daar egter tye wanneer die aandeelprys gedaal het. Dit is die sekondêre tendense wat binne die primêre tendens gevorm het.

Bekyk ons die saak van nog nader, sien ons binne die sekondêre tendense kort tydperke waarin die prys óf afwaarts óf opwaarts beweeg het.

Dit is tersiêre tendense wat slegs korter tydperke duur. Uit die grafiek kan ons ook sien die drie prystendense kom gelyktydig voor. Ons kan dus ’n opwaartse tersiêre tendens, in ’n afwaartse sekondêre tendens, in ’n opwaartse primêre tendens kry. Gaaf! Nou weet ons basies hoe tendense werk, maar hoekom is dit belangrik?

Petri Redelinghuys is ’n verhandelaar en die stigter van Herenya Capital Advisors.

Wel, ’n algemene reël is om nooit teen die tendens in te verhandel nie. Die eerste stap is dus om te bepaal wat die primêre tendens is wat ’n sekuriteit se prys volg. Jy hoef nie 20 jaar se data te bekyk nie, sowat drie tot vier jaar se data behoort voldoende te wees. Om veilig te speel, sal ’n handelaar nie sommer in die teenoorgestelde rigting as die primêre tendens verhandel nie.

As die tendens opwaarts is, moet jy net lank gaan (koop met die doel om teen ’n hoër prys te verkoop). As die primêre tendens egter afwaarts is, moet jy net kort gaan (verkoop met die doel om teen ’n laer prys terug te koop). Die doel van tendensontleding is om die draaipunte te vind waar sekondêre tendense eindig en primêre tendense voortgesit word. Dit is die plekke waar die kanse die beste is om ’n aandeel met sukses te verhandel.

Meer aggressiewe handelaars sal probeer om die tersiêre tendense binne die sekondêre tendense te verhandel, maar dit is ’n aktiewer benadering en gaan met groter risiko gepaard. Onthou, suksesvolle handelaars waag nooit meer as wat hulle kan bekostig om te verloor, of soveel dat hulle onherstelbare skade aan hul portefeulje doen nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Petri Redelinghuys is ’n verhandelaar en die stigter van Herenya Capital Advisors.

* finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Sekuriteite in ’n neutedop

’n Sekuriteit is ’n bate wat op ’n beurs genoteer is, soos ’n aandeel in ’n maatskappy, of ’n effek, opsie, termynkontrak of geldeenheid.

Oor die algemeen is al die sekuriteite van ’n spesifieke soort presies dieselfde, byvoorbeeld aandele in ’n maatskappy; dit is gevolglik maklik om hulle op ’n sentrale mark soos ’n sekuriteitebeurs van die hand te sit.

Eenvoudiger gestel: ’n aandeel in ’n maatskappy is presies dieselfde werd as enige ander aandeel in dieselfde maatskappy wat betref die waarde en regte wat so ’n aandeel aan sy eienaar bied. 

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.