Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Vooruitsigte vir private gesondheidsorg
7 November 2019

Die kern van kapitalisme is dat innoverende individue ’n behoefte in die mark identifiseer en vul. Sodanige innovering en risikoneming kom dikwels teen ’n premie.

Een van dié behoeftes in ons mark is private gesondheidsorg, omdat staatsgesondheidsdienste nie tred hou met die vraag nie. Die Mededingingskommissie se gesondheidsmarkondersoekverslag, ’n meerjarige poging wat onlangs vrygestel is, sê dat openbare hospitale nie met private hospitale kan meeding nie, omdat hulle nie die gehalte van sorg bied om teen die groot hospitaalgroepe mee te ding nie.

Die kommissie, ’n openbare instansie wat nie op vrae vir hierdie artikel gereageer het nie, het toe beskryf wat verkeerd is met die verskaffing van mediese dienste deur die groot privaathospitaalgroepe.

Doelstellings by hospitale

Die ondersoek het bevind dat Netcare ’n markaandeel van 31% van alle privaathospitaalbeddens en 33% van alle nie-staatsopgeneemde pasiënte in 2016 gehad het.

Mediclinic het 26,8% van hierdie beddens gehad en 28,6% van private pasiënte opgeneem. Life Healthcare het 25,3% van alle private beddens besit en 28,5% van pasiënte opgeneem wat nie van die staat afhanklik was vir hul gesondheidsorg nie.

Die drie grootste privaathospitaalondernemings het dus 83,1% van privaathospitaalbeddens gehad en 90,1% van privaatgesondheidsorgpasiënte opgeneem. Die ondersoek, ook genoem die HMI, het bevind dat “mededinging grotendeels misluk het” in die privaathospitaalmark.

Mediclinic stem nie saam nie. “Mediclinic en ander belanghebbendes het data-ontledings en navorsingstudies deur kundige mededingings- ekonome aan die HMI voorsien, wat duidelik toon dat die HMI se ontledings en gevolgtrekkings rakende markkonsentrasie verkeerd en verouderd is,” het die maatskappy oor die ondersoek gesê.

Professor Indres Moodley, direkteur van die navorsingseenheid vir gesondheidsuitkomste aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, deel die ondersoek se bevinding oor konsentrasie. “Die privaatgesondheidsektor word grotendeels deur hospitaalgroepe en spesialisdokters beheer,” sê hy. “Albei is baie kragtig, weerstaan altyd veranderinge en laat geen ander keuse as regulering nie.” Moodley verduidelik dat die hospitaalsektor ’n oorkapasiteit het en ’n permanente behoefte het om beddens te vul.

“Daar is duidelik ’n behoefte aan rasionalisering, wat ongetwyfeld die hoë winsmarges in hierdie sektor sal beïnvloed,” sê hy. Aandeelbeleggers was nie goed vir die genoteerde hospitaalgroepe sedert hierdie ondersoek vyf jaar gelede begin het nie. Netcare se aandeelprys het die afgelope vyf jaar 42% verloor, Mediclinic is 22% in die rooi en Life Healthcare het met 40% gedaal.

Die plaaslike senuweeagtigheid het daartoe gelei dat hierdie ondernemings hul bedrywighede in groener oorsese weivelde uitbrei. Mediclinic het selfs sy primêre notering na die Verenigde Koninkryk (VK) verskuif ondanks die vrees dat die VK die Europese Unie sal verlaat.

Mediclinic het beleggings in gesondheidsorg in Suid-Afrika, die Verenigde Arabiese Emirate, die VK en Switserland. Life Healthcare het na Pole uitgebrei en besit ’n belang in Alliance Media, een van die grootste verskaffers van kliniese beeldvorming in Europa. Netcare, daarenteen, het sy private gesondheidsorgonderneming in die VK te koop aangebied.

Die belangrikste kritiek teen private hospitale in die ondersoek was die gebrek aan hul geografiese verspreiding. Een van die aanbevelings is ’n voortsetting van die verspreiding van reguleerders deur die regering.

Die ondersoek stel voor ’n aanbodkant-gesondheidsorgreguleerder.

Maar dit laat die vraag ontstaan: Hoe doeltreffend sal so ’n ekstra laag van beheer wees, gegewe die feit dat daar reeds soortgelyke liggame bestaan? Die Suid-Afrikaanse regulerende owerheid vir gesondheidsprodukte is byvoorbeeld “verantwoordelik vir die regulering van gesondheidsprodukte bedoel vir menslike en dierlike gebruik, die lisensiëring van vervaardigers, groothandelaars en verspreiders van medisyne, mediese toerusting, bestralingstoestelle en radioaktiewe nukliede, en die uitvoering van kliniese toetse,” volgens sy jaarverslag.

