Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Vyf uitstaan-kunstenaars om dop te hou
20 Desember 2018

Kemang Wa Lehulere

Volgens die kunskonsultant Matthew Krouse was 2018 die jaar waarin die 34-jarige Kemang Wa Lehulere hom gevestig het as ’n kunstenaar om dop te hou.

Dié veelbekroonde kunstenaar is in 2015 as die Standard Bank Jong Visuele Kunstenaar en in 2017 as Deutsche Bank se Kunstenaar van die Jaar aangewys.

Hy het in 2017 ook die vierde Malcolm McLaren-toekenning vir sy werk I Cut My Skin to Liberate the Splinter ontvang. In Januarie vanjaar het die Stevenson-galery in Kaapstad Wa Lehulere se solo-uitstalling Here I am, a concrete man, throwing himself into abstraction aangebied. In 2016 het Aspire Art Auctions sy Never ending dead-end vir R17 565 en The knife eats @ home (1) vir R18 736 verkoop.

Lien Botha

Lien Botha se Birds fragile like glass/Saartjie, 2
Lien Botha se Birds fragile like glass/Saartjie, 2018

Met tien solo-uitstallings op haar kerfstok, het die fotograaf Lien Botha (57) ver gekom sedert sy in 1997 as die Standard Bank Jong Kunstenaar bekroon is.

Haar werk is ’n deurlopende soeke na herinnering, betekenis, ervaring, voorwerp en plek. Dit bring werklike plekke in tyd en ruimte in herinnering om dit deur ingewikkelde netwerke van assosiasie en narratief te herverbeel. Haar mees onlangse solo-uitstalling, Yonder, was in 2014 in die Barnard-galery.

In 2016 het die Modern Forms Collection in Londen, wat aan die beleggingsbestuurder Hussam Otaibi behoort, Botha se Wonderboom-reeks vir R195 000 gekoop.

Die reeks van 18 foto’s is by die 1:54 Contemporary African Art Fair uitgestal en Nick Hackworth, kontemporêrekuns- kurator en Modern Forms-direkteur, beskryf dit as “ ’n besonder aangrypende fotografiese uitbeelding van verlies; terselfdertyd subtiel en direk”.

Zanele Muholi

Volgens Krouse het die fotograaf Zanele Muholi (46) in 2018 “merkwaardige dinge” gedoen. Sy het onder meer haar nuwe boek Somnyama Ngonyama, Hail the Dark Lioness bekend gestel, met 100 selfportrette daarin.

In elke portret verken sy haar eie beeld en moontlikhede as ’n swart vrou in vandag se wêreldsamelewing, in ’n nadruklike teëspraak teen eietydse en historiese rassisme. Muholi sê sy wil met haar werk mense aanspoor om dapper genoeg te wees om te skep en ruimtes te beset sonder vrees vir verguising.

“Om mense aan te moedig om kunshulpmiddels, soos kameras, te gebruik om terug te baklei,” sê sy. In 2015 is Muholi se Isililo X vir R40 000 op die WAM-donateursveiling verkoop. ’n Jaar later is haar werk Miss D’vine I vir £3 125 (R55 000) verkoop. Die waarde van haar werk styg skerp, met Thembeka I, New York Upstate from Somnyama Ngonyama wat vanjaar op die Phillips London Ultimate Evening & Photographs Day Sales vir $13 476 (R186 373) verkoop is, 63% meer as verwag.

Simphiwe Ndzube

Verskeie kunskenners met wie finweek gesels het, beskou dié 28-jarige as ’n opkomende ster. Sy werk word gekenmerk deur ’n fundamentele tussenspel tussen objekte, media en twee- dimensionele oppervlakke, wat saam ’n verhaal van swart mense se ervaring in Suid-Afrika ná apartheid vertel.

Hy kombineer skilderkuns, collage en driedimensionele kuns in surrealistiese kunswerke wat al met Hieronymus Bosh se “nare visioene van die hel” vergelyk is, terwyl sy Eclipse al met Goya se Los desastres de la guerra (Rampe van oorlog) vergelyk is.

Ndzube, wat in Oktober vanjaar met die Tollman-toekenning vereer is, het in 2015 aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste afgestudeer – dieselfde jaar as waarin die Nasionale Galery sy werk Raft, geskoei op die Franse romantiese skilder Theodore Gericault se Le Radeau de la Méduse (Die vlot van die Medusa), aangekoop het.

Sy eerste solo-uitstalling was in Junie (in Sjanghai) en hy het vanjaar in Amsterdam, Los Angeles en New York uitgestal. Sy uitstalling Unchartered Lands and Trackless Seas, open in Januarie 2019 by die Stevenson-galery.

David Goldblatt

Met David Goldblatt se heengaan in Junie vanjaar het die kunswêreld dié fotograaf se werk en die waarde van sy loopbaan in oënskou begin neem, sê Krouse.

Goldblatt het in Februarie ’n groot tentoonstelling by die Centre Pompidou in Parys gehou en sedert sy dood is verskeie uitstallings wêreldwyd ter viering van sy werk aangebied.

’n Groot retrospektiewe uitstalling van Goldblatt se werk getiteld David Goldblatt: Photographs 1948 – 2018 het in Oktober in Sydney geopen met belangrike swart-en- wit- en kleurfotoreekse, asook klassieke vroeë afdrukke en materiaal uit sy persoonlike argief wat voorheen ongesiend was.

In 2017 het Sotheby ’n afdruk van sy Diepsloot vir £17 500 (R308 350) verkoop, byna dubbel die verwagte prys.

In Februarie vanjaar is sy Saturday Morning at the Hypermarket: Semi final of the Miss Lovely Legs Competition, Boksburg June 28, 1980 vir R295 568 en sy The Road to Nqondwana, Transkei vir R329 672 verkoop. Op ’n onlangse veiling van Aspire Art is ’n seldsame handgedrukte foto deur Goldblatt getitel Carvings for sale on William Nicol Drive, Bryanston, 3 July 1999 vir R82 075 verkoop, byna vyf keer die geraamde prys.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.