Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Vyf foute wat beleggers maak
22 Oktober 2020

Wanneer dit by die bestuur van ons persoonlike beleggings kom, is ons dikwels soveel daarop toegespits om die ‘regte’ ding te doen, of ander wat dit doen, na te volg, dat ons nie besef ons kan in werklikheid ons verdienste verhoog deur klein foutjies vroeg reeds uit te skakel nie. In dié uitgawe bekyk ek vyf sulke foute wat ek meen baie beleggers met die bestuur van hul eie beleggings maak, veral in ’n aandeleportefeulje.

1. Slegte nuus lei tot slegte besluite

Slegte nuus kan beleggers dikwels só kwel dat hulle van die fundamentele faktore vergeet. As ons die langtermyngrafiek van die FTSE/JSE se indeks van alle aandele (JSE) bekyk en dit met ’n tydlyn van negatiewe gebeure vergelyk, is dit duidelik dit sou ’n groot fout gewees het om te verkoop.

Die Amerikaanse presidentsverkiesing kom vinnig nader en ek kan nie help om aan die vorige ene terug te dink nie. Die verrassende nuus dat Donald Trump oor Hillary Clinton op 8 November 2016 geseëvier het, het termynkontrakte op die Dow Jones-nywerheidsindeks onmiddellik met sowat 800 punte (of meer as 4%) laat tuimel, net om die volgende dag weer met 256 punte op te skiet.

Trouens, dieselfde indeks verhandel tans, byna vier jaar later (teen 6 Oktober 2020), ruweg 64% hoër in Amerikaanse dollarterme. Beleggers wat op die ‘slegte nuus’ gereageer het deur te verkoop, sou dit vandag berou het.

2. Hoër gelde beteken nie noodwendig laer opbrengste nie

My vaste oortuiging is dat as jy jou beleggingskoste monitor en bestuur, jy verseker op die lange duur daarby sal baat. Dit beteken egter nie hoër bestuursgelde is altyd ’n slegte ding nie. Neem byvoorbeeld die SA algemene-aandele-effektetrust-sektor.

Die afgelope tien jaar kon net ses fondsbestuurders dit regkry om beter as die JSE te presteer. Interessant genoeg was hul gemiddelde totale kosteverhouding (TKV) oor die laaste 12 maande (teen ’n gemiddeld van 1,46%) byna drie keer hoër as die gemiddelde TKV van beursverhandelde fondse (ETF’s) in dieselfde sektor. Duur is dus miskien nie altyd beter nie, maar dit is beslis nie altyd slegter nie.

3. Nie bereid om minstens tien jaar te wag nie

Bekyk ons die grafiek wat die opbrengs op aandele oor tydperke van een, twee, vyf en tien jaar toon, is dit duidelik dat hoe langer aandele gehou word, hoe minder wisselvallig is die opbrengs en hoe kleiner die kans op kapitaalverlies.

Trouens, wanneer ’n mens die JSE oor die afgelope 34 jaar beskou, het aandele nooit oor enige 10-jaartydperk ’n negatiewe prestasie getoon nie. Die slegste wat jou belegging oor ’n aaneenlopende tydperk van tien jaar sou doen, was 4% per jaar (sonder dividende).

Voeg jy dividende van sowat drie persentasiepunte by jou opbrengste, was jou slegste prestasie 7% per jaar, mits jy jou aandeleportefeulje oor die tienjaartydperk behoorlik gemonitor het.

4. ’n Markregstelling noodsaak nie ’n regstelling in jou portefeulje nie

’n Regstelling of selfs ’n algehele ineenstorting van die mark vind gewoonlik plaas wanneer die meeste kopers verkas het en pryse deur verkopers gedryf word. Kom ons sê jy het jou huiswerk gedoen, jy het binne jou risikoprofiel belê en niks nuuswaardigs het met die maatskappy waarin jy belê het gebeur nie.

Waarom op aarde sal jy wil verkoop? Uit vrees? Selfs as jy aan die begin van vanjaar in die JSE belê het en tot einde Maart moes toesien hoe jou belegging met byna 30% daal, sou jy alleenlik ’n verlies gemaak het as jy toegelaat het dat vrees die oorhand oor jou kry en jy jou aandele verkoop het, want die mark is nou terug op die vlakke wat ons begin vanjaar gesien het.

Schalk Louw is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth.

5. Om ongeduldig te wees, kan jou duur te staan kom

Bloot omdat ’n spesifieke aandeel of belegging nie doen wat jy wou hê dit moes oornag doen nie, of selfs wat ander aandele op ’n gegewe tyd doen nie, beteken nie jy moet dit verkoop nie. Kom ons gebruik die S&P 500 oor die afgelope 20 jaar as ’n voorbeeld. As jy R10 000 in die S&P 500 aan die begin van 2000 belê het, het jou beleggingswaarde voortdurend van R7 500 tot R12 500 gewissel.

Dit sou trouens jou hart gebreek het om te sien jou belegging is na die eerste tien jaar veel minder werd as wat jy aanvanklik belê het. ’n Ongeduldige belegger sou dié verlies waarskynlik te gelde gemaak het, maar sodoende die kans misgeloop het om vandag ’n portefeulje ter waarde van meer as R65 000 te hê.

Dit is verstaanbaar dat beleggers benoud en ongeduldig kan raak, veral met die geraas en onstuimigheid wat ons tot dusver vanjaar ervaar het. Dit kan uiters moeilik wees om in dié tye geduldig te bly, maar dis waar wat die spreekwoord sê, alle goeie dinge kom langsaam.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Schalk Louw is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth.

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.