Vir die boekjaar 2018-’19 het die ouditeur-generaal gesê dat hierdie reguleerder “nie oor voldoende interne beheerstelsels beskik vir die optekening van alle transaksies en gebeure nie en die transaksies en gebeure nie met die finansiële state kon versoen nie”, volgens die owerheid se jaarverslag.

Die regering het gedurende die afgelope finansiële jaar R125 miljoen aan hierdie liggaam oorgedra. Die aanbodkantreguleerder moet besluit of ’n aansoek om ’n privaathospitaallisensie, wat tans binne die besluitnemingsfeer van die provinsiale gesondheidsdepartemente is, toegeken kan word al dan nie. Hy sal besluit of daar voldoende privaathospitale in ’n spesifieke gebied is, en of daar ’n behoefte bestaan om ’n hoeveelheid privaatbeddens na landelike gebiede te verskuif.

Gerrit van Emmenis, uitvoerende hoof van die genoteerde daghospitaalgroep Advanced Health, sê geleenthede vir uitbreiding bestaan in ’n beoogde behoefte-gebaseerde lisensiëringsomgewing. “Mens sou verwag dat hospitaallisensies in die toekoms hoofsaaklik aan ‘sentrums van uitnemendheid’ en daggeriewe toegestaan sal word, met die klem op kostedoeltreffendheid, aangesien daar in die algemeen voldoende akute hospitale in die land is,” sê hy.

“Ek sou aanvaar dat die bestuur van private hospitale in afgeleë dele van die land gepaard sal gaan met die ekonomiese ontwikkelingstendense en op grond van toegang tot dié geriewe. “Daar moet egter benadruk word dat die reguleerder verstandige kommersiële kriteria moet gebruik wat uitbreiding in onderontwikkelde gebiede moet toelaat, maar ook nie die uitbreiding moet stopsit nie waar daar ’n vraag is in ’n gebied wat reeds bedien word,” sê hy.

Geld, geld, geld

Die ondersoek het bevind dat die groot hospitaalgroepe, as gevolg van hul winsgewendheid, “mededinging verdraai en voorkom” deur die beste mediese spesialiste te lok en te behou deur middel van “winsgewende aanmoedigingsprogramme met gepaardgaande uitsluitingsuitwerking op innoverende nuwelinge”.

Die verslag het verder bevind dat die skaarsheid aan gesondheidspraktisyns verklaar kan word deur hul reaksie op hierdie oorgeërfde aansporings. Die verslag het ook bevind dat die wetlik voorgeskrewe minimum voordele waaraan mediese skemas moet voldoen, een van die onbedoelde aandrywers van gesondheidsorgkoste is, veral deur hoër hospitaalkoste.

Die afwesigheid van ’n risiko-aanpassingsmeganisme, of eerder iets soos ’n herversekeraar waar die versekeringsrisiko van lede deur alle mediese fondse gedeel word en wat ook gedwing word om voorgeskrewe minimum voordele teen kosprys te betaal, het daartoe gelei dat mediesefondspremies gekorreleer word met die risikoprofiel van die lede van ’n spesifieke fonds, het die ondersoek gesê.

Jeremy Yatt, die hoof van Fedhealth Medical Scheme

Jeremy Yatt, uitvoerende hoof van Fedhealth Medical Scheme, sê ’n risiko-aanpassingsmeganisme is ’n baie ingewikkelde manier om skemas met hoër ouderdoms- of risikoprofiele te probeer beskerm.

“Hoewel die teorie en rede daarvoor prysenswaardig is, moet dit so gestruktureer word dat dit nie ondoeltreffendheid in die stelsel vasvang nie,” sê hy. “En daar moet voorsorgmaatreëls wees om te sorg dat die stelsel nie ‘aangepas’ word tot voordeel van bepaalde groepe of fondse nie.”

Verpligte lidmaatskap, hoewel dit ingewikkeldheid meebring, is waarskynlik ’n doeltreffender manier om die risikopoel billiker te maak, sê Yatt. As dit eers bereik is, kan dit makliker wees om die risiko-aanpassingsmeganisme te implementeer, aangesien die teenstrydighede minder prominent sal wees. Daar is meer as 9 miljoen begunstigdes van mediese skemas in Suid-Afrika, sê Charlotte Sanqela, finansiële hoof van Discovery Health Medical Scheme.

