Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Verhandeling van tendensomswaaie
6 Junie 2019
Petri Redelinghuys is ’n handelaar en die stigter van Herenya Capital Advisors.

In die uitgawe van 18 April het ek langtermyn-pryspatrone, veral tendensvoortsettingspatrone, begin bekyk, en ook hoe ons hulle kan verhandel. In hierdie uitgawe bekyk ons tendensomswaaipatrone.

Tendensomswaaipatrone

1. Wigformasies

Wigformasies is taamlik veelsydig. Die verskil tussen tendensvoortsettingswîe en tendensomswaaiwîe is die rigting van die tendens wat na die wigformasie lei vergeleke met die helling van die formasie self. As die tendens byvoorbeeld oor ’n paar weke styg en die prysomvang saamgepers raak terwyl dit nog effens styg, kan dit ’n stygende wig vorm.

Dit beteken dat die koopkrag wat die aandeelprys laat styg, stadig afneem en uiteindelik sal verdwyn. Tydens die vorming van ’n stygende wigpatroon sal die verhandelingsvolume gewoonlik geleidelik afneem.

Hoe om dit te verhandel: ’n Uitbreking word met ’n keerverlies bo die hoogste hoogtepunt (of laagste laagtepunt) in die formasie verhandel. Die teikenprys word konserwatief bereken deur die prysomvang van die eerste volle beweging tussen die skuins steun- en weerstandslyn (die eerste beweging wat albei kante van die konsolidasie raak – aan die breë kant van die wig) te meet en dit in die rigting van die uitbreking te projekteer.

2. Kop en skouers

Die kop-en-skouerspatroon is waarskynlik die gewildste en bekendste omswaaipatroon. Handelaars “sien” egter dikwels ’n kop-en- skouersformasie waar daar nie een is nie.

Die basiese uitgangspunt van ’n kop-en-skouerspatroon is dat ’n Dow-teorietendensomswaai plaasvind.

Met ander woorde: die voortgesette hoër hoogtepunte en hoër laagtepunte wat die instrument behaal, loop – in die geval van ’n positiewe tendens in die instrument wat ontleed word – ten einde en ’n laer hoogtepunt word aangeteken. Dit dui op grond van die tendensontledingsreëls wat Dow-teorie bepaal daarop dat die positiewe tendens die gevaar loop om om te swaai. Visueel lyk dit soos twee pieke wat omtrent ewe groot is aan albei kante van ’n groter piek. Dit lyk dus soos twee skouers en ’n kop daarbo.

’n Kop-en-skouersformasie is net geldig as al drie die volgende eienskappe voorkom:

1. ’n Volumevermindering deur die vorming daarvan heen.

2. ’n Duidelik omskrewe neklyn (die laagtepunte vorm ’n bodem op omtrent dieselfde vlak).

3. Dit word nie in die middel van ’n konsolidasiegebied of in ’n sywaartse mark op langer termyn gevorm nie. Daarteenoor kan ’n geldige omgekeerde kop-en-skouerspatroon net aan die onderkant van ’n daaltendens gevorm word en moet ’n volumevermeerdering deur die vorming daarvan voorkom.

Hoe om dit te verhandel: Begin verhandel in die teenoorgestelde rigting as die tendens wat tot die formasie lei nadat daar deur die neklyn gebreek is. Soos die geval met alle langertermyn-formasies is, sal ’n verbreking van die formasie met ’n hoër as gewone of gemiddelde verhandelingsvolume ’n betredingsein wees.

Let wel: Dikwels toets die prys eers weer die neklyn voordat dit in die rigting van die uitbreking voortgaan en ’n nuwe tendens vestig. Die keerverlies sal net bo die bopunt van die regterskouer (die mees onlangse een) geplaas word.

3. Dubbele boonste en onderste draaipunte

Formasies met ’n dubbele boonste of dubbele onderste draaipunt word gevorm wanneer die prys twee keer ná mekaar van omtrent dieselfde prysvlak wegspring (of weggekeer word).

Baie eenvoudig gestel: As die prys in ’n stygtendens beweeg en ’n weerstandsvlak aan die bokant tref, ietwat terugsak, weer probeer om deur die weerstandsvlak te styg, en dan weer in sy vaart gestuit word, bestaan die moontlikheid van ’n dubbelbopuntpatroon.

Die patroon sal bevestig word as die prys daal onder die laagtepunt wat tussen die twee toetse van die weerstandsvlak gevorm is. Nadat dit deur die laagtepunt tussen die twee weerstandspunte gesak het, sal die tendens na verwagting omswaai.

Hoe om dit te verhandel: Wanneer ’n dubbelbopuntformasie verhandel word, sal ’n handelaar ’n kort posisie inneem wanneer die prys deur die neklyn breek. ’n Uitbreking met groot volume word weer verkies, en dikwels sal die neklynvlak weer getoets word voordat die nuwe tendens posvat.

Om risiko te bestuur, moet die keerverlies by die middelpunt tussen die weerstandsvlak (dubbelbopuntvlak) en die neklyn geplaas word. Die teenoorgestelde is op ’n dubbele onderste draaipunt van toepassing.

Om risiko te bestuur, moet die keerverlies by die middelpunt tussen die weerstandsvlak (dubbelbopuntvlak) en die neklyn geplaas word. Die teenoorgestelde is op ’n dubbele onderste draaipunt van toepassing.

4. Breër wordende patrone

Breër wordende patrone, of megafoonpatrone, begin met ’n klein konsolidasie wat met verloop van tyd breër word. Die nou punt van die formasie is dus aan die begin en die breër punt is aan die einde van die formasie.

Dié formasies is ietwat meer seldsaam, maar is taamlik betroubare aanwysers dat ’n tendensverandering kan plaasvind.

Hoe om dit te verhandel: ’n Handelaar sal ’n posisie inneem in die teenoorgestelde rigting van die tendens wat die formasie betree het. In die geval van ’n stygtendens wat omswaai nadat ’n breër wordende patroon gevorm het, sal ’n handelaar ’n kort posisie inneem nadat daar deur die laer rand van die patroon gebreek is.

Die keerverlies moet halfpad tussen die twee rande van die breedste deel van die patroon geplaas word waar die prys aan sowel die bo- as onderkant geraak het. ’n Teiken kan geprojekteer word deur dieselfde beweging te meet en dit laer uit die patroon te projekteer. Die teenoorgestelde sal geld in die geval van ’n breër wordende patroon wat ná ’n daaltendens vorm.

5. Bilaterale patrone

Bilaterale patrone is langertermyn-patrone waarin die waarskynlikheid ewe groot is dat die prys ná die vorming van die patroon in enige rigting sal beweeg. Gevolglik is hulle nie baie nuttig om potensiële markveranderinge te voorspel nie.

Hulle is egter nuttig om veranderinge te meet, of om te voorspel hoe groot ’n verandering sal wees nadat die rigting waarin dit uitgebreek het, bevestig is. Stygende en dalende driehoeke kan in sommige gevalle as bilaterale patrone geklassifiseer word, asook as vlagvorme (of simmetriese driehoeke).

Hoe om dit te verhandel: Die les hier is werklik net dat handelaars met een van dié soorte patrone ’n bietjie versigtiger moet wees en seker moet maak dat hulle net die rigting van die uitbreking steun wat met groter as normale verhandelingsvolume ten tyde van die uitbreking bevestig is.

Meer oor:  Tendensomswaaipatrone  |  Finweek  |  Verhandelig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.