Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Anglo American: Volhoubare trajek oorweeg
20 Februarie 2020

April is klaarblyklik ’n belangrike maand vir Anglo American want dit is wanneer hy sy volhoubaarheidsverslag publiseer.

Vanjaar is die fokus skerp op wanneer die maatskappy sy oorblywende Suid-Afrikaanse termiesesteenkoolbates gaan verkoop. Daar is ook die vraag hoe die groep sy vrystellingsbeheer gaan bekendstel, veral nadat sy uitvoerende hoof Mark Cutifani krities was oor BHP se pogings om sy koolstofvoetspoor te verminder.

Mark Cutifani Uitvoerende hoof van Anglo American

Cutifani het destyds gesê dat die voormalige uitvoerende hoof van BHP, dr. Andrew Mackenzie, se belofte om Scope 3-maatreëls te neem “nie reg voel nie”. Mackenzie se plan was om van mynuitlaatgasse (Scope 1) en die vrystelling van derdepartyverskaffers (Scope 2) na die vrystelling van derdepartyverbruikers uit te brei.

Kwessies wat aangepak moet word 

Cutifani het die goeie voornemens ingesien, maar in ’n onderhoud met finweek was dit duidelik dat sy mening oor hoe mynmaatskappye kwessies soos klimaatsbeheer moet aanpak, nog onveranderd is.

“Vanuit ons oogpunt dink ons dit is belangrik om die weë wat ons kan skep en waar ons ’n impak op Scope 3 kan hê, te verstaan, en wanneer ons ’n besluit kan neem oor, sê maar, om koolstofneutraal te wees,” het hy gesê.

“Ek het gesê ek kan soos al die ander wees en sê dat ons teen 2050 koolstofneutraal kan wees, en ons kan. Ons weet wat die pad is. Maar vir my voel dit hol; dit is onopreg, en dit verduidelik nie aan mense en help hulle nie om te verstaan wat ons doen nie." 

Ek het gesê ek kan soos al die ander wees en sê dat ons teen 2050 koolstofneutraal kan wees, en ons kan.

“Dit is die werk wat ons vandag doen. Dit voel net onopreg, amper asof jy net wil praat sonder om ’n uitgestippelde pad te hê. Vir my is dit nie wie ons is nie.” Dit sal waarskynlik ’n korttermynplan wees, wat Cutifani glo meer realisties is as grootse, maar uiteindelik onbereikbare doelwitte.

Cutifani het gesê Anglo sal gevolglik hou by ’n korttermyn- en meer beskeie doelwit om energieverbruik teen 2030 met 30% te besnoei. Wat Anglo kan doen met betrekking tot sy SA termiesesteenkoolmyne is ’n nog dringender vraag.

'n Regverdige oorgang 

Verlede jaar het hy “ ’n regverdige oorgang” belowe en gesê dat dit waarskynlik beter sal wees om voort te gaan om die myne op ’n verantwoordelike manier te bedryf, terwyl hy terselfdertyd sê dat daar nie nuwe beleggings sal wees nie. Dit lyk egter asof die tydsgees Anglo se mediumtermyn-strategie ten opsigte van die steenkoolmyne ingehaal het.

Dit lyk egter asof die tydsgees Anglo se mediumtermyn-strategie ten opsigte van die steenkoolmyne ingehaal het.

Hoewel hy voorheen gepraat het van vyf of meer jaar van eienaarskap, het disinvestering deur ewekniegroepe beleggersbewustheid aangewakker en die druk verhoog om ’n besluit te neem.

In antwoord op ’n vraag of die volhoubaarheidsverslag ’n tydlyn vir die verkoop van die bates sal stel, het Cutifani gesê: “Ons sal vanjaar ’n nuwe pad bepaal, maar terselfdertyd moet dit saam met ons belanghebbendes gedoen word.

“Ons mening vanjaar gaan oor duidelikheid en hoe ons vorentoe gaan, en ons neem die menings van elk van hierdie belanghebbendes in ag by die bepaling van ons pad. Maar ons is in ’n oorgangsproses, daar is geen twyfel daaroor nie. Ons was baie duidelik daaroor.”

Mynboukrag vir SA se netwerk

Ná die regering se voorstel vir ’n onafhanklike energiemaatskappy, sê baie mynmaatskappye die regering moet hulle toelaat om grootskaalse onafhanklike krag te produseer.
Die Suid-Afrikaanse mynbedryf het geen ander keuse as om ondersteuning te gee aan Gwede Mantashe, minister van energie en minerale bronne, se voorstel om aan privaatkapitaal die geleentheid te bied vir ’n “onafhanklike” energiemaatskappy nie.

Per slot van rekening is daar so min besonderhede bekend oor die voorstel dat dit dwaas sou wees om dit heeltemal van die hand te wys. Die algehele gevoel is egter dat die mynbousektor sou verkies dat die departement van minerale bronne en energie op maklike teikens moet fokus: Maak dit met ander woorde moontlik om onafhanklike krag te produseer op ’n skaal wat beplan word deur, byvoorbeeld, Vedanta Resources.

Deshnee Naidoo, uitvoerende hoof van Vedanta se Zinc International-afdeling, het vroeër in Februarie aan finweek gesê haar maatskappy “sal die hand opsteek” vir die ontwikkeling van ’n hibridiese model vir energie-opwekking wat dit moontlik sal maak om die 200 MW se krag te lewer wat nodig is vir die maatskappy se smelteruitbreiding in die Noord-Kaap.

“Dit is presies wat die regering moet doen,” sê Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Minerale Raad van SA. “Lewer die nodige onafhanklike krag, en teen inkrementele koste, voeg nog 50 MW by wat tot die nasionale netwerk kan bydra,” het hy gesê.

Die regering vereis tans dat mynmaatskappye aansoek doen om ’n lisensie indien hul onafhanklike energievereistes 1 MW oorskry. “Versnelling van die ontknoping is die antwoord vir Eskom eerder as om ’n aparte maatskappy te stig, asook die deregulering van toegang tot die netwerk,” sê Mike Fraser, bedryfshoof van South32.

“Mynmaatskappye moenie net vir hul eie gebruik genereer nie, want as hulle op die regte punt van die kostekurwe kan genereer, moet die markoperateur (Eskom) dit kan koop,” het hy gesê.

“Lewer meer as wat jy nodig het, en verkoop dit teen inkrementele koste aan die netwerk.” Mantashe het intussen belowe om sy planne vir ’n onafhanklike energiemaatskappy uit te brei. 

Meer oor:  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.