“ ’n Risiko-aanpassingsmeganisme kan beslis werk in ’n bevolking van 9 miljoen, en sal van kritieke belang wees om so ’n meganisme te begin as daar enige soort gestandaardiseerde skemavoordeel in alle skemas gaan wees, soos die HMI aanbeveel,” sê sy. Die ondersoek se aanbeveling van ’n gestandaardiseerde skemavoordeel stem ooreen met die beoogde dekking van die Nasionale Gesondheids-versekeringswetsontwerp soos uiteengesit in artikel 7.

Die ondersoek beveel aan dat so ’n standaardvoordeel katastrofiese gebeure en ’n mate van buitehospitaal- en primêre gesondheidsorg moet dek. Enige bykomende voordele wat ’n lid wil koop, kan volgens risiko aangeslaan word. Dit beteken sy moontlikheid van dood, ouderdom en gesondheidsgeskiedenis moet in ag geneem word – en dit moet maklik tussen die verskillende mediese skemas vergelykbaar wees.

By ’n jong bevolking wat ernstig deur werkloosheid geraak word, is die groei van mediese skemas gedemp, en dit beïnvloed die risikoprofiel van die huidige bevolking van mediese skemas, sê Lee Callakoppen, uitvoerende hoof van Bonitas Mediese Fonds.

’n Ouer bevolking het hoër risikoprofiele, wat ’n groter uitleg van hulpbronne vereis om risiko’s te bestuur en voldoende dekking te verseker, verduidelik hy. “Gegewe die verskille in die huidige bevolking van die mediese skemas en die beperkte inkomste en risiko- kruissubsidiëring, word die aanbeveling om ’n risiko- aanpassingsmeganisme in werking te stel, gesteun,” sê hy. “Dit sal help om voorsiening te maak vir lede- risikoprofiele oor die bedryf heen om gefragmenteerde risikopoele uit te skakel en ’n markoplossing te skep om te sorg dat aankope in die private gesondheidsversekeringsbedryf meer effektief en deursigtig word.”

Wanneer vraag geskep word

Madelein Barkhuizen, uitvoerende bestuurder van verkope, verspreiding, bemarking en kommunikasie by Bestmed Medical Scheme

Een van die belangrikste bevindings van die ondersoek is dat sommige professionele gesondheidswerkers, soos algemene praktisyns en spesialiste, onnodige vraag na gesondheidsorgdienste skep, ook bekend as vraag wat aan die aanbodkant veroorsaak is.

“Die ondersoek se bevinding oor die vraag ‘wat aan die aanbodkant veroorsaak is’, is van belang,” sê Madelein Barkhuizen, uitvoerende bestuurder van verkope, verspreiding, bemarking en kommunikasie by Bestmed Medical Scheme. “Mens vind dikwels dat ’n nuwe hospitaal of ’n nuwe hospitaalafdeling binne ’n baie kort tydjie nadat sy deure geopen het, ten volle beset is, terwyl die omgewing nie soveel verander het nie.”

Bonitas se Callakoppen stem saam: “Volgens ons ervaring bestaan daar vraag wat aan die aanbodkant veroorsaak is binne die sektor en dit word weerspieël in die manier wat lede dienste gebruik en hoe dit koste aandryf. Die ervaring toon dat waar daar ’n disproporsionele toename in die aantal nuwe beddens in vergelyking met die versekerde bevolking is, dit ’n invloed op opnames en skemas se uitgawes het.”

Die spoedige in werking stelling van ’n konsekwente en gesentraliseerde nasionale geriefslisensiëringsraamwerk sal baie help om die vraag aan die aanbodkant te takel, sê hy. “Maar dit moet deur ander ewe belangrike ingrypings gesteun word, soos ’n hersiening van die voorgeskrewe minimum voordele, sowel as hervormings aan die verskaffers se vergoedingsinstrumente.”

“Daar is duidelik ’n behoefte aan rasionalisering, wat ongetwyfeld die hoë winsmarges in hierdie sektor sal beïnvloed.”

Die wetsontwerp en die skemas

Die vraag is nou of mediese fondse sal oorleef in ’n Suid-Afrika met universele gesondheidsorgdekking, soos beoog in die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering.

Artikel 33 van die voorgestelde wetgewing bepaal dat sodra “nasionale gesondheidsversekering ten volle in werking gestel is . . . mediese skemas slegs aanvullende dekking kan bied vir dienste wat nie deur die fonds vergoed sal word nie”. In artikel 8 (2) word daar egter gesê dat ’n persoon wat nie geregtig is op gesondheidsorgdienste wat deur die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds gekoop is nie en wat nie voldoen aan die verwysingsvereistes wat deur ’n gesondheidsorgverskaffer voorgeskryf word nie, dienste soek wat nie medies noodsaaklik geag word nie of behandeling soek wat nie by die fonds se formules ingesluit is nie, vir sulke dienste moet betaal deur middel van ’n vrywillige mediese versekeringskema of ander privaatversekeringskema.

“Daar is onsekerheid oor die vraag of skemas voordele kan bied wat in die NHI gedek word, maar wat deur nie-deelnemende dokters aangebied word, al dan nie,” sê Fedhealth se Yatt. “As hulle kan, sal ek sien dat dit op dieselfde manier werk, omdat dit onwaarskynlik is dat lede van ’n mediese fonds op ’n staatskema sal staatmaak.” Die rede vir artikel 33 van die wetsontwerp is baie moeilik om te verstaan, sê hy.

Daar kan nie van mediese skemas verwag word om slegs voorsiening te maak vir siektes of toestande wat die NHI nie dek nie, aangesien dit slegs tot massiewe anti-seleksie sal lei, verduidelik hy. Anti-seleksie verwys na waar iemand by ’n mediese fonds sal aansluit met kennis van sy of haar mediese toestand wat ’n mediese skema nie het nie, byvoorbeeld net voordat iemand swanger raak. Dit lyk ook asof daar onsekerheid is oor die voordele wat NHI bied, en dit kan van jaar tot jaar verander, sê Yatt.

Dit sal lei tot ’n totale gebrek aan finansieringskennis, aangesien skemas nooit in daardie omgewing sal oorleef nie, sê hy. Ander hoop dat die finale wetgewing voorsiening sal maak vir dubbele mediese versekering. “Ons standpunt is dat skemas toegelaat moet word om dubbele dekking te bied,” sê Bonitas se Callakoppen. “Dit sal help om lidwaarde aan te dryf deur die aanmoediging van mededinging tussen die fonds en skemas, sowel as om innovasie aan te dryf om koste-effektiewe, bekostigbare produkaanbiedings in die openbare en private sektor te verseker.”

Met verwysing na die bewoording van artikel 33 oor aanvullende dekking en waar fondsgebruikers nie verwysingsvereistes volg nie, is Discovery se Sanqela meer optimisties: “Hierdie elemente van die wetsontwerp dui almal ’n voortgesette en belangrike rol vir mediese skemas en hul bestaande strukture in die afsienbare toekoms aan.” ¦ terugvoer@finweek.co.za

Vooruitsigte vir die aandeelpryse

Suid-Afrika se genoteerde private hospitale verhandel tans teen ’n aantreklike prys-verdienste-verhouding (p/v) in vergelyking met dié van ander plaaslike aandele.

Ten spyte van hierdie waardasies gooi die kommer oor toekomstige prysingsvermoëns en volumes ’n skaduwee oor die pryse.

Volumegroei word weerspieël deur die begunstigdes van die mediese fondse, wat volgens data van die Raad vir Mediese Skemas, wat die fondse reguleer, van 8,78 miljoen in 2013 met 140 000 lede tot 8,92 miljoen verlede jaar toegeneem het.

As die vermindering van die getal oop en beperkte mediese skemas van 144 in 2000 tot 79 verlede jaar bygereken word, wys dit hoe die skemas se bedingingsmag met hospitale versterk het.

“Net drie jaar gelede was die private hospitale se verwagtinge nog baie hoog,” sê Andrew Joannou, fondsbestuurder by Investec Asset Management. “Die hospitale het toe goeie pryse en sterk kontantvloei gehad.” Maar dit kan voortaan vir hulle moeiliker word, verduidelik hy.

“Die prysingsverwagtinge vir hierdie ondernemings is baie laag. Dit is moeilik om volumes in Suid-Afrika te verhoog, en hul prysingsvermoëns is nie wat wonders nie. Dit is moeilik vir hulle om marges te handhaaf, ”sê hy. Investec het ongeveer twee maande gelede aandele in Mediclinic en Netcare gekoop toe hul pryse op vyfjaarlaagtepunte was, sê hy. 

Meer oor:  Finweek  |  Gesondheidsorg  |  Medi-Clinic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.